Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Akademia help entrepreneurskap onder skoolleerders kweek

Akademia vat vanjaar weer hande met AfriForum Sakenetwerk om ʼn platform vir jong entrepreneurs te skep waar hulle ʼn sakeplan kan opstel en hul entrepreneurskapsvaardighede kan kweek. Die Besigheidsbytjies-kompetisie word sedert 2019 aangebied waar deelnemers ʼn besigheidsplan vir ʼn idee van ʼn besigheid of vir ʼn bestaande besigheid kan inskryf. Deelnemers staan die kans om ʼn groot kontantprys en ander verrassingspryse van Akademia en ander borge te wen.

Volgens Juanmarie Pretorius, projekkoördineerder by Akademia, kan enige entoesiastiese entrepreneurs tussen graad 1 en 12 inskryf wat hul besighede of besigheidsidees blootstelling wil gee en laat groei. “Die kompetisie vind ook aanlyn plaas wat beteken dat entrepreneurs van dwarsoor die land kan deelneem.”

Die kompetisie word soos volg in vier kategorieë verdeel:

Hommelbytjies:

Kategorie 1 Grondslagfase (graad 1 tot 3)

Kategorie 2 Intersenfase (graad 4 tot 6)

Juniorpreneurs:

Kategorie 3: Senior fase (graad 7 tot 9)

Kategorie 4: VOO (graad 10 tot 12)

Akademia se dosente wat spesialiste in die veld van ondernemingsbestuur is, het ook gehalte opleiding aangebied in die area van bemarking van ʼn besigheid tydens die Besigheidsbytjies-werkwinkel. Een van dié dosente dien ook op die paneel as beoordelaar vir die kompetisie.

Die Besigheidsbytjies-kompetisie het ook ten doel om die leierskap van die deelnemers te ontwikkel. “Jong entrepreneurs word aangemoedig om self verantwoordelikheid te neem om hulle eie, unieke idees om te sit in innovering wat realisties en uitvoerbaar is,” sê Pretorius. “Sodoende word hulle aangemoedig om ʼn positiewe verskil in die samelewing te bewerkstellig deur voorsiening te maak vir ʼn noodsaaklike behoefte of begeerte.”

Volgens Pretorius wil Akademia en AfriForum Sakenetwerk met hierdie kompetisie die nuwe generasie toerus met die kennis en vaardighede wat hulle nodig het as entrepreneurs. “Ons kinders is die volgende generasie leiers – hulle moet hoop skep en reeds van jongs af werk aan ʼn nóg blinker toekoms!”

Pretorius moedig jong entrepreneurs aan om nie te huiwer om deel te neem aan die kompetisie nie en om so kreatief moontlik te wees. Inskrywings vir hierdie besonderse kompetisie sluit op 31 Mei.

Indien jy of jou kind belangstel om aan die Besigheidsbytjies-kompetisie deel te neem, besoek die webwerf hier vir meer inligting. Laai ook gerus die Besigheidsbytjie-gids hier af. Die wenners van die Besigheidsbytjies-kompetisie word op 10 Julie vanjaar aangekondig.