Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Maak die regte loopbaankeuses saam met Akademia

Gepubliseer op: 23 Mei 2022

Akademia bied nou opwindende Career Direct®-loopbaanassesseringstoetse aan sodat voornemende studente, asook werkendes, hulself beter kan leer ken om die regte loopbaankeuses te maak. Dié toetse analiseer individue se persoonlikheid, belangstelling, vaardigheid en waardes en is op Christelike beginsels en wetenskaplike navorsing gebaseer.

Volgens hul webblad is die Career Direct ®-voorligtingstelsel ontwikkel as gevolg van ʼn behoefte aan ʼn omvattende, beginselgebaseerde toets wat mense kan help om hulle unieke talente beter te verstaan en die beroep of opleidingspad te vind wat die beste by hulle natuurlike sterktes en vermoëns pas.

Akademia het besluit om dié loopbaanassesseringstoetse uit te rol sodat studente vroegtydig die regte loopbaankeuses kan maak. “Ons wil studente help om die regte beroepe te kies, ʼn beroep wat by die student pas. Daarom is Career Direct® ideaal, want dit help studente om die regte besluite te neem,” vertel Jeanmarie van Niekerk, studentewerwer by Akademia en geregistreerde Career Direct®-konsultant.

Na afloop van die toets word die resultate aan een van Akademia se studentewerwers gestuur wat ook as Career Direct®-konsultante dien. “As deel van die pakket word die verslag dan saam met die deelnemer behandel sodat die persoon mooi ingelig is oor die loopbaanopsies waarvoor hy of sy aangelê is,” vertel Van Niekerk.

“Die toets meet ook waardes wat belangrik is in terme van jou loopbaan. As jy byvoorbeeld daarvan hou om met diere te werk, maar nie wil vuil word nie, pas ons jou moontlikhede aan sodat jy gelukkig sal wees in jou loopbaan,” sê Chrisna O’Kennedy, Akademia se studentewerwer van die Namibië-streek en ook ʼn Career Direct®-konsultant.

“Die terugvoer wat ons as studentewerwers ontvang na afloop van die toetse is besonders positief. Die meeste persone is skoon verbaas oor die akkuraatheid van die persoonlikheid, belangstellings en vaardighede wat die toets meet,” noem Van Niekerk. “Ek glo beslis dat dit skoliere en voornemende studente sal help om beter loopbaankeuses te maak.”

Van die werwers het self die loopbaanassesseringstoetse gedoen en vertel dat dit lewensverrykend was. “Ek het so baie van myself geleer en ek sal dit sterk aanbeveel,” sê Van Niekerk.

Sy noem dat daar verskeie goeie tye is om die toets af te lê. “Dit is baie goed om die loopbaantoets te doen as graad 9-leerder wanneer jy vakke moet kies. Dit word ook aangeraai vir matrieks wanneer hulle moet begin aansoek doen vir ʼn studierigting op universiteitsvlak.”

Van Niekerk vertel dat die toetse egter nie net vir skoliere is nie en dat afstudeerde studente en werkendes dit ook positief sal ervaar. “Die Career Direct®-uitslae sal jou beslis bevoordeel in ʼn werksonderhoud en jou help om beter in die werkplek te funksioneer aangesien jy dan bewus is van jou sterk- en swakpunte. Jy sal ook verstaan waarom sekere aspekte van jou werk jou uitput en waarom ander dele jou weer energie gee.”

Daar bestaan beslis ʼn wanpersepsie oor loopbane en studierigtings wat bevredigend behoort te wees weens die finansiële belonings wat dit bied. “My pa het altyd gesê as jy doen waarvan jy hou, kom die geld van self,” sê van Niekerk. Sy noem verder dat ʼn mens ongeveer agt ure minimum ʼn dag by die werk spandeer, en dat om sielsongelukkig te wees in ʼn verpligting jou ontneem van een van die belangrikste dele van jou lewe. “Daarom is Career Direct® baie belangrik sodat jy die regte loopbaankeuses kan maak en gelukkig in jou beroep kan wees.”

“Dit is verfrissend om jouself beter te leer ken, en ook om te verstaan dat jy nie met foute geskape is nie, maar met ʼn doel,” sê O’Kennedy. Sy noem dat elkeen geskape is om ʼn verskil in die wêreld te maak met die vaardighede, vermoëns en waardes wat hul bied. “Dit is beslis ʼn voorreg om dit deur middel van die toets te kan uitlig,” sluit sy af.

As jy meer wil weet of loopbaanadvies benodig, kan jy gerus https://akademia.ac.za/loopbaanadvies/ besoek vir meer inligting.

Jeanmarie van Niekerk is een van die vriendelike studentewerwers by Akademia wat ook ʼn gekwalifiseerde Career Direct®-konsultant is.