Kampusopedag op 10 en 11 Mei is in

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

BCom (Ondernemingsbestuur)-studente by Akademia braai vir ʼn toekoms

Gepubliseer op: 7 Oktober 2021

Akademia se voltydse groep BCom (Ondernemingsbestuur)-studente het saam met hul dosent, Mareli van der Merwe, ʼn Braai vir die toekoms-projek begin ter viering van Erfenisdag wat op 24 September plaasgevind het. Die groep studente het elkeen ʼn “worsbroodjie vir ʼn maatjie” geborg deur ʼn kontantbydrae te maak vir die nodige aankope. Op 22 September het die studente self wors gebraai, broodjies gesmeer en worsbroodjies verpak waarna dit vir pousetyd by Laerskool Hennopspark afgelewer is.

Volgens Van der Merwe het die studente besluit dat hulle hierdie braaidag ʼn verskil in iemand anders se lewe wou maak en het besluit om “vir die toekoms” te braai. “Die Ondernemingsbestuur-studente se harte is oop en klop warm vir ander in nood. Ons wou graag van die geleentheid gebruik maak om iets vir behoeftiges in ons gemeenskap te doen en daardeur verligting en hoop te bring,” noem sy.

Daar is op Laerskool Hennopspark besluit aangesien die skool ʼn Afrikaanse staatskool met Christelik waardes is wat slegs drie kilometer vanaf Akademia se Centurion-kampus geleë is. Hierdie skool val dus binne Akademia se direkte gemeenskap. Hierdie twee opvoedinginstellings deel dieselfde perspektiewe rakende moedertaalonderrig en geloofsoortuiging. Daar is ʼn Angels-projek by die skool vir behoeftige kinders en die Ondernemingsbestuur-studente wou graag hierdie groep kinders se nood verlig.

Van der Merwe vertel verder dat hierdie projek vir studente warmte en empatie teenoor ander mense leer wat ʼn kritiese vaardigheid is wat hulle eendag in die bestuur van ʼn onderneming en hul personeel gaan benodig. “Dit leer studente om hul eie grense te verskuif en om wyer as hul eie uitdagings te kyk. Die studente se opregte dankbaarheid dat hul elke dag iets het om te eet het hulle aangespoor om ʼn maatjie sonder ʼn kosblik te ondersteun.”

Markus van Staden, een van die BCom (Ondernemingsbestuur)-studente, noem dat hierdie projek hulle groep na aan die hart lê. “Ons is geseënd en dis net ons manier om ander te seën. Dit is deel van ons waardes om regtig betrokke te raak by ons gemeenskap en ek dink hierdie inisiatief beklemtoon dit.”

Ané Ferreira, ook ʼn student in BCom (Ondernemingsbestuur), noem dat hierdie projek vir mense moed, hoop en dankbaarheid gee. “Dit maak soms die grootste verskil net om daar te wees wanneer jy ander bystaan in hul nood,” sê sy.

Akademia is ʼn hoëronderwysinstelling wat uitreik na die gemeenskap en daarom is dit ook nie die eerste liefdadigheidsaksie waaraan die groep deelneem nie. Vroeër die jaar, tydens Vrouemaand, het die klas deelgeneem aan ʼn uiters suksesvolle handsakprojek waar handsakke vol noodsaaklikhede vir behoeftige vroue ingesamel is. Van der Merwe deel dat die BCom (Ondernemingsbestuur)-kampusstudente dit vreeslik geniet om by gemeenskapsprojekte betrokke te wees en sal graag in die toekoms selfs meer betrokke wil raak by soortgelyke projekte.

Die BCom (Ondermingsbestuur)-kampusstudente wat deelgeneem het aan die Braai vir die Toekoms-projek vir Laerskool Hennopspark.
Van die BCom (Ondernemingsbestuur)-studente wat gehelp het om wors te braai.
Hier is van die BCom (Ondernemingsbestuur)-studente wat broodjies help smeer het.