Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Een van die korona-‘wolk’ se silwer randjies

Gepubliseer op: 16 Junie 2020

Geskryf deur Riana Crafford, dosent in Bedryfsinligtingstelsels aan Akademia.

Elke jaar skop ek my reeks lesings vir Bedryfsinligtingstelsels 101 af met ʼn aptytwekkertjie om die plek wat IT-stelsels in ons lewens het aan studente te illustreer. Ek gaan maak ʼn draai by die Vierde Nywerheidsrewolusie (4NR) en ontwrigtende tegnologieë en gebruik my gunstelingaanhaling van Klaus Schwab, voorsitter van die Wêreld Ekonomiese Forum.

Die eerste reaksie wat ek uit die studentegeledere kry, is ongeloof: “Nie in Suid-Afrika nie, ons is ver agter die res van die wêreld. Ons is nou eers by die derde rewolusie …”

My vermoede is dat Schwab se deuntjie na afloop van hierdie pandemie kan verander. Die eintlike ontwrigter is toe ʼn submikroskopiese organiese struktuurtjie genaamd Covid-19, en nie tegnologie nie. Kan jy glo hoe hierdie virus ons leefwêreld fundamenteel kom verander het?

Hoe dankbaar is ons nou nie oor die sogenaamde ontwrigtende tegnologie nie. Ja, juis dit wat baie mense tot nou toe gevrees het. (Die studente se tweede reaksie, na die ongeloof, is gewoonlik vrees: “Rekenaars en kunsmatige intelligensie gaan ons werk afvat!”)

Wel, daar is net mooi die teenoorgestelde toe waar. Die ondernemings en werknemers wat tans die minste ontwrigting ervaar, is dié wat juis al begin deelneem het aan die tegnologiese rewolusie. Die ondernemings wat al voorheen hulle IT-verwerking en berging van data geskuif het na die ‘wolk’ (wolkberging en -verwerking deur middel van die internet), kan nou in baie gevalle onverpoos voortgaan met hulle bedrywighede, of ten slegste met geringe aanpassings steeds aan die werk bly.

Dit is juis daarom dat die idioom “Elke donker wolk het ʼn silwer randjie” die situasie so mooi raakvat. Covid-19 blyk medies gesproke ʼn yslike bedreiging (donker wolk) te wees, maar ekonomies gesproke bied die ‘wolk’ soveel oplossings ten spyte van sulke uitdagings dat ons op verskeie fronte steeds dienste en produkte kan lewer.

Die wolk is dus die silwer rand in hierdie situasie.

Kom ons oorweeg die volgende geval:

Die president het aangekondig dat die Departement van Gesondheid ʼn grootskaalse poging loods om landwyd mobiele virustoetsing en opsporing van huis-tot-huis te doen. Hoe gaan dit moontlik wees? Daar is nie veel besonderhede bekendgemaak waarvan ek weet nie, maar ek kan my verbeelding gebruik: mobiele toepassings en verspreide databasisse, gekoppel deur die internet, sal aan die hart hiervan moet lê.

Ons sal ʼn ‘wolk’ van Covid-19-status data moet stoor oor burgers uit elke streek en provinsie. Hierdie inligting sal dan sentraal verwerk en ontleed moet word, heel waarskynlik met die hulp van gesofistikeerde besluitnemingsondersteuningstelsels. Hierdie prosesse vind by die Wetenskaplike en Nywerheidnavorsingsraad (WNNR) plaas. In president Ramaphosa se woorde: “Daardie wêreldklas instelling.”

Daarna sal inligting soos instruksies en protokolle na die veld teruggestuur moet word. Boonop is die spoed van toetsing, die bekendmaak van uitslae en die opsporing van almal waarmee die nuutste slagoffer in aanraking was, asook hulle isolering, van die allergrootste belang om daai kurwe so plat as moontlik te hou.

Spoed, wie praat van spoed? Dis mos inligting-en kommunikasietegnologie (IKT) se kos! Dankie tog vir uitgebreide IKT-infrastruktuur in Suid-Afrika wat ons ook op hierdie manier kan dien. As daar oponthoude is, kan ons dit verseker nie voor die deur van tegnologie lê nie, maar eerder voor dié van die implementeerders van die noodmaatreëls.

Dan dink ons ook aan die emosionele en sosiale impak van die isolasie. Hoeveel enkellopers en mense wat van hulle families geskei is deur omstandighede en grendeltyd, staan nie die kans om totaal te vereensaam en in depressie te verval nie? Hoeveel ouer mense en hulpbehoewendes sou nie krepeer het van ellende as daar nie gesofistikeerde tegnologie was om mense virtueel te help sosialiseer en hulpkrete uit te stuur nie. Hier verwys ons na enigiets van WhatsApp-video-oproepe, tot toepassings wat hulp ontbied onder voorafbepaalde omstandighede. Viva tegnologie!

Suid-Afrikaners, dis maar twee voorbeelde, daar is nog vele ander wat in hierdie tyd soos ʼn paal bo water staan. 4NR is hier plaaslik en dit werk hard vir ons!

Soos die hoof uitvoerende beampte van die professionele liggaam, die Instituut vir IT-praktisyns in Suid-Afrika (IITPSA), Tony Parry, in ʼn nuusbrief gesê het: “IT-kundiges het tans ʼn leeue-aandeel daarin om die ekonomie en die land suksesvol en produktief te hou.”

Ek wil graag skeptici en wankelmoediges aanmoedig om hulle houding teenoor die sogenaamde ‘ontwrigtende tegnologieë’ te verander. Van die vroegste tye moes (en hét) mense bly aanpas by veranderings en dis glad nie anders in die 21ste eeu nie. Dit is nou een ding van die mensdom – ons het ʼn ingeskape vermoë om aanpasbaar te wees. Net jammer dat ons ook ʼn inherente weersin aan verandering het – daarmee moet ons gedurig stoei!

Ons Hemelse Vader het immers nie vir ons ʼn gees van vrees gegee nie, maar een van krag… (2 Tim 1:7). Die Nuwe Lewende Vertaling sê dit so: “Want God het ons nie ʼn gees van lafhartigheid gegee nie, maar van krag, liefde en selfbeheersing.” Ons is nie slagoffers van gebeure buite die beheer van ons Vader nie. In geloof en met vindingrykheid kan ons die nuwe toekoms dapper tegemoet gaan met daardie tegnologie om vir ons te werk.

Na Covid-19 gaan ons lewens heel waarskynlik anders lyk as die prentjie wat ons oor ons toekoms gehad het, maar laat dit ons nie bekommer nie. Ons is veilig in die Vader se hande en Hy gee vir ons alles wat ons nodig het, ongeag die omstandighede. In hierdie geval reken ek inligting­tegnologie as deel van Sy voorsiening. Kom ons omhels dit en maak seker ons weet hoe om dit ten beste aan te wend. Kom ons dank Hom daarvoor, ook vir die duisende tegnici wat regdeur grendeltyd kliphard werk om ons tegnologiese lewensreddingslyn(e) in goeie werkende toestand te hou.

Stem jy nou met my saam dat die sogenaamde tegnologiese ‘wolk’ die donker korona-wolk darem so bietjie ligter laat lyk?

Riana Crafford is ʼn dosent in Bedryfsinligtingstelsels aan Akademia