Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Fonties is gerat vir studentelewe

Gepubliseer op: 27 Mei 2022

ʼn Gebalanseerde studentelewe vorm deel van Akademia se opvoedingsideaal om aan Fonties gehalte opleiding, sowel op diepgaande opvoeding te bied. Een van die maniere waarop die instelling sy opvoedingsideaal toepas, is deur studente bloot te stel aan ʼn gebalanseerde studentelewe. In die proses het hulle nie net pret nie, maar hulle leer belangrike vaardighede wat hulle menswees help vorm. Akademia wil studente leer om verantwoordelik kennis te maak met verskeie aspekte wat deel vorm van jou menswees. In plaas daarvan om studentelewe op ʼn ander plek te soek, wil Akademia dié ruimte skep vir die instelling se Fonties.

Studente het elkeen verskillende belangstellings en wil by verskillende aksies betrokke wees, daarom streef Akademia daarna om vir ons studente elkeen ʼn ruimte bied waar hulle tuis kan voel en betrokke kan wees by studenteaktiwiteite, daar waar hy of sy gemaklik voel en wil deel wees.

Die studenteraad, asook die huiskomitees van die drie koshuise, Huis Valorem, Huis Strelitzia en Huis Hennops, is daartoe verbind om splinternuwe studentetradisies te skep en te sorg dat alle Fonties die geleentheid het om hul studentelewe voluit te geniet.

Daar is ʼn groot verskeidenheid studenteleweaksies waaraan Fonties op die Centurion-kampus kan deelneem om deel van die studentenetwerk te vorm. Van hierdie aktiwiteite sluit in:

·         Koor
·         Fotografieklub
·         Boeke-en-boneklub
·         Stapklub
·         Debatklub
·         Skaak
·         Rugby
·         Aksienetbal
·         Aksiekrieket
·         Fontiepos-redaksie
·         Akademiese studiegroepe
·         Welstand van medestudente
·         Gemeenskapskomitee – Ons Helde
·         Bemarkingskomitee
·         Sosiale komitee
·         Kommunikasiekomitee

Daar is reeds vanjaar ʼn groot verskeidenheid aksies wat plaasgevind het. Die eerste hoogtepunt was natuurlik die eerstejaarskamp waar die nuwe Fonties mekaar kon leer ken en lekker bande kon bou. Die verwelkomingsdag en Valentynsokkie was ook hoogtepunte wat vroeg in die jaar plaasgevind het. Daar was ʼn lekker koffieproegeleentheid waar studente kon stem vir die nuwe brandsel van die #AkademiaKoffie en ook ʼn wynproegeleentheid waar Akademia se tienjaarwyn bekendgestel is. Die koshuise het ook inblynaweke gehad, asook koshuissport wat uitgestaan het in die studentelewekalender.

Die grootste hoogtepunt sover was sekerlik die tienjaarverjaarsdagpartytjie waar Riaan Benadé die Fonties vermaak het en ʼn reusekoek gesny is om Akademia se tien jaar van klasgee te vier. Daar was ook bloedskenk op kampus en ʼn spel van Cluedo in lewende lywe. Solidariteit se gildes het ook aan die Fonties kom meedeel hoe om onder andere in onderhoude op te tree en hoe om CV’s op te stel. Dit was tydens die gildeweek wat deel is van Akademia se Loopbaanontwikkelingsprogram waar Fonties leer hoe om vir die werkplek voor te berei.

Akademia se studentelewe brei ook uit met kultuuraktiwiteite soos debat, die Boeke-en-boneklub en selfs ʼn Katanoó-klub waar die geskiedenisfundi’s meer van Suid-Afrika se erfenis kan leer. Daar is ook sportaktiwiteite, soos rugby, aksienetbal, krieket en selfs ʼn stapklub wat onlangs die Kaapse Hoop-staptoer gestap het. Daar word beplan om hokkie en gholf in die tweede semester uit te rol en Fonties kan uitsien na selfverdedigingsklasse, ʼn talentfees en verskeie fliekaande in die toekoms.

Akademia wil graag sien dat alle Fonties by die studentelewe betrokke moet kan raak. Nauurse studente kan by hul naaste studiesentrum saam met medestudente aan sosiale aktiwiteite, aanlyn skaaktoernooi, Noot vir Noot-aande en fasiliteringsessies deelneem om hul medestudente beter te leer ken. Daar is ook planne in plek sodat afstandstudente ʼn gemeenskap in hul streke kan vorm en hul studentelewe virtueel kan uitleef. Nauurse studente in Gauteng is ook welkom om deel te neem aan al die studenteaktiwiteite wat by die Centurion-kampus aangebied word.

Fonties maak herinneringe en vriendskappe wat ʼn leeftyd sal hou. Hulle help bou aan Akademia se studentetradisies en stel die grondslag vir ʼn studentelewe waar elkeen hulself kan wees. Jy kan ook deel hiervan wees, kom studeer by Akademia! Studieaansoeke vir 2023 is reeds oop.

Akademia se Fonties is gerat vir ʼn studentelewe vol pret, gemeenskapgevoel en lewenslange vriendskappe.
Akademia se rugbyspan is kookwater. So ook die ander sportsoorte wat die Fonties aanpak.
Die Katanoó-klub het onlangs die Voortrekkermonument besoek ter viering van Internasionale Museumdag.
Die Fontie-stapklub doen gereeld staptoere. Of dit ʼn naweekstap of ʼn dagstap is, die Fonties bereik die toppunt!
Die Akademia-koor bring kultuur en klas na die studentelewe.