Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

My storie as Akademia-alumnus en finansiële adviseur

Gepubliseer op: 6 Oktober 2021

Geskryf deur Anchin van Zyl, Akademia-alumnus

Die proses om ʼn universiteit te kies kan soms moeilik en onvoorspelbaar wees, maar Akademia het hierdie keuse vir my baie maklik gemaak. Ek het in 2017 my studieloopbaan by die instelling begin as student in BCom (Ondernemingsbestuur), maar ek het vinnig agtergekom dat my belangstelling eerder in die finansiële rigting is. Ek het dus in my tweede jaar oorgeskakel na die BCom (Finansiële Beplanning)-program en het geen oomblik teruggekyk nie.

Die belangrikste faktore wat ʼn rol gespeel het in my keuse vir Akademia was om in my moedertaal te studeer by ʼn instelling wat bydra tot my waardes. Ek kon ook begin om ʼn loopbaan te bou terwyl ek nauurs studeer en gehalte onderrig ontvang.

Ek het in my tweede jaar ʼn internskap by Ou Mutual in Bloemfontein gedoen om sodoende ondervinding op te bou in die veld en my loopbaanreis te begin. In my derde jaar het ek oorgegaan na ʼn makelaarskantoor toe met die hoofdoel om soveel as moontlik praktykkennis op te bou terwyl ek my studies voltooi.

Ek kan met sekerheid daarvan getuig dat ondervinding in jou studierigting soveel waarde toevoeg om gemaklik ʼn werksplek te betree wanneer jy jou kwalifikasie voltooi het. Ek sal dit vir elke student aanbeveel wat die geleentheid kry.

My grootste uitdaging as student was om selfdissipline te handhaaf, maar met my einddoel voor oë was hierdie uitdaging maklik oorkombaar. Daar was definitief dae waar ʼn mens ʼn bietjie moed verloor het, want om voltyds te werk en te studeer is nie altyd maklik nie. Nadat ek my studies voltooi het, het ek besef dat die vier jaar van student wees en al die opofferinge wat ek moes maak absoluut die moeite werd was.

Ek het in 2020 my studies suksesvol voltooi en is in 2021 as finansiële adviseur aangestel in die praktyk waar ek as student my ondervinding opgebou het. Ek het ook onlangs my eksamen in ʼn nagraadse kwalifikasie in finansiële beplanning (CFP) voltooi.

Ek het hierdie jaar eintlik eers besef hoe baie waarde werksondervinding as student regtig bydra tot jou loopbaan. Dit was glad nie vreemd om ewe skielik die “korporatiewe wêreld” te betree as jong adviseur nie, omdat ek as student eintlik alreeds gewoond was hieraan. Ek kon my tyd as student gebruik om kliënteverhoudings te vestig, produkkennis op te doen en om bekend te raak met die finansiële bedryf.

Ek is so opgewonde vir wat die toekoms inhou en ek is elke dag dankbaar vir die ongelooflike ervaring wat ek by Akademia kon hê.

Anchin van Zyl het in 2020 haar BCom (Finansiële Beplanning)-kwalifikasie nauurs by Akademia voltooi en loop tans ʼn suksesvolle loopbaanpad as finansiële adviseur.