Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Akademia bied nou ook voltydse studies op kampus

Gepubliseer op: 2 Junie 2020

Die Afrikaanse hoëronderwysinstelling Akademia staan sedert 2012 bekend vir nauurse studies deur die gebruik van gevorderde tegnologie. Hierdie model is veral aantreklik vir werkendes wat verder wil studeer en hulle loopbaanmoontlikhede verbreed. Vanaf 2021 word ʼn bykomende voltydse model vir skoolverlaters in die vooruitsig gestel. Studente sal bedags kan klas draf op die Centurion-kampus, waar hulle op ʼn tradisionele wyse onderrig word deur ʼn dosent wat fisies in die klas teenwoordig is.

Die kampusmodel word ingerig met ʼn kafeteria, kliëntedienssentrum, ʼn biblioteek, asook verskeie studente-ondersteuningsinisiatiewe. Studente in hierdie model geniet die keuse van ʼn selfs meer omvattende studentelewe. Daar word beoog om vanaf volgende jaar nege grade in die Bestuurswetenskappe, Geesteswetenskappe, Opvoedkunde en Regsgeleerdheid op die Centurion-kampus aan te bied. Aansoeke vir vyf van die kwalifikasies is reeds oop.

“Die gemeenskap se behoefte na ʼn Afrikaanse hoëronderwysinstelling waar studente ook voltyds op ʼn vriendelike en veilige kampus kan studeer het die afgelope tyd drasties toegeneem,” sê Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia. “Die fondasie van die bestaande nauurse onderrigmodel is goed vasgelê en is Akademia nou gereed om hierdie behoefte aan te spreek.”

Die uitbreiding by Akademia is ʼn besondere mylpaal vir die instelling en skep hoop vir Afrikaanssprekendes wat in ʼn gehalte-omgewing onderrig in hulle moedertaal wil ontvang. “Die eerste studente wat vanaf volgende jaar op Akademia se Centurion-kampus aansluit gaan baanbrekers wees in die vestiging van kampustradisies wat vir dekades hierna nog nagevolg sal word,” reken Visser.

Die bykomende voltydse kontakmodel dien as die tussentydse stap van ʼn groter projek – die ontwikkeling van ʼn residensiële kampus waar ongeveer 5 000 voorgraadse studente voltyds sal studeer. “Hier sal uiteindelik ʼn breë spektrum van voorgraadse programme vanuit sewe fakulteite aangebied word,” vertel Visser. Die eerste dekane hiervoor is reeds in 2019 aangestel en hulle werk voluit aan die ontwikkeling en akkreditasie van nuwe kwalifikasies. Nagraadse kwalifikasies sal later infaseer word.

Ongeag die model wat die student kies, voltyds of nauurs, is Akademia daartoe verbind om op ʼn uitnemende wyse aan die behoefte van professionele opleiding te voorsien. Die instelling strewe ook voluit na die klassieke ideaal van opvoeding soos wat dit oor eeue in die tradisionele universiteitswese manifesteer het.

Volgens die akademiese hoof van Akademia, professor Danie Goosen, volg universiteite wat vandag by die klassieke universiteitsmodel aansluit ʼn dubbele benadering in hulle dosering. “In ons hipertegnologiese era geskied dosering die beste wanneer dit deur sowel ʼn direkte kontak tussen dosente en studente as deur ʼn tegnologies bemiddelde ondersteuning en hulpbronne geskied.” Hy meen dat beide die direkte en die tegnologiese aspekte belangrik is vir Akademia, en dat die klassieke opleiding en opvoeding van studente deur hierdie kombinasie tot reg kom.

“Met die ontwikkeling van die tussentydse kampus vir heeltydse studente gee Akademia ʼn reusetree om haar eie direkte benadering uit te bou en te versterk – dit alles sonder om die bestaande tegnologiese model af te water,” sê Goosen. “Inteendeel, Akademia voorsien dat beide benaderinge mekaar in die toekoms sal aanvul en versterk.”

Akademia hou op ʼn 29 Augustus ʼn aanlyn kampusopedag om aan voornemende studente meer inligting oor hulle studiemoontlikhede te verskaf en om op ʼn virtuele wyse te demonstreer hoe die tussentydse kampus ingerig word. Vir meer inligting oor Akademia besoek www.akademia.ac.za, e-pos navrae@akademia.ac.za of stuur ʼn WhatsApp na 0861 222 888.