Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Nuwe Akademia-studenteraad wil jaar van pionierskap vestig

Gepubliseer op: 11 Oktober 2021

Op 27 September is die splinternuwe studenteraad (SR) vir 2021/2022 op die Centurion-kampus tydens ʼn spoggeleentheid ingehuldig. Alhoewel daar nog altyd ʼn nauurse SR-teenwoordigheid was, is daar nou vir die eerste keer ʼn volledige voltydse SR op die (nuwe) Centurion-kampus verkies. ʼn Voltydse SR-teenwoordigheid op kampus gaan daartoe bydra dat die studentelewe selfs meer kleurvol vir die Fonties gaan wees en dat daar meer opwindende tye gaan wees.

By Akademia word nuwe tradisies, hand aan hand met die studente, gevestig en word daar geskiedenis gemaak. “Die voordeel wat daarin opgesluit is om ʼn universiteit te bou, is dat ons die voorreg het om nuut na te dink oor ʼn betekenisvolle en genotvolle studentelewe,” vertel dr. Desiree Muller, studentesakebestuurder by Akademia. “Ons nuutverkose SR speel ʼn belangrike rol om saam te help bou om die studentelewe te vestig en selfs verder uit te bou.”

Die SR is reeds vuur en vlam nadat hulle tydens hul SR-kamp by Udolpho, die FAK se kampterrein naby Parys, met beplanning vir die nuwe termyn begin het. Hier is die SR voorberei op die praktiese en administratiewe vereistes van SR-wees, asook die inhoud van die opvoedingsideaal en Akademia se waardes. Die belangrikste was dat die groep mekaar moes leer ken en ʼn strategie vir hulle jaar kon begin formuleer.

Elke portefeulje op die studenteraad het ʼn omvattende taakbeskrywing, maar in kort is die rol van die SR om die studentelewe te fasiliteer, mentors en ʼn stem vir die studente te wees. Die SR is almal getaak daarmee om Akademia se opvoedingsideaal (vorming) in elke aktiwiteit te laat inspeel. “Ons is baie trots op hierdie span en sien saam uit na ʼn dinamiese 2022,” noem Muller.

Die voorsitter van die studenteraad, Daniël Visser, deel dat sy hooffokus gaan wees om ʼn positiewe, begronde en gesonde studentekultuur te help vestig. “Ek is baie opgewonde om te sien hoe die studentekultuur binne die volgende jaar gaan groei. Ten spyte van al die uitdagings en te midde omstandighede wat wêreldwyd ervaar word, glo ek daar lê baie potensiaal in Akademia se studentelewe wat nog ontsluit moet word,” vertel Visser. Hy wil ook die SR-span so lei dat hulle die termyn wat voorlê ten volle kan benut en so effektief moontlik as ʼn span kan funksioneer.

Visser verduidelik dat aangesien Akademia nog in haar jeugjare is, en veral nou met die voltydse kontakmodel wat vanjaar afgeskop het, is daar ʼn goue geleentheid vir die SR om die studentelewe op só ’n manier in te kleur dat dit amper ʼn nuwe betekenis onder die studente kan kry.

“Die SR se doelwit sou dus wees om volgende jaar werklik ʼn jaar van pionierskap te maak vir alle Fonties – ongeag of hulle nauurs of voltyds studeer. Ek wil graag hê ons moet as Akademia-studente saam die fondasie lê vir ʼn karaktervolle en gesonde studentelewe wat oorloop van pret,” sê hy. Visser glo dat Akademia se studentelewe oor vyf jaar gaan oorloop met hoë gehalte en karaktervolle Afrikaanse jeug wat hulle jonk wees ten volle op ʼn goeie manier sal benut.

Die portefeuljes vir SR 2021-2022 is as volg toegeken:

Voorsitter – Daniël Visser
Adjunkvoorsitter (Kampus) – Megan Meyer
Sekretaresse – Robyn Visagie
Tesourier – Dylan Wagner
Kultuur, taal en erfenis – Myrtle Endley
Koshuisraad – Marisha Hermann
Sport – Vian van Schalkwyk
Gemeenskap – Kara Durie
Bemarking – Raino Botha
Kommunikasie en media – Jenna-Bleu Heystek
Akademie – Deidré Fischer

Baie geluk aan die nuutverkose SR vir die nuwe termyn. Akademia sien daarna uit om saam met julle en medestudente ʼn jaar van pionierskap te vestig. Mag die studentelewe net van krag tot krag groei.