Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Is ons erfenis belangrik?

Gepubliseer op: 23 September 2021

Geskryf deur prof. Danie Goosen, akademiese hoof by Akademia.

Waarom heg Akademia soveel waarde aan ons kulturele erfenis? Moet Akademia nie ons kulturele erfenis ter wille van die toekoms vergeet nie? Verhinder dit nie Akademia om met daadkrag die toekoms tegemoet te gaan nie?

Verskeie woordvoerders voer vandag aan dat ons kulturele erfenis inderdaad ʼn las is. Omdat ons in ʼn dinamiese tydperk lewe, sê hulle, is dit beter om daarvan ontslae te raak. Om aan die ou ‘bronne’ vas te hou, beteken om nie toekomsgerig te wees nie.

Maar is dit so? Is ons kulturele bronne noodwendig ʼn las? En in aansluiting hierby, staan ʼn verbintenis tot die ou bronne noodwendig in spanning met ʼn gerigwees op die toekoms? Stel ons kulturele bronne ons nie juis in staat om die toekoms met selfvertroue tegemoet te gaan nie?

Om op hierdie belangrike vrae van ons tyd te antwoord, staan ons kortliks by twee punte stil. In die eerste plek is dit nodig om duidelik te wees oor wat ons met ons kulturele bronne bedoel. En in die tweede plek kan ook enkele opmerkings oor die verhouding tussen die ‘verlede’ en die ‘toekoms’ gemaak word. Hoe moet hierdie verhouding verstaan word?

  1. Ons kulturele bronne

Akademia handhaaf ʼn groot en omvattende beskouing van ons kulturele bronne. In aansluiting by enkele van ons universitêre bondgenote elders in die Westerse wêreld gaan Akademia uit van die gedagte dat dié bronne bondig saamgevat kan word in die drie stede uit ons verre verlede, naamlik ‘Jerusalem,’ ‘Athene’ en ‘Rome.’

Wat word daarmee bedoel? Wat verteenwoordig die ou Jerusalem, Athene en Rome? ʼn Antwoord hierop is belangrik, omdat die Westerse universiteitswese oor eeue by hierdie bronne aangesluit het. As gevolg daarvan was hulle kragtige instellings wat met ʼn soort onwankelbare gesag daarin geslaag het om geslagte van studente vir die toekoms voor te berei.

Inderwaarheid is dit maar eers in die onlangse tyd dat universiteite nie meer bewustelik by hierdie drie bronne uit die outyd aansluit nie. Volgens ons lei dit tot ʼn ernstige verarming van hulself en hul studentegemeenskappe.

‘Jerusalem’ is niks minder nie as ʼn metafoor van ons Christelike erfenis. Oor eeue het universiteite dié erfenis as die grondslag van die universiteitswese beskou. Universiteite was ten diepste in die waarhede van die geloof geanker.

So ʼn verandering is nie deur universiteite gesien as iets wat in spanning met hul verbintenis tot die denke gestaan het nie. Inteendeel, ʼn verankering in die waarhede van die geloof was as die voorwaarde vir die denke ervaar. Sonder dié ankers loop die denke die gevaar om in ‘patologieë’ soos die relativisme, die historisme en die nihilisme vas te val – presies wat vandag aan universiteite gebeur wat ‘Jerusalem’ prysgegee het.

‘Athene’ is oor alle eeue aan Westerse universiteite ervaar as die bron van die denke ervaar. Met die destydse Athene is die eerste tree gegee om ʼn vraende, kritiese en ‘dialogiese’ verhouding met die werklikheid aan te knoop. In die besonder het die Griekse denke die eerste tree gegee om te vra na die aard en wese (die natuur) van die werklikheid.

Vandag verteenwoordig hierdie vraag (of vrae soos: Wat is die aard van die mens, van die waarheid, van kennis, van die wetenskap, die geskiedenis, die politiek, die kosmos, ensovoorts?) steeds die wese van die universiteitswese.

Nogtans word dié ou bron vandag gekriminaliseer en as rassisties, kolonialisties en patriargaal voorgestel. Soos wat die Universiteit van Cambridge dit onlangs by monde van sy Departement Klassieke Studies (en in naam van ‘diversiteit’) voorgestel het.

In die mate waarin universiteite vandag van ‘Athene’ afskeid neem, vernietig hulle een van die hoekstene van die universiteitswese. Om daarenteen daarby aan te sluit, beteken om die band met ʼn lewegewende bron in stand te hou. Akademia doen dit onbeskaamd.

En laastens ‘Rome’. Klassieke Rome verteenwoordig metafories ons sin vir orde, wet en goeie administrasie. Universiteite het oor alle eeue ook hierby aangesluit. Tot groot voordeel van die studentegemeenskappe.

Maar ʼn soortgelyke argument is ook vandag op dié bron uit die verlede van toepassing: In die mate waarin universiteite vandag sonder meer van die ou Rome afskeid neem, word die universiteitswese verskraal. In die mate waarin hulle egter steeds daarby aansluit, kan universiteite steeds hoopgewende sentra van uitnemendheid wees.

  1. Wat die verhouding tussen verlede en toekoms?

In antwoord op hierdie vraag kan twee uiterstes vermy word. Ons verwys na sowel die ‘reaksionêre’ as die ‘progressiewe’ antwoorde.

Volgens die reaksionêre antwoord moet ons na die verlede terugkeer. Nou, dit verg nie ʼn groot verbeelding om te besef dat dit ʼn doodloopstraat vir universiteite beteken nie. Geen terugkeer is moontlik nie. Enige poging om terug te keer is by voorbaat gedoem om te misluk.

Volgens die progressiewe antwoord moet ons daarenteen alle gewig op die toekoms plaas. Ter wille daarvan moet universiteite van die verlede afskeid neem. Ook die gebreke van dié standpunt is duidelik. Ons het dit reeds hierbo bespreek. As ons kort kan saamvat: ʼn universiteit sonder Jerusalem, Athene en Rome kan geen egte universiteit wees nie.

ʼn Derde standpunt is egter moontlik. Ingevolge so ʼn derde weg is ʼn universiteit ʼn egte universiteit wanneer dit deur ʼn gesprek tussen die verlede en die toekoms gekenmerk word. Dit wil sê wanneer dit luister na die bronne; wanneer dit in gesprek daarmee tree, en wanneer dit vra na die betekenis van die ou bronne vir die toekoms.

In ander taal geformuleer, ʼn egte universiteit bemiddel op ʼn hermeneutiese wyse tussen die verlede en die toekoms. In en deur so ʼn bemiddeling word die verlede ʼn lewende werklikheid in die hede. Trouens, in en deur so ʼn bemiddeling kan die verlede op ʼn weg na die toekoms dui.

So ʼn hermeneutiese verhouding tussen die tye verteenwoordig sowel ʼn alternatief op die reaksionêre vlug na die verlede as die progressiewe verabsolutering van die toekoms. Akademia is tot dié derde (en tegelyk hoopgewende) alternatief verbind, dit wil sê tot ʼn hermeneutiese verhouding tussen verlede en toekoms.

Prof. Danie Goosen is die akademiese hoof van Akademia wat ʼn diep liefde vir die instelling se erfenis het.