Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia plant “Vlam van die Vlakte” ter viering van boomplantweek

Gepubliseer op: 10 September 2021

Geskryf deur prof. Hannes Rautenbach, dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe

In Suid-Afrika word boomplantweek jaarliks tussen 30 Augustus en 5 September deur die Departement Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling gevier. Daarmee saam staan September ook as Erfenismaand bekend.

Teen hierdie agtergrond het Akademia besluit om ter viering van boomplantweek op 9 September vanjaar bome te plant om simbolies klem te lê op die instelling se rol in en toekomstige groei in die Suid-Afrikaanse samelewing.

Die plante wat Akademia op ʼn hoë vlakte by ʼn oop stuk grond in Pretoria-Oos geplant het, staan bekend as die “Vlam van die Vlakte” (Bauhinia galpinii). Drie van hierdie plante is langs mekaar geplant sodat hulle in die lente ʼn pragtige vlammuur van blomme maak wat vanaf die koppie vertoon. Die plant kom voor as ʼn struik of boom en is gehard, bladwisselend en ook droogte- en rypbestand met skoenlappervormige blare. Kenmerkend aan die plant is die groot hoeveelheid helder oranjekleurige blomme wat gedurende die laatlente voorkom. In blomtyd vertoon die plante soos oranje vlamme oor die bosveldvlaktes, vandaar die naam Vlam van die Vlakte.

Daar is op die soort plant besluit om te plant omdat dit inheems is en ook baie aanpasbaar is in die Afrikaklimaat, en veral omdat die plant se vol oranje blommekleed baie opmerklik is en vanaf ʼn lang afstand af gesien kan word. Volgens prof. Hannes Rautenbach, dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe by Akademia, gee die Vlam van die Vlakte simbolies op vier wyses gestalte aan die wese van Akademia:

  • Die instelling bestaan fundamenteel uit personeel en studente waar kennis wat oor die loop van die geskiedenis ingewin is gebruik word om die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskap akademies toe te rus en om Afrikaans as akademiese taal te laat groei en te bevorder.
  • Die instelling het die afgelope jare gegroei in vakdissiplines, departemente en fakulteite met verskeie studieprogramme wat studente en navorsers in staat stel om kwalifikasies en navorsingsuitsette van hoogstaande gehalte te kan behaal of te produseer. Hierdie studente en navorsers dra by tot suksesse van die groter Suid-Afrikaanse gemeenskap, en selfs verder.
  • In ʼn Afrikaomgewing streef Akademia daarna om vernuwend op ʼn verwonderende wyse verbind te wees aan die ware, die goeie en die skone ten grondslag van die Christelike geloof en skeppingsgebeure.
  • Die instelling wil op ʼn sigbare wyse goeie verhoudinge met ander gemeenskappe en belangegroepe handhaaf en laat groei volgens die riglyne van naasteliefde, wedersydse erkenning en respek.

 

Die simboliek van bogenoemde word treffend vervat in die volgende:

WORTEL:

Diep vleg die neuronnet van my wortels deur vervloë sediment van grond en klip om die damp van kennis deur my vaskulêre bundel uit te suig en op te trek.

STAM:

Boontoe vermenigvuldig my stam in strome van uitnemendheid na takke wat in die lugruim ingryp om my suurstof van wysheid in die kosmos uit te asem.

BLAAR:

Groen kleur die vorm van my blare gevoed deur die samehang van die Afrikagrond, lug en son om in skoonheid en goedheid vernuwend aan te groei na die waarheid.

BLOM:

Helder vlam my blomme oor die uitgestrekte landskap van veelheid om op my hoë grond ʼn lig van inspirasie uit te straal na die vlakteheuwels.

Prof. Hannes Rautenbach, dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe, saam met een van die Vlam van die Vlakte-bome wat Akademia ter viering van Boomplantweek geplant het.