Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia hou eerste suksesvolle koorfees

Gepubliseer op: 23 Mei 2022

Akademia het op 13 Mei 2022 ʼn heel eerste koorfees aangebied en dié geleentheid was ʼn reusesukses. Die koorfees het uit vyf kore bestaan: Die Hoërskool Menlopark, Hoërskool Eldoraigne, Hoërskool Zwartkop, Hoërskool Garsfontein en die Akademia-koor. Die kore het behoorlik die gehoor met hulle pragtige stemme en talent bekoor by NG Kerk Monumentpark.

Dié koorgeleentheid is geskep om die wonderlike kultuur en gemeenskap wat by die Akademia-koor is ten toon te stel en ook om vir ander kore in die omgewing ʼn platform te gee om saam op te tree, vertel Franco Prinsloo, koordirigent van die Akademia-koor.

Die Akademia-koor het die aand met Prinsloo se eie komposisie, “Sanctus Kanon”, geopen en dit vir die eerste maal met ʼn orrel uitgevoer. “Gewoonlik voer ons die werk met klavier uit, maar die kerk het so ʼn lieflike orrel gehad dat ek nie die geleentheid kon laat verbygaan nie. Die koor het ongelooflik saam met die orrel geklink! Dit was ʼn heilige oomblik,” sê Prinsloo.

Prinsloo is trots op sy koor wat tans uit 30 lede bestaan en vir ongeveer twee maande al oefen. Die koor het so baie gegroei in die afgelope twee maande. Die koor beoog om in die tweede semester oudisies te doen, so hou die spasie dop vir meer inligting.

Daar was bykans 300 koorlede en die kaartjieverkope het by 290 gedraai, sê Juanmarie Pretorius, projekkoördineerder van die skolemark. “Suid-Afrikaners is mal oor koormusiek en mens kan dit in die kaartjieverkope sien,” vertel Prinsloo. “Ek is so bly dat ons nou ook by Akademia die geleentheid het om die liefde vir koorsang uit te leef.”

Daar was ook heelwat goeie terugvoer vanaf die ander koordirigente en hulle het genoem dat hulle dankbaar is dat koorfeeste weer kan voortgaan ná die grendelstaat. “Dit was regtig vir Die Menlo-koor ʼn groot voorreg om deel te kon wees van die koorfees. Dit het regtig gevoel of ons tuis was,” meen Jeanmari Papendorp, musiekhoof by Hoërskool Menlopark.

Papendorp vertel verder dat Akademia bevoorreg is om ʼn koorleier soos Franco Prinsloo te hê. “Die musikaliteit en fyn nuansering waarmee die nuutgestigte koor gesing het, voorspel net mooi dinge vorentoe vir die koor. Ek kan nie wag om hulle oor ʼn jaar te hoor nie,” sê sy.

Pretoria is bekend vir die hoë gehalte van koorsang, veral onder skoolkore. Van die land se top kore kom uit Pretoria en hier is ʼn baie aktiewe tradisie van koorsang, selfs ná skool met kamerkore, gemeenskapskore en kerkkore. “Pretoria is natuurlik al baie jare bekend vir sy universiteitskore en nou kan ons ook die Akademia-koor by hierdie lys voeg. Ek is opgewonde oor die toekoms,” sê Prinsloo.

ʼn Hoë noot aan die einde van die aand was toe Hoërskool Eldoraigne en die Akademia-koor saam “Adoramus Te”, deur Andy Beck, gesing het.

Die Akademia-koor het die koorfees op 13 Mei met “Sanctus Kanon” geopen.
Franco Prinsloo is die koordirigent van die Akademia-koor en hy sien uit na vele koorfeeste in die toekoms.