Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Internasionale Vertalersdag: Verenig in vertaling

Gepubliseer op: 30 September 2021

Geskryf deur Karien Brits, taalpraktisyn by Akademia

Internasionale Vertalersdag word jaarliks op 30 September gevier. Hierdie dag is in 1991 deur die Internasionale Federasie van Vertalers (FIT) ingestel om erkenning aan die vertaalprofessie te gee. Vanjaar se tema is “Verenig in vertaling” omdat Covid-19 ons al vir langer as ʼn jaar van mekaar af weghou.

Vertalings en vertalers verenig Afrikaanssprekendes as ʼn gemeenskap en verbind hierdie taalgemeenskap ook met die res van die wêreld. Vertalers (en dit sluit tolke in) kry nie altyd die nodige erkenning wat hulle verdien nie. Ongelukkig beland vertalers net op die voorblad van die koerante as daar iets skeefloop.

Kom ons staan ʼn bietjie stil by die mense wat ons verenig in vertaling ten spyte van afstand en taalverskille.

Het jy vanoggend jou koppie koffie saam met jou koerant (gedruk of aanlyn) geniet? Daar is iemand wat iewers in die nuuskantoor gesit en berigte van internasionale nuusagentskappe vertaal het.

Geniet jy reekse op die kassie via plaaslike en internasionale stromingskanale? Ook ons vertalersvriende maak dit moontlik. As jy ouer as veertig is, sal jy nog onthou hoe ons Derrick of Beverly Hills 90210 in Afrikaans gekyk het. Deesdae is daar Turkse sepies wat ons in Afrikaans volg. Vertalings (onderskrifte) plaas Afrikaans ook op die internasionale verhoog wat Afrikaanse kykstof en die kunste betref.

Jy ontspan dalk graag in die aande met ʼn goeie Afrikaanse speurroman in die hand. Die Afrikaanse letterkunde sou ook nie vandag so geblom het as dit nie vir vertalings was nie. Mense moes daaraan gewoond gemaak word om in Afrikaans te lees en die vinnigste manier was om leesstof met behulp van vertalings te skep. Die Afrikaanse letterkunde bly nie net aan die suidpunt van Afrika nie, vertalings stel die wêreld aan ons beste letterkunde bekend.

Kan jy jou Sondae en ook die res van die week indink sonder die Afrikaanse vertaling van die Bybel? Dink net as ons vandag nog in slegs Latyn moes kerk hou. Terloops, 30 September is ook die feesdag van die kerkvader Hiëronimus (331-420 n.C.) wat as die beskermheer van vertalers beskou word.

So van die vertaling van die Bybel gepraat. Die feit dat jy hierdie artikel in Afrikaans kan lees, is ook aan die vertalingswerk van vyf eeue gelede te danke. Martin Luther se vertaling van die Bybel na Duits het ʼn hele kettingreaksie tot gevolg gehad. Duits as taal is gestandaardiseer, kinders het begin skoolgaan, en mense het begin besef dat Latyn nie die enigste akademiese taal hoef te wees nie. So het die Duitse vertaling ook indirek gelei tot die vertaling van die Bybel in Afrikaans. Dit het gehelp dat Afrikaans gestandaardiseer is en dat Akademia vandag nog Afrikaanssprekendes in staat stel om in hulle taal te kan leer en groei.

Dankie aan elke vertaler wat elke dag hard agter die skerms werk om Afrikaans te laat gedy.

Karien Brits, taalpraktisyn by Akademia.

Bronne

FIT. 2021. International Translation Day. https://www.fit-ift.org/international-translation-day/ [Datum van gebruik: 29 September 2021].

Botha, M. 2019. Mag en ideologie in die Afrikaanse vertaalgeskiedenis. LitNet Akademies, 16(2): https://www.litnet.co.za/mag-en-ideologie-in-die-afrikaanse-vertaalgeskiedenis/ [Datum van gebruik: 29 September 2021].

Van Wyk, I. 2017. Die lewe en werk van Martin Luther (1483-1546): ʼn Leksikografiese bydrae tot Reformasie 500. HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 73(1): https://hts.org.za/index.php/hts/article/view/4588/10079 [Datum van gebruik: 29 September 2021].