Search
Close this search box.

Afrikadag: Hoe het die regte in Afrika ontwikkel?

Gepubliseer op: 25 Mei 2022

Geskryf deur Stephen Nel, dosent in Regsgeleerdheid by Akademia

Afrika se regsontwikkeling spruit vanuit ʼn verskeidenheid bronne insluitende die gemenereg, gewoontereg en godsdienstige regstelsels. Binne hierdie konteks en ter herdenking van Afrikadag op 25 Mei is dit sinvol om ʼn kortlikse oorsig te gee van die rol en invloed wat elkeen van die bovermelde regsbronne uitgeoefen het op die reg in Afrika.

Die gemenereg is basies ongeskrewe reg wat op ou gebruike gegrond is. Dit vind sy oorsprong vanuit die Engelse reg sowel as die Romeins-Hollandse reg. Die laasgenoemde regstelsels het grootliks bygedra tot die regsontwikkeling van lande soos Suid-Afrika, Botswana en Namibië. Daarbenewens het die Franse regsisteem ook ʼn wesenlike impak uitgeoefen (en het steeds impak) op die regstelsels van lande soos Mali, Kameroen en die Ivoorkus. Gevolglik het die kolonisering van Afrika daartoe gelei dat elkeen van Afrika se 54 lande ʼn regstelsel bevat wat grootliks beïnvloed is deur die gemenereg of ander geskrewe reg soos die van die Franse.

Daarom word verskeie kenmerke van die gemenereg vandag nog in Afrika aangetref waarvan die Westminster-stelsel sekerlik een van die vernaamste voorbeelde is. Dink byvoorbeeld aan instellings soos die parlement, staatshoofde en die sogenaamde trias politica (skeiding van magte tussen verskillende regeringsfere soos die wetgewende, uitvoerende en regsprekende gesag).

Verder gebruik die Suid-Afrikaanse parlement vandag nog aanspreekvorme soos “honourable member” en in ons howe word daar na sekere regters verwys as “my lord” of “your worship”. In lande soos Nigerië, Zambië en Zimbabwe word daar nie net togas gedra nie, maar ook kenmerkende (en baie sigbare) wit pruike soos vanuit die Britse gebruik. Ten spyte van die voorsetting van (soms kontroversiële) koloniale gebruike soos hierdie word daar terselfdertyd toenemend kollig geplaas op die voorsetting en erkenning van Afrikagewoontereg.

Die gewoontereg word beskryf as gewoontes en gebruike soos beoefen deur die inheemse bevolking (ook ʼn kontroversiële term) van elke land. Bekende gebruike sluit byvoorbeeld in die lewering van lobola en die bevestiging van poligamiese huwelike.

Voorts is daar ook verskeie godsdienstige regstelsels wat verskillende vlakke van erkenning geniet. Moslemreg (Sharia-wetgewing) is veral prominent in die noorde van Afrika en word in sekere gevalle streng toegepas. Somalië se grondwet bepaal byvoorbeeld dat alle wetgewing ondergeskik aan die Qur’aan moet wees. Ongelukkig word beide die gewoontereg en godsdiensreg dikwels geassosieer met menseregteskendings soos byvoorbeeld diskriminasie teenoor vrouens en kinders.

Vandag word die gemenereg grootliks deur elke land se geskrewe wetgewing vervang. Voorts het die dekolonisering van Afrika sedert die 1960’s daartoe gelei dat bykans elke Afrikaland ʼn grondwet uitvaardig het. Hierbenewens is daar ook instellings soos die African Court on Human and Peoples’ Rights wat gevestig is met die doel om menseregte in Afrika te beskerm en te bevorder. Die effektiwiteit (of dalk tekort daaraan) van die bovermelde instrumente is ʼn gesprek vir ʼn ander dag.

Nes die mense, kulture en gelowe van hierdie pragtige kontinent, bevat Afrika ʼn mengelmoes van regstelsels en gebruike wat in sommige gevalle vir eeue lank bestaan. Dit opsigself is iets om op Afrikadag te herdenk.

Stephen Nel is ʼn passievolle dosent in Regsgeleerdheid by Akademia en ʼn kenner op die gebied van konstitusionele reg, regspluralisme en administratiefreg.