Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Internasionale Geletterdheidsdag – Hoe vernou Akademia die digitale kloof?

Gepubliseer op: 8 September 2021

Geletterdheid is vir jou wat hier lees dalk vanselfsprekend, maar 13% van die Suid-Afrikaanse bevolking is nie geletterdheid nie, en daarmee saam is Covid-19 besig om daardie kloof nog groter te maak. Volgens die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (Unesco) het die gemiddelde kind as gevolg van inperkings teen November verlede jaar 54% van die jaar se kontaktyd verloor. Dit beteken egter in praktyk dat hulle meer as ʼn jaar se leer verloor het, want die vorige leer is nie in hierdie tyd behoorlik vasgelê nie. Wêreldwyd is daar vandag ten minste 773 miljoen jongmense en volwassenes wat nie oor die basiese geletterdheidsvaardighede beskik nie.

Dae soos Internasionale Geletterdheidsdag wat al sedert 1967 op 8 September gevier word se doel is om gemeenskappe se aandag op die belangrikheid van geletterdheid te vestig. Die tema van vanjaar se vieringe is: Geletterdheid vir ʼn mensgesentreerde herstel – vernouing van die digitale kloof.

Akademia, die privaat hoëronderwysinstelling, dra op verskeie maniere by om hierdie digitale kloof te help vernou. Een hiervan is Akademia se mediasentrum wat daarop toegespits is om meer as net toegang tot hardekopieboeke te verskaf. Die mediasentrum se aanlyn versameling bestaan tans uit die volgende bronne:

  • Gutenbergprojek – 40 000 e-boeke
  • EBSCOhost-databasis – 2 250 akademiese joernale vir onder meer die Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, Onderwys, Kommunikasiekunde en Joernalistiek
  • EBSCHOhost – 15 000 e-boeke (wat voorgeskrewe studentehandboeke insluit)
  • JutaStats – wette en hofsake vir die regstudente

 

Nog ʼn manier waarop Akademia dalk die grootste bydrae tot die vernouing van die digitale kloof lewer is moedertaalonderrig. Geletterdheid is soos lewensasem nodig vir ons bestaan en moedertaalonderrig maak geletterdheid moontlik. Moedertaalonderrig word allerweë as die beste vorm van onderrig beskou en speel daarom ʼn kernrol om (digitale) geletterdheid te bevorder en hierdie digitale kloof te vernou.

By Akademia word gevorderde tegnologie veral in die nauurse onderrigleermodel ingespan wat dit vir studente, ongeag hulle ligging, moontlik maak om in hulle moedertaal te studeer. Dit is juis hierdie tegnologiese infrastruktuur wat verseker het dat studente tydens die inperking ongestoord verder kon studeer.

Akademia is geroepe om ʼn verskil in die gemeenskap te maak wat geletterdheid betref. Dit is daarom vir die instelling belangrik om veral met die jongste program, BEd (Intermediêre Fase-onderwys), wat onlangs bekend gemaak is, onderwysers op te lei wat op hulle beurt geletterdheid deur middel van moedertaalonderrig bevorder. In hierdie program word die studente voorberei om lewenslange leerders te wees ten einde tred te hou en leiding te neem in die snelveranderde en tegnologiesgevorderde onderwysomgewing.

Besoek die Akademia-webblad vir meer inligting oor die jongste BEd (Intermediêre Fase-onderwys)-kwalifikasie of onderrigleermodelle.

Bronne

UNESCO. 2021. International Literacy Day. Literacy for a human-centred recovery: Narrowing the digital divide. https://en.unesco.org/sites/default/files/ild-2021-concept-note-en.pdf [Datum van gebruik: 6 September 2021].

World Population Review. 2021. Literacy Rate By Country 2021. https://worldpopulationreview.com/country-rankings/literacy-rate-by-country [Datum van gebruik: 6 September 2021].