Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Ervaar jy ʼn gevoel van uitbranding en voel jy konstant moeg?

Gepubliseer op: 11 Oktober 2021

Geskryf deur Michelle van Niekerk, studenteondersteuningskoördineerder by Akademia

Die meeste mense begin om hierdie tyd van die jaar uitgebrand en moeg te voel nadat die jaar sy tol begin eis het. Die rede hiervoor is omdat ons dikwels “met die werk of studies getroud is” en daarom nie vir onsself tyd af gun deur die loop van die jaar nie. Ons voel skuldig as ons verlof neem of as ons ophou met werk of studies wanneer ons werksdag verby is maar die werk nog nie klaar is nie. Die lewenstempo raak oor die algemeen ook vinniger en dan vergeet ons om soms net stil te staan en asem te skep.

Dit is egter nie ʼn volhoubare leefwyse nie en daarom bevind soveel mense hulleself een of ander tyd in ʼn situasie waar hulle uitgebrand voel. Ons is geneig om juis hierdie tyd van die jaar méér te wil doen en minder tyd te neem om te rus omdat ons dikwels terugkyk op die jaar se doelwitte wat nog onafgehandeld is. Ons probeer dan om dit alles in die laaste drie of vier maande van die jaar in te druk, en dit het tot gevolg dat ons dan voel dat daar nie genoeg tyd in die dag is om aan rus af te staan nie.

Die ironie is dat rus juis hierdie tyd van die jaar meer kritiek raak, om genoeg krag en energie te kry om die laaste deel van die “wedloop” te hardloop en te voorkom dat jy teen die einde van die jaar op uitbranding staan.

ʼn Paar praktiese wenke wat in jou lewe geïmplementeer kan word in ʼn poging om uitbranding te voorkom:

  1. Slaap genoeg! Dit is uiters belangrik om genoeg slaap in te kry sodat jou liggaam en brein kan rus en nuwe energie kan kry om die volgende dag weer aan te pak. Deur te rus, kry jy weer nuwe energie en kan jy van vooraf weer voluit aangaan.
  2. Maak seker jy het ʼn gesonde leefstyl en sien om na jou fisiese gesondheid. Oefen gereeld en handhaaf gesonde eetgewoontes. Verder is dit ook belangrik om ʼn gebalanseerde leefstyl te hê, waar jy aandag gee aan al die verskeie rolle en aspekte in jou lewe en een nie heeltemal oorneem nie.
  3. Beplan! Stel lysies op, werk volgens ʼn skedule en stel vir jouself realistiese korttermyndoelwitte wat afgemerk kan word wanneer dit bereik is. Om volgens ʼn dagboek of beplande skedule te werk, help jou om beheer te neem oor alles wat gedoen moet word. Dit help jou ook om spesifieke tye aan spesifieke goed toe te ken en sodoende te verseker dat jy binne werksure by alles kan uitkom wat gedoen moet word. Daar waar dit nie moontlik is nie, moet jy eerder hulp vra as om konstant naure te werk of jouself nie toe te laat om in die aande of oor naweke te rus nie. (Dit is egter belangrik om te onthou dat jou dagboek daar is om die lewe vir jou makliker te maak en nie om jou te bestuur of ekstra druk/skuldgevoelens op jou te plaas wanneer jy nie by die beplanning kan hou nie. Die lewe gebeur en ons moet kan aanpas. Probeer daarom om jou skedule nie te “styf” op te stel sodat daar dan geen ruimte vir verandering of aanpassings is nie.)
  4. Neem tyd om te ontspan. In aansluiting by die vorige punt, is dit goed om spesifieke tyd in jou skedule te allokeer vir ontspanning of om iets te doen wat vir jou lekker is of wat vir jou energie gee. Tyd om alleen te wees en boek te lees, of om iets kreatiefs te doen, of wat ook al dit is om jou koppie weer vol tap.
  5. Rus, rus, rus! Vat tyd af, al is dit net ʼn dag hier en daar waar jy aandag aan jouself kan gee, bv. hare kan gaan doen of sommer net vir een hele dag op jouself fokus. Dit is egter ook belangrik om ʼn lang breek te vat êrens deur die jaar waartydens jy kan afskakel en goed kan uitrus. Ek verkies dit om hierdie vakansie aan die einde van die jaar te neem, want dan kan jy die vorige jaar heeltemal afsluit en die nuwe jaar met nuwe energie ingaan.
  6. Wees realisties en eerlik met jouself oor wat jy kan doen en waarvoor jy tyd het, en leer dan om “nee” te sê. Dit is ʼn mooi eienskap om die ekstra myl te loop en altyd te probeer help, maar dit moet nie ten koste van jouself en jou eie gesondheid wees nie. Stel dus vas waar gesonde perke vir jouself is, en implementeer dit in jou lewe.
  7. Stel dan ook vas watter dinge bydra tot stres in jou lewe en of enige van hierdie stressors uitgeskakel of verminder kan word. Jy kan byvoorbeeld deur vroeër op te staan voorkom dat jy die dag op ʼn gejaagde wyse begin en op hierdie manier ʼn rustiger lewenstyl probeer handhaaf. Identifiseer hierdie “klein” dingetjies wat stres veroorsaak en wat uitgeskakel kan word.
  8. Identifiseer tekens van uitbranding (konstante moegheid, irritasie, frustrasie, gereelde negatiewe emosies, ongemotiveerdheid, onproduktiwiteit, ens) vroegtydig en begin dan reeds voorkomend optree. Dit is beter om vroeër op te tree terwyl iets nog omgedraai kan word, eerder as reaktief wanneer ʼn mens reeds moeg is.

 

Onthou, wanneer ʼn byl stomp is, is die impak minder en vat dit soveel langer om ʼn boom af te kap. Dit is daarom belangrik om tyd te neem om die lem skerp te maak, sodat jy makliker en vinniger by die einddoel kan uitkom. Net so is dit ook belangrik om na onsself te kyk en tyd te neem om ons energie weer op te bou (of ons eie lem weer skerp te maak), om sodoende weer voluit te kan gaan, meer produktief te wees en as ʼn “heel” mens die wenstreep te behaal.

Michelle van Niekerk is die studenteondersteuningskoördineerder by Akademia en sy het ʼn omgee-hart vir studente.