Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Akademia stel Fakulteit Opvoedkunde tydens seremonie bekend

Gepubliseer op: 6 Oktober 2021

Akademia, die privaat hoëronderwysinstelling, het vandag op 5 Oktober (ook Wêreldonderwysersdag) die Fakulteit Opvoedkunde amptelik bekendgestel. Die bekendstellingsfunksie is by die AfriForum Teater in Pretoria gehou, en skoolhoofde, onderwysers, akademici, onderwysliggame en Akademia-vriende het die deftige geleentheid bygewoon om saam met die instelling dié groei op ʼn gepaste wyse te vier.

Akademia bied reeds sedert die begin van die jaar ʼn Nagraadse Onderwyssertifikaat (Senior Fase- en Verdere Onderwys en Opleiding-onderwys), ook bekend as NGOS, nauurs aan. Hierdie studierigting is reeds ʼn gewilde studieopsie en het alle verwagtinge oortref. Onlangs het Akademia ook die opwindende nuus aangekondig dat ʼn bykomende onderwyskwalifikasie, BEd (Intermediêre Fase-onderwys), vanaf 2022 voltyds in Centurion aangebied gaan word. Inskrywings vir hierdie kwalifikasie stroom reeds in.

Prof Irma Eloff het as gasspreker by die bekendstellingseremonie opgetree en gaste toegespreek oor Afrikaanse onderwys en die behoefte aan Akademia as hoëronderwysinstelling. Sy noem dat die stigting van die Fakulteit Opvoedkunde by Akademia werklik ‘n geskiedkundige geleentheid is. “Ons gaan oor tien jaar terugkyk na hierdie dag en ons gaan bly wees oor die fondamente wat vandag gelê is. Ons gaan ook fees vier oor die uitstekende onderwysers wat in Afrikaans opleiding geniet het.”

Ter viering van Wêreldonderwysersdag is gaste ook ná afloop van die formaliteite vermaak met ʼn eenmanproduksie deur Frank Opperman, Steeds Donkie, wat die onderwyskonteks in Suid-Afrika op ʼn komiese manier opsom. Nog ʼn hoogtepunt op die program was die aankondiging van onderwysbeurslenings wat deur die Rapport Onderwysfonds bewillig word om ʼn voornemende student se drome te help verwesenlik.

Die behoefte aan goed gekwalifiseerde onderwysers neem toe. Volgens eNCA gaan daar binnekort ʼn golf van aftredes die onderwysveld in Suid-Afrika tref. Prof. Gawie du Toit, dekaan van dié fakulteit by Akademia, meen daarom dat daar ʼn tekort aan onderwysers in Suid-Afrika gaan wees. “Die Fakulteit Opvoedkunde is hier om by te dra deur in hierdie behoefte en in die vraag na hoë kwaliteit onderwysers te voorsien.”

Nie net is die Fakulteit Opvoedkunde by Akademia verantwoordelik vir die opvoeding en opleiding van onderwysers vir beide hoër- en laerskole nie, maar geskied dit ook in Afrikaans as medium van onderrig. Sodoende dra hierdie fakulteit daartoe by dat onderwys in Afrikaans by skole kan plaasvind en dat die skoolleerders weer by die instelling kan inskryf om hulle naskoolse studies in die taal voort te sit.

“Weens die aard en wese van opvoedkunde sal studente wat aan Akademia studeer, volledig toegerus word om as beginneronderwysers met selfvertroue hulle professionele loopbane in die onderwys te betree,” sê Du Toit. “Daar is reeds ʼn dinamiese dosentekorps aangestel wat aktief help vorm aan die onderwysstudente se hart en denke.”

Du Toit deel dat die fakulteit as uniek beskou word weens die opvoedingsideaal wat toegepas word waar die samehang van dissiplines en die sterk gemeenskapkarakter in die onderwys met mekaar vervleg word. “Deur studente bloot te stel aan hierdie wysheidsideaal, is ons wens dat hulle uiteindelik ‘dienende leiers’ van die onderwysgemeenskap sal wees wat tot die beswil van hulle gemeenskap en die groter gemeenskap sal optree.”

Met ʼn reeds suksesvolle NGOS-program, wat die eerste onderwysers aan die einde van die jaar lewer, kan die instelling nie anders as om positief te wees oor die toekoms van die Fakulteit Opvoedkunde nie. “Ons is oortuig en vertrou dat ons NGOS-studente nie net kognitief gestimuleer is nie, maar dat hulle ook in totaliteit as mens gegroei het, wat met vertroue en met hoop die toekoms en die onderwys tegemoet sal gaan. Dit is ons oogmerk vir al die ander onderwysprogramme wat in die toekoms by Akademia die lig gaan sien,” verduidelik Du Toit.

Die nuwe fakulteit wat reeds met vyf voltydse en agt deeltydse dosente spog, het ʼn sterk visie om die fakulteit verder uit te brei. Daar word beplan om teen 2026 twee honneursgrade in Opvoedkunde by die instelling aan te bied om in die behoefte van diegene te voorsien wat nagraadse loopbane in die opvoedkunde wil beoefen. “Nagraadse diplomas in Onderwysleierskap en -bestuur; Wiskunde-onderwys en Taalonderwys asook ʼn meestersgraad in die Opvoedkunde gaan deel uitmaak van die nagraadse programaanbod sodat studente hulle studies in die rigtings kan voortsit,” noem Du Toit.

ʼn Loopbaan in die opvoedkunde bied die geleentheid om deel te wees van ʼn span wat jongmense help vorm vir hul toekoms. As jy belangstel om ʼn beroep in die onderwys te volg, doen vandag nog aansoek vir BEd (Intermediêre Fase-onderwys) of NGOS (Senior Fase- en Verdere Onderwys en Opleiding-onderwys) vir 2022. Studieaansoeke is reeds oop. Besoek www.akademia.ac.za vir meer inligting of om aansoek te doen.

Prof. Gawie du Toit (dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde), saam met dr. Annelie Wassenaar (departementshoof en programkoördineerder van NGOS) en dr. Maretha Steyn, (programkoördineerder van BEd) tydens die Akademia-bekendstelling van die Fakulteit Opvoedkunde.
Prof. Gawie du Toit, die dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde by Akademia, saam met prof. Irma Eloff, gasspreker by die geleentheid.
Prof Gawie du Toit (dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde), saam met prof. Eldrie Gouws en prof. Erna du Toit, medekurrikulumontwikkelaars. Prof Johan Dreyer, medekurrikulumontwikkelaar wat einde Desember 2020 oorlede is, se vrou, Franci Dreyer, het ook die geleentheid bygewoon.