Search
Close this search box.

Universiteite in krisis

Gepubliseer op: 6 Junie 2020

Geskryf deur professor Danie Goosen, akademiese hoof van Akademia

Universiteite is wêreldwyd in sowel ekonomiese as kulturele krisisse vasgevang. Die oorsprong daarvan gaan die koronavirus lank vooruit. Laasgenoemde het slegs die krisisse verdiep.

1. Ekonomiese krisisse

Alhoewel die ekonomiese uitdagings waarvoor Suid-Afrikaanse staatsuniversiteite staan verskil van byvoorbeeld dié in die VSA, stem hulle toestand tog oorhoofs gesien ooreen.

Volgens voorspellings wat tans oor ʼn groot aantal middelslag universiteite in die VSA gemaak word, sal hulle binnekort hul deure moet sluit. Terselfdertyd dui alles daarop dat die sogenaamde Ivy League-universiteite in die VSA en Brittanje selfs nog duurder as in die verlede gaan word. Slegs die rykstes sal dit kan bekostig om hul kinders soontoe te stuur.

In Suid-Afrika sal die staat, ondanks die benarde finansiële toestand waarin hyself verkeer, waarskynlik poog om die bestaande universiteite in stand te behou. Inderwaarheid is verskeie Suid-Afrikaanse universiteite ernstig in die moeilikheid. Na regte het hulle, as gesonde ekonomiese maatstawwe ingespan word, nie meer ʼn bestaansreg nie. Dit sluit voormalige Afrikaanse universiteite in.

Om die volle omvang van die ekonomiese krisis te begryp, moet in gedagte gehou word dat die persentasie hoërskoolleerlinge wat die afgelope dekades wêreldwyd hul studies aan tersiêre inrigtings voortgesit het die hoogte ingeskiet het. Die Amerikaanse syfers stem waarskynlik ooreen met wat elders gebeur het: Tydens die 40’er jare het slegs sowat 10% van hoërskoolleerlinge in die VSA verder studeer. Vandag is dit in die omgewing van 70%. Universiteite het uit hul nate gebars.

ʼn Belangrike rede daarvoor is die ekonomiese voordeel wat aan ʼn universiteitsgraad verbonde is. Volgens navorsers aan die Universiteit van Fordham verdien studente met ʼn universiteitskwalifikasie oor ʼn gemiddelde leeftyd selfs een miljoen dollar meer as hul eweknieë wat nie sodanige kwalifikasies verwerf het nie.

Maar juis hier lê een van die groot probleme. Ondanks die duidelike finansiële voordeel om aan ʼn universiteit te studeer, het dit ironies genoeg die afgelope 30 jaar moeiliker vir studente geword om aan ʼn universiteit te studeer. Volgens dieselfde navorsers het die inkomste van ʼn tipiese Amerikaanse familie in dié tyd met 147% gestyg, terwyl die kostes verbonde aan ʼn universitêre opleiding met 500% gestyg het. Talle studente in die VSA is as gevolg daarvan ook diep in die skuld gedompel. Tans beloop totale uitstaande studentelenings daar ʼn ongeëwenaarde bedrag van $1,6 triljoen.

Soortgelyke tendense is aan Suid-Afrikaanse universiteite aanwesig. Soos in die VSA verseker ʼn plaaslike universiteitsopleiding dat studente gemiddeld meer as studente sonder sodanige opleiding sal verdien. Nogtans is verskeie universiteite (ook voormalige Afrikaanse universiteite) diep in die rooi, met studentegelde wat in die afsienbare toekoms na alle waarskynlik steeds ʼn skerp stygende kurwe gaan toon.

Verskeie woordvoerders het reeds gewaarsku teen die moeilike ekonomiese tye wat vir plaaslike universiteite voorlê. Tot dusver het die staat nog nie met ʼn plan vorendag gekom hoe hy die finansiële probleme gaan oplos nie. Geen wonder nie dat die gedagte van die private universiteit toenemend as die oplossing vir die toekoms gesien word. In hierdie sin verteenwoordig Akademia as private hoëronderwysinstelling die toekoms vir die Afrikaanssprekende student in Suid-Afrika.

