Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Akademia-simposium bou aan die laerskoolonderwys-legkaart vir die toekoms

Akademia se Fakulteit Opvoedkunde het op 17 Mei ʼn simposium met die tema “Die laerskoolonderwys-legkaart: Bou die toekoms saam” by Leriba in Centurion aangebied. By hierdie geleentheid het skoolhoofde en ander kenners hulle kennis en ervaring met laerskoolonderwysers en -onderwysleiers gedeel.

Die dag is op ʼn hoë noot afgeskop met die optrede van Laerskool Wierdapark se skoolkoor. Die eerste spreker van die dag was prof. Gawie du Toit, dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde. Hy het oor die konseptualisering van die Baccalaureusgraad in Opvoedkunde (BEd) vir die vorming van laerskoolonderwysers gepraat. Du Toit het by tema van die legkaart aangesluit en beklemtoon dat ontwikkeling van Akademia se BEd-programme vanuit ʼn kurrikulum-teoretiese perspektief deur die vormingsideaal gerig is. Voornemende onderwysers moet kundig wees in die vakke wat hulle gaan onderrig, dieper insig verkry in die samehang van dinge en doelbewus meewerk aan die vorming van hulle karakter.

Volgens Du Toit beteken dit dat daar veral op die samehang tussen die verskillende komponente van die kurrikulum gefokus is en dat daar ook ʼn duidelike progressie in die kurrikulum moes wees om diepgaande leer te verseker. Ten einde die legkaart te voltooi is die samewerking van al die rolspelers nodig. Akademia se taak is voordiensopleiding terwyl skole en ander rolspelers verantwoordelik is vir indiensopleiding.

Jannie Raath, skoolhoof van Laerskool Hennopspark, se lesing het by die tema van die simposium aangesluit. Hy het klem gelê op die geheelbeeld en hoe die verskillende dele van die laerskool-legkaart by mekaar inpas. Raath het besef dat elke graad ʼn eiland is en dat die onderwysers in kompetisie met mekaar is – eerder as wat hulle mekaar aanvul. As beginneronderwyser het hy baie foute gemaak, maar hy het algaande besef dat skole se prioriteite nie altyd reg is nie.

Daar word volgens hom te veel klem geplaas op onderskeidings of om die beste rugbyspan te hê. Die vraag waarmee hy sy onderwysers toe gekonfronteer het, was: “Waarmee is ons besig?” Dit was vir hom belangrik dat die grondslag reg gelê moes word. Elke graad in die laerskool is ʼn stukkie in die legkaart en moet reg gelê word sodat daar nie “skadebeheer by die hoërskole gedoen moet word nie”.

Die derde spreker by die simposium was Akademia se bekleër van die ereleerstoel in onderwysleierskap, dr. Pierre Edwards. Hy het oor dienende leierskap gepraat en by Raath aangesluit en gesê dat hy self ook baie foute gemaak het. Hy het aanvanklik gedink dat ʼn skoolhoof net administratiewe sake van die skool moes hanteer, maar dat ʼn diploma in onderwysleierskap die skille van sy oë laat afval het.

Volgens Edwards is die groot voorbeeld van dienende leierskap Jesus – Hy het self gesê dat Hy gekom het om te dien en nie om gedien te word nie. “Die groot toets vir dienende leierskap is wanneer onderwysers groei, wyser word en self ook dienende leiers word,” sê Edwards.

Hester Hill, hoof van Midstream College Primêr Skool, het oor passie gepraat – ʼn belangrike eienskap waaroor ʼn onderwyser moet beskik. Sy glo passie en entoesiasme is van kardinale belang in die onderwys. Passie vir onderwys is passie vir leerders. Hill sê onderwys is ʼn edele beroep wat nie sonder sy uitdagings kom nie, maar dit is altyd lonend. “Die onderwyser tree nie net professioneel op teenoor kollegas nie, maar ook teenoor leerders. Onderwysers moet positiewe verhoudings met leerders bou, want so is leerders meer geneig om by die lesse betrokke te raak. Indien onderwysers hulle leerders goed ken, kan hulle hulle onderrigbenadering aanpas om aan die leerders se behoeftes voldoen.”

Die laaste spreker by die simposium was Wilna van Rooyen, vroeëkinderontwikkelingspesialis van die Afrikaanse Onderwysnetwerk. Van Rooyen het beklemtoon dat daar ʼn groot verantwoordelikheid op die graad R-onderwyser rus. Sy sê dat hierdie tydperk van allergrootste belang is, aangesien die brein en liggaam dan baie vinnig ontwikkel. Dit is ook die komplekse tydperk waarin gespesialiseerde opvoeding en onderrig nodig is.

“Daar moet aan al die aspekte van die kind se ontwikkeling aandag gegee word: sensories, fisies, emosioneel, sosiaal, psigies en kognitief. Die graad R-leerder kan dus glad nie dieselfde as ʼn graad 1-leerder hanteer word nie. As al hierdie aspekte nie die nodige aandag geniet nie, het dit ʼn groot impak later op die leerder,” sê Van Rooyen. Sy voeg by dat ouers gewoonlik geduldig met hulle kinders is tot op drie jaar, maar daarna verwag hulle akademies te veel van hulle kinders. Sy het beklemtoon dat hulle geduldig moet wees en hulle kinders kans moet gee om die wêreld te ontdek en kind te wees.

Die simposium is afgesluit met ʼn paneelgesprek waarin die simposiumgangers vrae aan die sprekers kon vra. Uit die gesprek het dit duidelik na vore gekom dat voortgesette en waardegedrewe opvoeding en opleiding belangrik is. Daar is ʼn groot uitdaging met ʼn vakuum wat oor ʼn paar jaar in onderwysleierskap kan ontstaan, maar Akademia wil dit graag oorbrug met nagraadse kwalifikasies in onderwysleierskap wat tans ontwikkel word. Daar is baie uitdagings soos onderwysers wat rolmodelle moet wees vir kinders wat uit gebroke huise kom, maar dit bly steeds volgens die paneel ʼn voorreg om as passievolle onderwysers en onderwysleiers ʼn verskil in laerskole te maak.

Die Fakulteit Opvoedkunde het op 17 Mei ʼn simposium aangebied om die laerskoolonderwys-legkaart te bespreek.
Prof. Gawie du Toit, dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde, het die BEd-kwalifikasies by Akademia en die vorming van onderwysstudente tydens die simposium bespreek.