Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia-student net so tuis in die klaskamer as op die gholfbaan

Gepubliseer op: 15 September 2021

Rykie Combrink is ʼn uitblinker op die gholfbaan waar sy verlede jaar op provinsiale vlak tydens verskeie toernooie die podium bestyg het. Sy is ook ʼn dinamiese eerstejaarstudent in BCom (Finansiële en Bestuursrekeningkunde) by Akademia met groot drome vir haar toekoms.

Combrink se studiekeuse het op dié studierigting geval aangesien sy nog altyd ʼn liefde vir syfers gehad het. Sy het gekies om die kwalifikasie by Akademia te studeer aangesien die instelling haar gerusgestel het met akkurate en spoedige kommunikasie oor haar belangstellings en hoe dié kwalifikasie daarby inpas.

Sy glo ook dat die moedertaalonderrig wat sy ontvang die bousteen van sukses is. “Basiese konsepte wat die boustene vorm vir latere doeltreffende leer, word die heel beste deur moedertaalonderrig vasgelê. As jy verstaan wat jy lees is dit net soveel makliker om dit oor te dra aan ander en vrae daaroor te beantwoord.”

Combrink vertel dat haar akademiese en studentereis by die instelling ongelooflik is en dat sy dankbaar is dat daar nog minstens twee jaar daarvan vir haar voorlê. “Akademia bestaan uit mense wat omgee, vriendelik, liefdevol en vrolik is en wat my dadelik tuis laat voel het. Ek sien die instelling as my tweede familie.”

Haar gholfloopbaan het egter reeds as kind begin waar sy haar ma, wat ook op provinsiale vlak gholf gespeel het, asook haar tannie Esmé, wat vir Suid-Afrika gholf gespeel het, gereeld op die gholfbaan rondgevolg het. Hier het die gogga haar ook gebyt. Haar familie ondersteun haar ten volle wat haar gholf en studies betref en hulle speel gereeld as sportiewe familie saam gholf. “Ek het ʼn passie vir die gholf ontdek omdat dit ʼn kosbare manier is om tyd saam met familie en vriende deur te bring, en boonop ook die perfekte geleentheid bied om onvergeetlike herinneringe te maak,” vertel sy. Sy noem dat gholfoefening en studies nou die meeste van haar tyd opneem, maar dat sy met goeie beplanning en tydsbestuur ʼn goeie balans handhaaf.

Sy is in 2019 verkies om Limpopo in die Nomads- Suid-Afrikaanse Rose Bowl-kampioenskappe vir meisies te verteenwoordig waarna sy in haar afdeling sesde in Suid-Afrika geëindig het. In 2020 het sy weer die provinsie by die finale ronde van die GolfRSA Club Champion of Champions verteenwoordig. Combrink het ook aan die Limpopo Skoolkampioenskappe deelgeneem waar sy as afdelingswenner aangewys is, en sy het in 2020 in Gauteng-Noord se ope kampioenskappe die tweede plek in haar afdeling behaal.

Combrink hoop om haar tuisprovinsie, Limpopo, verder op provinsiale vlak te verteenwoordig en om in die toekoms aan die IPT- en die 72-Hole-toernooie deel te neem. Sy sien haarself ook binne vyf jaar as suksesvol binne ʼn finansiële loopbaan waar sy haar kwalifikasie in die werksplek kan toepas. Akademia hou met afwagting haar toekoms dop en wens haar alle sterkte toe.

Rykie Combrink het verlede jaar op provinsiale vlak presteer by die finaal van die GolfRSA Club Champion of Champions.