Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Sakeplanwenners 2021: Waar is hul nou?

Gepubliseer op: 30 Mei 2022

Customsites het in 2021 weggestap met die Sol-Tech-wisseltrofee, ʼn welverdiende kontantprys van R30 000 en nog ander pryse toe die span as wenners van Akademia se Sakeplankompetisie in die BCom (Ondernemingsbestuur)-program aagewys is.

Customsites word sedert 2020 deur mede-eienaars, Janco Opperman en Wikus Basson, bestuur. Die besigheid se oogmerk is om webwerwe teen bekostigbare pryse vir klein-, medium- en mikro-ondernemings te ontwerp en te ontwikkel wat weens beperkte tegniese vaardighede, tyd, kapasiteit of kennis dit nie noodwendig self kan doen nie.

“Ná die Sakeplankompetisie het ons ʼn geruime tyd gewerk aan die verbetering van ons besigheid, asook om ons dienste uit te brei” vertel Janco Opperman, mede-eienaar van Customsites.  “Ons het reeds verskeie nuwe kliënte bygekry en ons werk steeds saam met die borge om ons besigheid uit te bou.”

Die kompetisie het beslis baie waardevolle lesse vir die Customsites-span ingehou. “In die voorbereiding vir die kompetisie het ons praktiese ervaring opgedoen in die opstel van ʼn effektiewe sakeplan,” sê Opperman. Hy noem ook verder dat Thabo Pitse van ActionCoach, een van die kompetisie se borge, hulle afrig om hul besigheid strategies te benader om sodoende hul doelwitte te bereik.  “Ons het ook waardevolle raad vanaf die beoordelaars ontvang wat ons prakties in ons besigheid kan toepas en dit het ons gehelp om die lewensvatbaarheid en volhoubaarheid van verskeie aspekte van ons besigheid te ontleed.”

Opperman is ook ʼn BCom (Ondernemingsbestuur)-student by Akademia en hy vertel dat sy studies hom geweldig help met die bestuur en uitbou van sy besigheid. Hy noem dat om ʼn besigheid te bestuur terwyl jy studeer beslis gedoen kan word, mits mens streng tydsbestuur, goeie beplanning en vaste skedules instel om ʼn balans tussen werk en studies te hou.

Hy is beslis dankbaar dat hy en die mede-eienaar van Customsites besluit het om aan die Sakeplankompetisie deel te neem. “Die kompetisie was ʼn uitstekende netwerkgeleentheid en het ons gehelp deur publisiteit vir ons besigheid te verskaf. Die pryse wat ons ontvang het, het ons ook gehelp om die besigheid verder te ontwikkel.”

Die prysgeld is onder andere gebruik om nuwe sagteware aan te koop, sowel as vir interne versterking vir die besigheid. “Customsites gaan binnekort ʼn nuwe diens bekendstel en ons gaan van die prysgeld gebruik om ʼn bemarkingsveldtog hiervoor van stapel te stuur.”

Hy raai toekomstige deelnemers van die sakeplankompetisie aan om hard aan hul sakeplanne te werk, realisties te wees wat beplanning betref en voorbereid te wees vir die kompetisie. “Maak die beste van die geleentheid en sien dit as ʼn goue geleentheid om te leer. Die kompetisie is geskep om jou te help om jou besigheid suksesvol op die been te bring.”

Die span beoog om oor vyf jaar ʼn eie kantoor te open met ʼn paar permanente werknemers en ʼn groot kliëntebasis. Hulle ideaal sal wees om binne vyf jaar die grootste markaandeel van webontwerp in die Noord-Kaap oor te neem en die besigheid verder uit te brei tot Customsites ʼn huishoudelike naam is wat webontwerp betref. Akademia is trots op die span se groei tot dusver en hou die besigheid se vordering met opgewondenheid dop.

Indien jy meer wil uitvind oor Customsites en die dienste wat hul aanbied, besoek gerus hul webwerf hier. Jy kan Customsites ook vind op Facebook en Instagram vir meer inligting.

Die Sakeplankompetisie vir BCom (Ondernemingsbestuur)-studente by Akademia skop weer dié maand af. Indien jy dink dat jou sakeplan ʼn wenresep vir ʼn suksesvolle besigheid is, gaan besoek gerus die Studentesake-portaal se BCom (Ondernemingsbestuur) Sakeplankompetisie 2022-afdeling op die Spens vir meer inligting. Maak van jou besigheidsdroom ʼn realiteit.

Die Customsites-span, Wikus Basson en Janco Opperman, se besigheidsplan het die BCom (Ondernemingsbestuur): Sakeplankompetisie 2021 gewen en hul besigheid groei steeds van krag tot krag.