Kampusopedag op 10 en 11 Mei is in

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia Uitgewery stel pret-aktiwiteitsboek vir kinders bekend

Die Akademia Uitgewery het op 17 Mei die pret-aktiwiteitsboek vir kinders, Fontieland, bekendgestel. Hierdie boek, wat ideaal is vir leerders in graad 4 tot 7, is tydens die Fakulteit Opvoedkunde se leierskapsimposium by Leriba bekendgestel.

As ʼn toekomsgerigte gemeenskapsinstelling strewe Akademia daarna om ʼn bekende studietuiste te skep selfs vir die jonger geslagte. Met die daarstel van Fontieland beoog die instelling om homself aan ʼn jonger gehoor bekend te stel op ʼn interaktiewe wyse wat kinders tussen die ouderdomme van 9 tot 13 jaar oud maklik sal verstaan.

Hierdie pretboek is ideaal om kinders oor naweke, vakansies of op die lang pad besig te hou. Gesinne kan gehalte tyd saam spandeer deur die aktiwiteite te voltooi en saam die avonture van Stella en Hennie in Fontieland te ontdek.

Volgens Juanmarie Pretorius, projekkoördineerder van die skolemark by Akademia, bestaan die idee agter die projek al ʼn geruime tyd. “Die idee is gebore uit die nostalgie van vakansiepretboekies wat jare gelede by tolhekke uitgedeel is en die lekker onthou van hoeveel pret dit op die langpad see toe besorg het,” vertel Pretorius. “Ons het aan verskillende maniere gedink hoe ons ʼn hoëronderwysinstelling aan kinders kan bekendstel op ʼn manier wat hulle sal interesseer. Die pretboekie was die ideale manier.”

Akademia se uitvoerende hoof van akademie, prof. Danie Goosen, het sedert die instelling se bestaan die vormingsideaal gehelp kweek waar studente se karakters, denke en hart gevorm word. Die vormingsideaal, wat ten doel het om volronde studente by Akademia af te lewer, is in elke bladsy en aktiwiteit van Fontieland te bespeur. “Ons wil al van kindsbeen af ʼn bewustheid by jong lesers kweek sodat hulle kan sien hoe Akademia sy studente vorm met waardevolle bestanddele,” noem Pretorius.

By Akademia word daar ook ʼn spesifieke woordeskat gebruik, dit is uniek en vestig ʼn spesiale kultuur by die instelling. Hierdie woorde het gelei tot die karakters, soos Hennie (afgelei van Akademia se manskoshuis Huis Hennops), Stella (afgelei van die instelling se dameskoshuis, Huis Strelitzia), oom Danie (afgelei van Goosen), Pionier die perd (afgelei van een van Akademia se waardes, pionierskap), die plaas Hartsdenke (afgelei van die vormingsideaal) en baie meer.

Hierdie boekie is ʼn eerste vir Akademia en die Akademia Uitgewery. Karien Brits van die Akademia Uitgewery noem dat sy hoop dat die boekie vir jong lesers aangename herinneringe sal skep en dat hulle ʼn liefde en vertroue in Akademia as instelling sal kweek.

Kom saam op ʼn ontdekkingstog deur die kampus van Akademia saam met Stella en Hennie. Leer speel-speel meer oor wie Akademia is en ons vormingsideaal met prettige aktiwiteite soos blokraaisels, vind die verskille en soek die Fonties. Klik hier vir meer oor Fontieland. Indien jy ʼn digitale weergawe of harde kopie wil aankoop, klik gerus hier.