Kampusopedag op 10 en 11 Mei is in

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Nasionale Boekweek – om te lees of te luister

Gepubliseer op: 1 September 2021

Geskryf deur Lianda Coetzer, bibliotekaris by Akademia se mediasentrum

Almal ken die bekende dr. Seuss-aanhaling: “Om te lees neem jou na plekke waar jy nog nooit vantevore was nie”. Maar wat daarvan om na ʼn oudioboek te luister?

Ter viering van Nasionale Boekweek, wat vanaf 6 tot 12 September plaasvind, kyk ons na boeke en wat die meeste voordelig is: om te lees of daarna te luister. Dit is alombekend dat lees eindelose voordele inhou – soos om jou gedagtes verder te prikkel, verbeelding aan te moedig en skryfvaardighede op te skerp. Lees is vir jare lank slegs met fisiese boeke geassosieer, maar toe kom die vraag: Wat is beter, fisiese boeke of oudioboeke?

Die vraag bly staan – moet ek ʼn boek lees of moet ek na ʼn boek luister? Wat is die voor- en nadele van elk? Het die luisterproses van ʼn klankboek dieselfde verstandelike impak as om ʼn boek te lees?

As jy nie tyd het om ʼn fisiese boek te sit en lees nie, is dit net so goed om na ʼn oudioboek te luister. Navorsing het bevind dat verhale dieselfde kognitiewe en emosionele gebiede in die brein stimuleer, ongeag die medium. Met ander woorde, of jy nou na ʼn boek luister of woorde lees, dit aktiveer steeds dieselfde breinstreke met dieselfde intensiteit, ongeag die insette.

Oudioboeke het verskeie voordele. Oudioboeke kan help om die uitspraak van woorde te verbeter wat veral help vir mense wat ʼn oudioboek in ʼn tweede of derde taal luister. Oudioboeke is ook ideaal vir mense om steeds die boek se inhoud te kan inneem as jy nie kan lees nie of swak sig het. Jy kan ook verskeie fisiese aktiwiteite uitvoer terwyl jy in die agtergrond luister na die boek, soos om te bestuur, te oefen of selfs kos te maak. ʼn Mens moet ook egter besef dat jou konsentrasie makliker onderbreek kan word indien jy na ʼn oudioboek luister terwyl jy ander aktiwiteite uitvoer.

Daar is wel nadele van oudioboeke. Een hiervan is dat die stemtoon dalk nie aanklank by die luisteraar vind nie of dat die pas te vinnig of te stadig kan wees. Dit is ook waar dat die meeste mense vinniger lees as wat hul kan luister. Jy sal dus eintlik vinniger deur die boek kom deur dit fisies te lees as om daarna te luister indien dit woord vir woord in oudioformaat is. Nog ʼn nadeel is dat daar niks is wat die reuk van ‘n nuwe boek (genoem bibliosmia of boekgeur) en die buigsaamheid van ʼn boek kan vervang nie.

Die vraag of boeklees of boekluister die beste is, is moeilik om te beantwoord. Dit is belangrik om te onthou dat daar verskeie leermetodes is en dat sommiges lees sal verkies, terwyl ander mense eerder sal luister. Die feit bly staan of jy nou ʼn fisiese boek verkies of na ʼn oudioboek luister, die wonderlikheid daarvan is dat boeke vermaaklik is, jou woordeskat verbreed en voordelig vir jou gesondheid kan wees.

Lianda Coetzer is die Akademia-mediasentrum se raakvat bibliotekaris met ʼn passie vir mense en boeke.