Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Internasionale Basedag – Die bestuurder as rentmeester

Gepubliseer op: 15 Oktober 2021

Geskryf deur dr. Rachel Maritz, dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe

Daar is twee bestuursteorieë wat pertinent handel oor die bestuur van ʼn onderneming. Die oorweldigend dominante teoretiese perspektief in hedendaagse korporatiewe beheer is die sogenaamde agentskapsteorie. In ons moderne onderneming word hierdie teorie oorwegend gebruik om bestuursaksies en besluite te verklaar en dien dit ook as die onderliggende bestuursteorie vir die King-verslae van korporatiewe beheer. Die agentskapsteorie veronderstel dat bestuurders selfbelang vooropstel en dat ʼn bestuurder besluite neem omdat dit ʼn oënskynlike voordeel vir hom/haar as individu inhou. Die bestuurder tree as agent vir die eienaars van die onderneming op, maar moet met sekere meganismes, soos finansiële aansporings of kontroles, gedwing word om binne die groter belang van die onderneming op te tree.[i]

Die tweede belangrike bestuursteorie wat lynreg teenoor die agentskapsteorie staan, staan bekend as die rentmeesterskapsteorie. Hierdie teorie word gebaseer op die aanname dat die bestuurder in wese ʼn goeie rentmeester vir die korporatiewe bates sal wees en as sodanig nie net deur individuele doelwitte gedryf word nie.[ii] Daar word aanvaar dat as ʼn bestuurder ʼn sterk etiese kompas volg, sy/haar motiewe sal belyn met dié van die onderneming en hy/sy ten alle tye sal optree in die beste belang van die onderneming en samelewing.

Op Internasionale Basedag is dit belangrik om te beklemtoon dat die bestuurder ʼn rentmeester behoort te wees en nie bloot ʼn agent is nie. Die rentmeesterskapsperspektief op bestuurders/base is ook gegrond op die Bybelse prentjie van leierskap. Bestuurders word in Kolossense 3:23 opgeroep om alles gemotiveerd aan te pak en te werk soos vir die Here en nie vir mense nie. ʼn Bestuurder behoort nie te werk vir finansiële gewin alleenlik nie of behoort nie gedwing te word om na die beste van sy/haar vermoë te werk nie. Ware motiewe, so lees ons in 1 Korintiërs 4:2, sal deur God aan die lig gebring word en Hy sal jou die eer gee wat jou toekom. Laat ons vandag op Internasionale Basedag weer onthou dat ons as bestuurders geroep is om rentmeesters te wees van ons gawes en talente tot voordeel van ons gemeenskap en werksplek.

Dr. Rachel Maritz is die dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe by Akademia.

[i] Dalton, D.R., Daily, C.M., Ellstrand, A.E. and Johnson, J.L., 1998. Meta‐analytic reviews of board composition, leadership structure, and financial performance. Strategic management journal, 19(3), pp.269-290.

Eisenhardt, K.M., 1989. Agency theory: An assessment and review. Academy of management review, 14(1), pp.57-74.

[ii] Donaldson, L. and Davis, J.H., 1991. Stewardship theory or agency theory: CEO governance and shareholder returns. Australian Journal of management, 16(1), pp.49-64.