Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Ateljeetegnikus by Akademia sluit kontrak om nauurs musiek te maak

Gepubliseer op: 28 September 2021

Jacques Leonard is reeds vanaf 2018 deel van die Akademia-familie as ateljeetegnikus in die afdeling: oudiovisueel. Die rol wat hy by die instelling beklee, behels die opneem van klasse wat studente ná afloop van kontaksessies weer vir hersiening kan luister. Leonard leef nauurs sy liefde vir musiek uit en het onlangs ʼn platekontrak met Universal Musiek gesluit.

Hy beskryf sy styl van musiek as ʼn mengelmoes van alternatiewe klanke en hy vind inspirasie by oorsese alternatiewe kunstenaars soos Post Malone, Nothing Nowhere en The Kid Laroi. Leonard het vroeër vanjaar ʼn liedjie, Belie Polisie, saam met Loufi opgeneem en vrygestel.

As passievolle musikant het hy op 11-jarige ouderdom begin sing en lirieke begin skryf nadat hy met alternatiewe Afrikaanse musiek bekendgestel is deur die destydse MK-kanaal. Hy het reeds vanaf ʼn jong ouderdom in sy verbeelding saam met groepe soos Straatligkinders en Die Heuwels Fantasties opgetree. “Ek het ook ʼn redelike musikale familie, maar niemand anders het dit al as loopbaan aangedurf nie,” vertel hy.

Op die vraag of die publiek hom herken, vertel hy dat hy wel by optredes herken word, maar dat mense hom nog nie in die publiek herken en met hom oor sy musiek kom gesels nie.

Sy raad aan iemand wat tegelyk twee uiteenlopende loopbane volg, is om harder as vantevore te werk. “ʼn Mens sal altyd tyd maak vir iets wat jy weet vir jou bedoel is en waarvoor jy ʼn passie het. Met fokus, harde werk en opofferings kan jy baie vêr kom.”

Leonard beplan nuwe musiek, nuwe musiekvideo’s en baie optredes in sy musikale toekoms. “Ek sien nie uitdagings nie, slegs oplossings. Die Here se hand is oor my musiekloopbaan. Verder geniet ek elke liewe oomblik in ʼn ateljee of op ʼn verhoog.”

Sy eerste enkelsnit saam met Universal Musiek is op 17 September tesame met ʼn musiekvideo vrygestel. Hierdie snit is op alle digitale platforms beskikbaar. Kyk dit gerus hier.

Jacques Leonard se lewe is gevul met klank as sanger by Universal Musiek en ook as ateljeetegnikus by Akademia.