2. Kulturele krisisse

Universiteite ervaar egter wêreldwyd nie net ernstige ekonomiese probleme nie. Meestal lê die krisisse selfs veel dieper. Universiteite ervaar ook krisisse met betrekking tot hul tradisionele grondslae en die doel van die universiteitswese self.

Anders as wat dikwels naïef aanvaar word, ontvang studente nie net opleiding aan universiteite met die oog op suksesvolle loopbane nie. Studente word ook deur universiteite vir die lewe opgevoed. Rondom die opvoedingsfunksie ervaar universiteite vandag egter diep onsekerheid.

Volgens die klassieke opvatting van die universiteit behoort studente ook in die eeueoue grondslae van die Westerse kultuur opgevoed te word. So word studente in staat gestel om nie bloot spesialistekennis van bepaalde dissiplines te verwerf nie. Hulle word terselfdertyd in staat gestel om die verbande tussen die verskillende dissiplines raak te sien, en om uiteindelik as verantwoordelike burgers met karakter aan die sake van hul onderskeie gemeenskappe deel te neem.

Rondom hul tradisionele opvoedingstaak ervaar universiteite vandag groot onsekerheid. Vanweë ʼn negatiewe kultuur van selfontkenning wat aan universiteite die botoon voer, twyfel universiteite aan die tradisionele grondslae van die Westerse kultuur. In plaas daarvan om hierdie grondslae krities toe te eien en ook aan volgende geslagte oor te dra, word dit aan verskillende vorme van ‘destruksie’ onderwerp.

Meestal is die onderliggende boodskap wat professore in veral die sosiale en geesteswetenskappe uitdra dat die Westerse kultuur ʼn gewelddadige en daarom skynbaar bose kultuur is. In teenstelling daarmee verteenwoordig nie-Westerse kulture in hul oë dikwels die nastrewingswaardige “goeie”. Van ʼn poging om die Westerse verlede histories te kontekstualiseer, is weinig sprake. Trouens, professore wat dit nog aan die Ivy League-universiteite waag om die grootsheid van die Westerse kultuur te besing, word vandag met ʼn sterwende spesie vergelyk.

David Goodhart skryf in The Road to Somewhere dat Britse universiteite soos Oxford en Cambridge “the single most important institutional driver of contemporary Anywhere liberalism” geword het. Met “Anywhere liberalism” verwys Goodhart na die verbintenis van Britse universiteite om van hul Westerse grondslae afskeid te neem en figuurlike emigrasie daaruit aan te moedig.

Met verwysing na die beroemde Harvard Regsfakulteit skryf The Economist reeds ʼn geruime tyd gelede dat dit “the command centre of American liberalism” geword het: “The school’s faculty is, by some accounts, overwhelmingly liberal – too liberal even for the mainstream of the Democaratic Party”. Alhoewel die begrip “liberaal” verskillende betekenisse het, dui dit in genoemde konteks op daardie denke wat die Westerse kultuur as boos kriminaliseer.

Bogenoemde tendense is ook aan Suid-Afrikaanse universiteite aanwesig. Etienne van Heerden ontwikkel in sy jongste boek, Die biblioteek aan die einde van die wêreld, verskillende treffende gesigspunte op die #FeesMustFall-beweging in 2015 aan die Universiteit van Kaapstad. Enkele aspekte van sy beskrywing stem ooreen met wat bondig hierbo beskryf is.

Waar laat dit die Afrikaanse student? Is hulle aan bogenoemde tendense uitgelewer? Uit die kommentaar wat onlangs oor die invloed van die koronavirus op die universiteitswese gepubliseer is wag daar op dié universiteite wat nog tot die klassieke ideale van uitnemende opleiding en opvoeding verbind is ʼn blink toekoms. Hulle bied ʼn onontbeerlike diens vir die hedendaagse student.

Dit is veral universiteite wat uit gemeenskaplike kulturele bronne gevoed word en ook in diens van hul eie gemeenskappe staan. Sowel ekonomiese as kultureel is hierdie universiteite in staat om die uitdagings te bowe kom. Die goeie nuus is dat so ʼn hoëronderwysinstelling nie net reeds onder ons bestaan nie, maar dat sy ʼn skerp groeikurwe onder Afrikaanse studente toon. Ons verwys uiteraard na Akademia.