Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Noord-Kaapspan wen prysgeld vir blink sakeplanidee tydens kompetisie

Gepubliseer op: 14 September 2021

Twee boesemvriende het vanaf kleintyd geweet dat hulle graag ʼn besigheid saam wou begin. Min het hulle geweet dat hierdie droom bewaarheid sou word. Wikus Basson en Janco Opperman van Customsites, twee jong entrepreneurs vanaf Kathu in die Noord-Kaap, het tydens die finale ronde van Akademia se Sakeplankompetisie in die BCom (Ondernemingsbestuur)-program met die Sol-Tech-wisseltrofee, welverdiende kontantprys van R30 000 en nog ander pryse weggestap. Die finale ronde het op 1 September by die Centurion-kampus plaasgevind.

Die Customsites-span het teen twee besonderse finaliste deelgeneem vir die titel – Marlene van Niekerk van Coffi-liscious vanuit Namibië en Ronan van Vuuren van Digital Dynamics vanuit Roodepoort. Die ander finaliste het ook weggestap met R10 000 elk om hul besigheidsdroom te bewaarheid asook verskeie ander pryse wat blootstellingsgeleenthede insluit.

Customsites, die wensakeplan, wat ʼn voorstel vir ʼn plaaslike webwerfontwerp-agentskap aangebied het, het behoorlik die gehoor en beoordelaars beïndruk met hulle blink sake-idees en praktiese planne om die sakeonderneming uiteindelik op die been te bring. Die finaliste moes tydens die finale ronde aanbiedings oor hul sakeplanne doen en het waardevolle advies van die gesoute paneel ontvang.

Die besigheid se oogmerk is om webwerwe teen bekostigbare pryse vir klein-, medium- en mikro-ondernemings te ontwerp en te ontwikkel wat weens beperkte tegniese vaardighede, tyd, kapasiteit of kennis dit nie noodwendig self kan doen nie. Customsites is amptelik in 2020 gestig en het reeds sedertdien verskillende besighede se webwerwe ontwikkel.

Die klein maar bekwame tweemansaak bestaan uit Opperman wat die besigheidsbestuurder, webontwerper en grafiese ontwerper is en Basson, die finansiële bestuurder, ontwerper en programmeerder. Dié studente het, met die kennis tot dusver uit Opperman se studies en Basson se ervaring, ʼn gaping in die mark gesien en hul belangstelling met kennis aangevul deur navorsing oor die webontwerpmark te doen.

Opperman het ná skool begin met die BCom (Ondernemingsbestuur)-kwalifikasie omdat hy voel dat die graad mens toerus met vaardighede wat op verskeie gebiede toegepas kan word. Hy het op Akademia besluit omdat die kultuur, tegnologie en ondersteuning van Akademia so reg in sy kraal was. Die feit dat hy ook by die instelling in sy moedertaal tersiêre onderrig kan ontvang het hom finaal oortuig.

Opperman en sy vennoot het besluit om aan vanjaar se kompetisie deel te neem aangesien hul dit gesien het as ʼn puik geleentheid om te leer en te verbeter, asook om waardevolle terugvoer vanaf kenners te kry oor hul sakeplan. “Jy kry ook kans om met verskeie sakelui te netwerk wat verdere geleenthede aan jou kan bied – dit is waarom die jong entrepreneurs van Akademia hierdie geleentheid met beide hande moet aangryp,” noem hy.

“Akademia se BCom (Ondernemingsbestuur) het my definitief toegerus met die nodige kennis en my gehelp om die vermoëns te ontwikkel om my besigheid te begin en die verskeie aspekte daarvan te bestuur,” noem Opperman. “Wanneer ek deur die teorie werk, dink ek altyd aan hoe dit van toepassing is op my besigheid en die kwalifikasie help my ook om probleme prakties in my besigheid op te los.”

Die span by Customsites se raad vir jong entrepreneurs is om krities te dink oor elke aspek van jou sakeplan wanneer jy ʼn besigheid wil begin en om seker te maak dat die idee werklik lewensvatbaar is. “Akademia se BCom (Ondernemingsbestuur)-kwalifikasie is ook deel van die nauurse model wat baie handig te pas kom vir mense soos ek wat reeds werk of aan ʼn besigheid wil bou terwyl hul studeer,” sê Opperman.

“Die ondersteuning vanaf ons vriende en familie motiveer ons om sukses te behaal. Ons is ook dankbaar vir die Akademia-personeel wat ons tuis laat voel het tydens die finale ronde, sowel as die goeie terugvoer en idees vanaf die borge en paneel,” vertel Opperman. “Ons is baie geëerd om met hierdie titel te kon wegstap, baie geluk ook aan al die ander deelnemers met hul goeie sakeplanne.”

“Baie dankie aan elke borg wat vanjaar se sakeplankompetisie moontlik gemaak het, veral aan die hoofborg Bongani Foundation wat R50 000 in kontant aan die wenners beskikbaar gestel het,” sê Monique Visser, programkoördineerder van die BCom (Ondernemingsbestuur)-kwalifikasie. Die dosente in die program het ongeveer R120 000 se pryse ingesamel.

Visser vertel ook verder dat die dosente in die program veral trots is op die prestasies van die sakeplanne wat noukeurig saamgestel is omdat dit aspekte van die verskeie modules so omvattend in hulle sakeplanne ingesluit het.

Customsites se visie vir hulle besigheid is groot en die Akademia-personeel en -studente hou hulle met groot verwagting dop. Hulle beoog om in die toekoms hul besigheid se diensaanbod verder uit te brei, asook om handelsmerkbewustheid te verhoog om sodoende ʼn groter kliëntebasis op te bou. Indien jy meer inligting oor hulle besigheid wil verkry en of die dinamiese studente wil ondersteun, besoek www.customsites.co.za, stuur ʼn e-pos na business@customsites.co.za of stuur ʼn WhatsApp na 064 618 6013.

Akademia se finale ronde van die jaarlikse Sakeplankompetisie vir Ondernemingsbestuurstudente het onlangs plaasgevind. Wikus Basson en Janco Opperman, twee passievolle jong entrepreneurs van die Noord-Kaap, se sakeplan vir hulle nuut-gevestigde besigheid, Customsites, het met die wenprys weggestap.
Die Customsites-span tydens hul voorlegging aan die paneel gedurende die finale ronde van die BCom (Ondernemingsbestuur) Sakeplankompetisie.
Opperman en Basson na die afloop van hul voorlegging waar hulle hulle sakeplan voorgelê het vir Customsites.
Opperman en Basson tydens hul finale onderhoud met Elsje van Jaarsveld as deel van die finale ronde van die Sakeplankompetisie.
VLNR: Ronan van Vuuren van Digital Dynamics, Wikus Basson en Janco Opperman van Customsites en Marlene van Niekerk van Coffi-liscious.