Kampusopedag op 10 en 11 Mei is in

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Kry vandag jou Akademia-tienjaarwyn

Gepubliseer op: 20 Mei 2022

Akademia het vanjaar ʼn tienjaarwyn bekendgestel ter viering van ʼn volle tien jaar van klasgee. Die bekendstelling het onder die druiweprieel by koshuis@Leriba plaasgevind en hier kon personeel, bestuur, vriende en Fonties by Kwagga Boucher van Die Wynboer meer leer oor wyn, druiwe en die familiewynbedryf. Hulle kon ook ʼn verskeidenheid spogwyne proe, insluitend Akademia se eie tienjaarwyn.

Die tiernjaarwyn is ʼn sagte wyn wat spesiaal deur De Kleine Wijn Koöp gebottel is deur wynmaker Wynand Grobler. Die wyn is ʼn rooivruggedrewe burgundy-styl pinotage. “Dit beteken dat daar meer fokus was op ʼn elegante, rooi vrug, ligter bessiegeure gedomineerde rooiwyn in plaas van ʼn bietjie meer tradisionele donker, swaar styl wyn,” sê Grobler.

Grobler het besluit om die wyn saam met Akademia uit te bring omrede De Kleine Wijn Koöp ook ʼn Afrikaanse instelling is en in die Afrikaanse taal glo. “Dit is hoeka hoekom ons ons eie handelsmerke amper 100% daarop skoei. Dit [Afrikaans] gee ons ʼn unieke plek in die wynwêreld en ons verbruikers smag daarna,” vertel Grobler. Hy noem dat dit net ʼn plesier is om deel te kon wees van Akademia se eerste wyn aangesien dit ʼn instelling is wat Afrikaans beskerm en bevorder.

Grobler vertel verder dat Akademia besluit het op dié wyn aangesien dit eg Suid-Afrikaans is en in die hartjie van Stellenbosch gekweek word. Grobler noem dat daar baie ooreenkomste is tussen ʼn pinotage en Afrikaans. “Die druif is gehard en het besonderse verouderingspotensiaal as dit reg hanteer word; dit is beslis een van Suid-Afrika se kroonjuwele.”

Paul Vogel, bedryfshoof van Akademia, moedig mense aan om die wyn te koop aangesien dit ʼn eens-in-ʼn-leeftyd wyn is. “Net soos die delikate wynmaakproses wat gevolg is om dié besondere pinotage te vervaardig, simboliseer hierdie wyn die pionierswerk wat Akademia oor meer as dekade verrig het,” sluit hy af.

Die tienjaarwyn is reeds op Die Winkel beskikbaar. Klik hier om jou bottel wyn teen

R150 per bottel of R750 per kas te koop. Die winste gaan na die Akademia Skenkingsfonds om weer studentedrome te bewaarheid.

Akademia se tienjaarwyn is ʼn sagte pinotage met ʼn aroma van pionierswerk. Akademia se spesiale tienjaarhandelsmerk is op die bottel geplaas ter viering van die instelling se tien jaar van klasgee.