Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Waarom is museums steeds vir die jeug relevant?

Gepubliseer op: 18 Mei 2022

Geskryf deur Jandré du Plessis, tweedejaar-LLB-student by Akademia en primarius van Huis Hennops.

“Vaal ooms met lang baarde en ou gewere, vergeelde familieportrette, stowwerige uniforms op ʼn solder, datums wat ʼn eentonige onderwyser probeer inprop in jou kop …” Dít is moontlik wat onmiddellik deur jou gedagtes flits wanneer jy aan geskiedenis sou dink, maar jy maak ʼn fout. Op 18 Mei vir ons Internasionale Museumdag en dit is beslis tyd om die ongelooflike wêreld van museums wat wink te ontdek.

Die wanpersepsie dat geskiedenis vervelig is, onstaan omdat dit gewoonlik verkeerd oorgedra word: klem is gelê op datums, name en plekke in plaas van die pragtige verhale van ons verlede wat bloot toevallig op ʼn sekere dag met ʼn individu(e) op ʼn plek gebeur het. Dit is verhale van dapperheid soos Wolraad Woltemade en Dirkie Uys, van smart soos dié van Johanna van der Merwe en die konsentrasiekampe, deursettingsvermoë van Danie Theron en Christiaan de Wet. Geskiedenis is bloot die somtotaal van stories wat met gewone mense gebeur het. Wanneer ons hierdie verhale reg begin vertel, word geskiedenis lewendig.

Museums is die storievertellers van hierdie pragtige verhale vanuit ons verlede. Daar gaan jy die wa vind van Johanna van der Merwe, die fries met Dirkie Uys se heldedaad, die doringdraad van die konsentrasiekampe en die Bybel van Christiaan de Wet. Museums se bestaansreg is om die verhale van ons verlede lewending voor te stel aan die wat honger is vir die lesse wat dit vir ons kan leer.

Die hede met sy geleenthede en uitdagings spruit vanuit ons geskiedenis. Die uitdagings wat ek en jy vandag mee gekonfronteer word kan meestal na ons individuele en kollektiewe verlede teruggetrek word en dieselfde geld vir ons geleenthede. Die hede is geanker in die verlede…

Juis omdat ons uitdagings en geleenthede in die verlede geanker lê, kan ons geskiedenis en museums gebruik as rigtingwysers vir die toekoms. Ons kan inspirasie put uit die deursettingsvermoë en standvastigheid van ons voorgeslagte en steeds toekomsgerig lewe.

Ek wil jou uitdaag om die verhale agter die bekende name te gaan ontdek deur museums te besoek. Laat die verhale van Dirkie Uys, Christiaan de Wet, Danie Theron, Jan Smuts, Totius, CJ Langenhoven en die vele ander kleurryke figure in ons verlede jou inspireer om in jou gemeenskap ʼn verskil te maak en jou uitdagings te oorkom. Jy sal nie spyt wees nie.

Akademia se erfenisklub vir personeel en studente skop ook op Internasionale Museumdag op 18 Mei af met ʼn spesiale toer by die Voortrekkermonument. Hierdie klub se naam is Kantanoó wat in Grieks beteken om te begryp asook die vermoë om te verstaan (intelligensie). Die Katanoó-klub se hoofdoel is om die intellektuele en intuïsie te stimuleer, en om ʼn werklike verstaan te kweek oor ons verlede deur die poorte van kuns en geskiedenis, gemik op Suid-Afrika en sy Westerse wortels. Indien jy by die klub betrokke wil raak of aan die klub wil skenk, kontak gerus vir Myrtle Endley, studenteraadslid vir kultuur, taal en erfenis by sr.kultuur@akademiastudente.co.za.

Jandré du Plessis is die primarius van Huis Hennops met ʼn groot liefde vir die geskiedenis van Suid-Afrika. Hy is ook ʼn tweedejaar-LLB-student by Akademia en die algemene bestuurder van die Pro Patria Museum in Pretoria.