Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Unisa-hofuitspraak skep ruimte vir Afrikaans

Gepubliseer op: 23 September 2021

Akademia het positief gereageer op die Konstitusionele Hof se uitspraak op 22 September wat ten gunste is dat Afrikaans steeds deel van die onderrigtaalbeleid van Unisa behoort te wees. Vir Akademia is hierdie uitspraak nog ʼn pen in die grond wat die stryd vir Afrikaanse onderrig behels.

Ligpunte in die uitspraak is die regter se klem op die feit dat Afrikaans deur ʼn groot aantal mense vanuit verskeie taal- en kultuurgemeenskappe gepraat word en dat Unisa daarom toegang in Afrikaans behoort te gee. Verder het die hof bevind dat die vraag na Afrikaanse onderrig nie dalend is nie en noemenswaardig in omvang is.

“Alhoewel Unisa ʼn openbare universiteit is (ʼn staatsorgaan, aldus die regter), beklemtoon die uitspraak die beginsel van toegang tot onderrig in die taal van jou keuse waar doenlik en moontlik,” sê Marthinus Visser, besturende direkteur by Akademia. “Wanneer hierdie uitspraak in samehang met die ‘Gelyke Kanse’-uitspraak beoordeel word, skep hierdie regspraak baie ruimte vir Afrikaans as onderrigtaal en soveel te meer vir privaat instellings, soos Akademia.”

Die kwessie wat deur hierdie saak belig is, is dat openbare universiteite (veral Unisa) nie daarin slaag om toegang te skep vir minderheidstaalgroepe nie. Visser reken dat die ideaal sou wees dat daar moontlikhede van hoë gehalte is vir byvoorbeeld die Venda-, Ndebele- en Afrikaanse student tot dieselfde mate as die Engelse student. “Openbare universiteite argumenteer dat dit nie prakties uitvoerbaar is nie en dat die oplossing is om ʼn eentaal-benadering te volg,” voeg Visser by. “Hierdie toedrag van sake lei daartoe dat taal-gemeenskappe op hulself aangewese is en dat die staat slegs ʼn Engelse alternatief bied. Laasgenoemde is as’t ware deur hoofregter Mogoeng bekragtig toe hy die opmerking gemaak het tydens die Gelyke Kanse-uitspraak, dat die toekoms van Afrikaans as onderrigtaal in die hande van die taalgemeenskap (lees privaat) lê.”

Vir Akademia is hierdie uitspraak positief. “Ons hoop dat Unisa daadwerklik planne sal maak om weer programme in Afrikaans aan te bied. Intussen spoor die uitspraak ons aan om vinniger en harder te werk om self toegang tot Afrikaanse hoër onderwys te skep en uit te bou.” Akademia se wense is dat daar ander minderheidstaalgemeenskappe is wat ook die selfdoenpad wil loop. “Ons is gereed om ʼn hand van vriendskap en hulp uit te reik,” sluit hy af.