Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia-student jaag op 61 haar studiedrome na

Terwyl die gedagte om ouer te word vir baie mense dalk vreesaanjaend mag wees, meen Akademia-student, Eurita van der Merwe, dat dié lewensfase geensins ʼn verskoning is om nie uitdrukking aan jou drome te gee nie. Op 65 jaar is Van der Merwe nie net vanjaar die instelling se oudste graduandus nie, maar ook ʼn sprekende voorbeeld van iemand wat die etos van lewenslange leer nastreef.

Van der Merwe het tydens vanjaar se kwalifikasieplegtigheid trots die BCom (Bestuursrekeningkunde)-kwalifikasie behaal, terwyl sy ook vanjaar die Nagraadse Diploma in Belasting aanpak by Akademia.

Van der Merwe het nog altyd geglo dat daar twee goed is wat mens in jou moedertaal moet doen, naamlik bid en somme maak. “Nadat ek egter op 61-jarige ouderdom terug “skool” toe is, kan ek egter met sekerheid byvoeg dat studeer ook baie meer toeganklik is as dit in jou moedertaal plaasvind,” skerts Van der Merwe en noem dat dit juis hierdie unieke aanbod was wat haar op Akademia as ʼn studietuiste laat besluit het.

Van der Merwe het haar skoolloopbaan in 1975 aan die Hoërskool Jeugland in Kempton Park voltooi en dadelik die werksplek as ʼn administratiewe assistent betree. Haar passie vir voortgesette leer het gedurende hierdie tyd vlamgevat en sy het twee jaar nadat sy gematrikuleer het, tik en rekeningkunde op matriekvlak voltooi. Dié besluit is genoodsaak deur die besef dat haar gekose vakkeuses op skool nie haar droom om in die rekeningkundeveld te werk sou bevorder nie.

Nadat Van der Merwe en haar man, Daan, in 1976 getroud is het sy haar eerste werk in finansies as debiteureklerk gekry, en deur volharding en deursettingsvermoë is sy 22 jaar later die geleentheid gebied om as ʼn rekenmeester te werk. Haar droom was egter steeds om ʼn tersiêre kwalifikasie agter haar naam te kry, iets wat sy uiteindelik in Februarie 2019 onderneem het toe sy as Akademia-eerstejaarstudent op die nauurse afstandsmodel by die Centurion-sentrum met aandklasse begin het.

“Ek onthou hoe ons as eerstejaars tydens oriëntering ʼn koevertjie ontvang het waarop ons doelwitte vir die jaar moes neerpen. Op daardie stadium was ek so oorweldig as ʼn ouer student, dat ek net geskryf het dat ek hoop (en bid) om al my vakke deur te kom,” onthou Van der Merwe. Sy dink met heimwee terug aan haar klasdraf-ervaring en behalwe vir die smee van nuwe vriendskappe, het sy haar verkneukel in haar studies – soveel so dat sy gedurende die verloop van haar studies ʼn gemiddeld van 74% gehandhaaf het. ʼn Persoonlike hoogtepunt was ʼn jaarpunt van 98% vir die Rekeningkunde 2-module.

Tydens die koronaviruspandemie in 2020, het Van der Merwe na die nauurse afstandsmodel op e-leer oorgeskakel wat haar die vryheid gebied het om haar studies vanuit die gemak van haar eie huis te volg.

Vir dié ma van ses en ouma van vyf, wat reeds 46 jaar gelukkig getroud is, is haar gesin die spil waarom haar lewe draai. Sy verduidelik dat haar gesin se ondersteuning haar deurentyd gedra het, en dat hulle onderskraging haar oor die kwalifikasie-eindstreep gehelp het.

Wanneer sy gevra word waarom sy nou juis op haar ouderdom besluit het om as student ʼn kwalifikasie aan te pak, antwoord Van der Merwe die vraag met die volgende: “Waarom nie?” Sy herinner hulle ook daaraan dat kolonel Harland Sanders van die befaamde hoenderbesigheid sy uiters suksesvolle sakepraktyk op 63 jarige ouderdom begin bou het.

En wat wil Van der Merwe graag vir haar jonger self sê ná die verwerwing van haar kwalifikasie? “Ouderdom is in die kop! Ek voel nog soos ek gevoel het in my twintigs en dertigs, met die uitsondering dat ek nou lekker baie lewensondervinding het. Jy is nooit te oud om te leer nie!”

Akademia salueer studente soos Van der Merwe vir wie ʼn positiewe én jeugdige ingesteldheid die pas aangee, en hou haar akademiese loopbaan met afwagting dop. Indien jy soos Van der Merwe nog altyd daarvan droom om studies aan te pak – doen gerus aansoek vir studies in 2024. Klik gerus hier om meer uit te vind. Akademia – jou Afrikaanse studietuiste!

Eurita van der Merwe is ʼn sprekende voorbeeld daarvan dat ʼn mens nooit te oud is om te leer, en jou drome na te streef, nie. Sy het haar BCom (Bestuursrekeningkunde)-kwalifikasie aan Akademia voltooi op die ouderdom van 65.