Kampusopedag op 10 en 11 Mei is in

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Gildeweek: Wat ʼn gilde-geleentheid!

Gepubliseer op: 16 Mei 2022

Die gildeweek wat van 9 tot 13 Mei op die Centurion-kampus aangebied is, was vanjaar weereens ʼn reusesukses. Dié gildeweek is deel van Akademia se loopbaanontwikkelingsprogram en dit word in samewerking met die Solidariteit-gildes en die Solidariteit Beroepsnetwerk aangebied.

“Akademia streef daarna om ʼn student so vroeg as moontlik te help om die regte loopbaankeuses te maak. Deur Akademia se loopbaanontwikkelingsprogram word studente opgelei om die regte loopbaankeuses te maak en hulle word tegelyk voorberei vir die werksplek,” vertel Mareli Swanepoel, bestuurder van Projekte by Akademia.

Volgens Marisa Engelbrecht, gildespesialis by Solidariteit, berei die program hulle ook voor vir die werksplek deur die geleentheid om reeds as student waardevolle netwerke in hul loopbaan te vestig deur kontakte op te bou en by kenners in die beroep te leer.

Die program is ʼn voorbereidingsweek waar studente aan die hele aansoekproses vir die werksplek deelneem. “Van CV-voorbereiding, indiening, onderhoudskedulering, onderhoude, en die terugvoerproses. Daar is min dinge so senutergend soos ʼn eerste werksonderhoud en ʼn eerste CV,” sê Engelbrecht.

Studente word tydens ʼn inligtingsessie gewys hoe om ʼn CV op te stel, dit in te dien, asook hoe om die CV op WerkNet, die Afrikaanse werksoekportaal, te laai. Studente kan dan vir hulself onderhoude skeduleer wat deur die Solidariteit Beroepsnetwerke gedoen word. Nadat die student ʼn formele onderhoud gehad het, ontvang hy of sy ook terugvoer oor die onderhoud self – hoe dit gegaan het, watter vrae anders beantwoord moet word, wat uitgestaan het, kleredrag, en ook algemene terugvoer oor hul CV’s, sê Swanepoel.

“Algemene foute op beginners se CV’s is gewoonlik die lengte, wat tussen een en twee bladsye moet wees, asook die volgorde van ervaring en kwalifikasies,” sê Engelbrecht. Sy noem dat mens altyd by die nuutste inligting moet begin en terugwerk na ouer kwalifikasies of ondervinding.

Die week is afgesluit met ʼn inligtingsessie oor die studente se verwagtinge en verantwoordelikhede vir die skaduwerkgeleentheid wat die Solidariteit Beroepsnetwerke vir hulle in die Junievakansie bied. Die skaduwerksgeleenthede behels intreevlakposte en internskappe vir hierdie studente.

“Hierdie skaduwerk bied nie net aan die student die kans om waardevolle werksondervinding op te doen nie, maar ook om die student bloot te stel aan die verskillende opsies en aspekte van die betrokke studierigting wat hy of sy volg,” vertel Engelbrecht. Skaduwerk as deel van die loopbaanontwikkelingsprogram is vir Akademia belangrik omdat dit vir studente die geleentheid bied om so vroeg as moontlik agter te kom in watter werksomgewing hulle sal floreer, vertel Swanepoel.

Raino Botha, BA (Kommunikasie en Joernalistiek)-student by Akademia, vertel dat dié jaar sy tweede jaar is wat hy aan die gildeweek deelneem en dat daar steeds baie is om te leer. “Dit bly ʼn ongelooflike ervaring en ek voel beslis dat ek baie meer voorbereid vir die werksplek is.”

Swanepoel noem dat die Akademia-studente wat hierdie program vir die tweede jaar doen, duidelik meer voorbereid is vir hul onderhoude en dat mens die verbetering in hul selfvertroue duidelik kon sien. “Dit is werklik vir ons ʼn voorreg om hierdie eerste tree in ons Fonties se loopbaanpad saam met hulle te kan stap,” sê Swanepoel.

Indien daar werkgewers is wat by skaduwerkgeleenthede betrokke wil raak, kontak gerus die Solidariteit Beroepsnetwerk by loopbaan@solidariteit.co.za

Raino Botha is ʼn BA (Kommunikasie en Joernalistiek)-student wat aan die Akademia-gildeweek deelgeneem het.