Kampusopedag op 10 en 11 Mei is in

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Oorweeg ʼn beroep in finansiële beplanning

Gepubliseer op: 6 Oktober 2021

Geskryf deur Alicia Kamfer, dosent in Finansiële Beplanning

Finansiële beplanning is ʼn beroep wat jare lank al stabiel bly ongeag ekonomiese vooruitsigte, ʼn wêreldpandemie en die vierde nywerheidsrewolusie. Finansiële beplanning is ʼn baie veelsydige beroep wat deurlopend voorsiening maak vir regulatoriese vereistes en tegnologiese vooruitgang. Akademia vier vandag Wêrelddag vir Finansiële Beplanning en daarmee saam elke dosent, student en alumnus van die BCom (Finansiële Beplanning)-program by die instelling.

Akademia se BCom (Finansiële Beplanning)-kwalifikasie rus studente toe met die nodige kennis en praktiese vaardighede wat studente dan in staat stel om die vooruitgang in die vierde nywerheidsrewolusie te lei. Die finansiële industrie is ʼn opwindende veld waarin daar geen oomblik van verveling is nie. Daar is ʼn verskeidenheid professionele rolle wat ʼn persoon kan vervul met finansiële beplanning as fondament en verwysingsraamwerk.

Weens die finansiële industrie se dinamiese aard en die tempo waarteen sodanige dinamiese aard ontwikkel, word daar deurentyd nuwe beroepsmoontlikhede geskep vir mense wat hulle in die finansiële industrie wil bekwaam. Die grootste hoeveelheid beroepsmoontlikhede is beskikbaar vir ʼn finansiële adviseur, ʼn finansiële beplanner, ʼn nakomingsbeampte en ʼn batebestuurder, terwyl beroepsmoontlikhede intern of ekstern beoefen kan word.

Die finansiële industrie word gereguleer deur verskeie aspekte wat die vereistes vir die beoefening van die beroep in die industrie voorskryf. Die gesogste beroep wat onder die vaandel van finansiële beplanning beoefen word, is ʼn gesertifiseerde finansiële beplanner. Die basiese vereistes waaraan ʼn persoon moet voldoen om ʼn gekwalifiseerde en gesertifiseerde finansiële beplanner te wees, is die volgende:

  1. Die persoon moet oor ʼn erkende kwalifikasie beskik wat goedgekeur is deur die FSCA, die reguleerder van die finansiële industrie. Indien die persoon nie van die staanspoor af oor ʼn kwalifikasie beskik nie, kan die persoon onder toesig werk en dan moet die kwalifikasie binne ses jaar vanaf die datum van die eerste aanstelling bekom word. Die minimum vereiste vir toelating tot die industrie is ʼn matrieksertifikaat.
  2. Die persoon moet ervaring opdoen in die produkkategorieë waarvoor hy of sy aangestel is, en onder toesig werk tot en met die nodige ondervinding opgedoen is.
  3. Die regulatoriese eksamen vir verteenwoordigers is verpligtend vir almal wat advies en tussengangerdienste lewer en moet binne 24 maande vanaf die datum van die eerste aanstelling bekom word.
  4. Daar moet binne 12 maande vanaf die datum van die eerste aanstelling aan die sogenaamde “class of business”-vereiste voldoen word. Dit is belangrik om in ag te neem dat daar ʼn kursus per produkkategorie is wat voltooi moet word.
  5. Produkspesifieke opleiding moet onmiddellik gedoen en gedokumenteer word in ʼn bevoegdheidsregister. Finansiële dienste mag nie gelewer word voordat die persoon hierdie opleiding by die produkverskaffers voltooi het nie.

 

Alhoewel bogenoemde soos ʼn magdom inligting klink, roem Akademia haarself op die feit dat haar studente wat hierdie BCom (Finansiële Beplanning)-program voltooi met oop oë en ʼn goeie verstaan van die bedryf die mark betree. Hierdie kwalifikasie geniet akkreditasie by die Finansiële Beplanningsinstituut van Suider-Afrika (Financial Planning Institute of Southern Africa – FPI), sowel as by die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (Financial Sector Conduct Authority – FSCA). Vir meer inligting oor BCom (Finansiële Beplanning), klik hier.

Alicia Kamfer is ʼn dosent in Finansiële Beplanning by Akademia wat studente help om ʼn loopbaanpad in hierdie rigting te volg.