Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

LLB nou ook via voltydse kontakmodel by Akademia-kampus aangebied

Gepubliseer op: 12 Mei 2022

Akademia het die nuus op Donderdag 12 Mei 2022 aangekondig dat LLB vanaf 2023 ook voltyds via die kontakmodel by die Centurion-kampus aangebied gaan word. Die instelling bied reeds vanaf 2020 LLB nauurs aan deur middel van telematiese ondersteuning aan studente. Tans spog die gewilde program met 440 studente oor verskeie akademiese jare. Aan die einde van 2023 word die eerste graduandi in hierdie program afgelewer.

Om LLB ook op die voltydse kontakmodel aan te bied was ʼn natuurlike volgende stap vir die instelling nadat BCom (Ekonomie en Regte) reeds op hierdie wyse aangebied word. Die tyd het ook aangebreek met die LLB-program, nou in sy derde jaar op die nauurse onderrigleermodel, wat reeds goed gevestig is. Die oogmerk van die instelling is om ʼn volledige kampusaanbod oor alle fakulteite en studierigtings in die toekoms die lig te laat sien.

Sarita Gerber, programkoördineerder van LLB by Akademia, noem dat daar ʼn groot aanvraag in die mark was om die program via voltydse kontak te studeer. “Noudat akkreditasie by die Raad op Hoër Onderwys en registrasie by die Suid-Afrikaanse Kwalifikasieowerheid suksesvol afgehandel is, kan ons uiteindelik in dié behoefte voldoen.”

Alhoewel ʼn nauurse afstands-LLB-program ruimte vir studente skep om te werk terwyl hulle studeer, deel Gerber dat daar ook verskeie voordele daaraan verbonde is om die kwalifikasie op ʼn voltydse kontakmodel te studeer. Dit sluit onder andere in die feit dat studente in direkte kontak met mekaar en hul dosente op kampus is en dus makliker inhoud in persoon kan bespreek. “Studente kan ook makliker aan die opwindende studentelewe deelneem en waarlik ʼn vol studentelewe eerstehands beleef,” noem sy. Nog ʼn voordeel is die vergemakliking van groepswerk en die voltydse kwalifikasie skep ook meer ruimte vir persoonlike akademiese begeleiding.

“Akademia se LLB-program, ongeag of jy dit via die voltydse kontakmodel of nauurse onderrigleermodel studeer, is werklik besonders aangesien ons gehalte teoretiese opleiding met ʼn praktykgerigte inslag bied,” noem Gerber. “Ons sien daarna uit om ons eerste graduandi te lewer wat selfstandig en waardegedrewe is en oor fundamentele regsvaardighede sal beskik.”

Sy vertel verder dat die departement se personeel werklik ʼn diverse en dinamiese span is wat uit verskeie vakspesialiste bestaan. Akademici vir die program is ook in die meerderheid nie net dosente nie, maar is ook regspraktisyns. Dit beteken dat hulle waardevolle praktiese insigte met studente kan deel om hul uitstekend vir die werkplek voor te berei.

Prof. Hermie Coetzee, departementshoof van Regsgeleerdheid by Akademia, noem dat die regsprogram veral uitstaan weens die departement se vennootskap met die Solidariteit Regsnetwerk. “Ons vennootskap met hierdie regsnetwerk skep die geleentheid vir waardevolle internskappe en mentorskappe om sodoende noodsaaklike praktiese ondervinding vir studente te verseker.”

Gerber se raad aan studente wat die LLB-kwalifikasie as studierigting by Akademia oorweeg, is om seker te maak dat hul ʼn werklike passie vir die regsberoep koester. “Om die regswêreld te betree is ʼn groot besluit, maar indien dit jou roeping is, sal hierdie beroep jou grootste verwagtinge oortref,” sluit sy af.

Indien jy belangstel om LLB via die nauurse onderrigleermodel of via die voltydse kontakmodel by Akademia te studeer, besoek die Akademia-webblad vir meer inligting of woon ʼn interaktiewe aanlyn inligtingsessie op Donderdag 19 Mei om 19:00 by. Besoek jou sitplek vir die inligtingsessie hier. Studieaansoeke vir 2023 is reeds oop. Akademia – maak kennis met jou toekoms!

Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, Sarita Gerber, programkoördineerder van LLB, prof. Pieter Duvenage, waarnemende dekaan van Regsgeleerdheid en prof. Hermie Coetzee, departementshoof van Regsgeleerdheid klink ʼn glasie op die nuus dat LLB vanaf 2023 ook via die voltydse kontakmodel op die Centurion-kampus aangebied gaan word.