Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Akademia vereer ʼn pionier in die Natuurwetenskappe

Gepubliseer op: 18 Oktober 2021

Geskryf deur prof. Hannes Rautenbach, dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe

Die jaarlikse instelling van die WL Grant-gedenklesing, wat op Vrydag 22 Oktober 2021 in die Akademia Ouditorium plaasvind, gee erkenning aan uitnemende wetenskaplike prestasies op Suid-Afrikaanse bodem. Hierdie prestasies dien as motivering vir huidige en toekomstige wetenskaplikes om te bou aan ʼn vooruitstrewende toekoms.

Dr. Walter Lawrence Grant (22 Augustus 1922 – 31 Maart 2008) het ’n buitengewone insig in die vakgebied van fisika gehad, en het ʼn leidende rol gespeel in die totstandkoming van die Suid-Afrikaanse Kernkragbedryf. Dit was onder Grant se leiding dat Suid-Afrika in 1966 sy eie uraanverrykingsproses ontwikkel het. Die sukses wat voortgevloei het uit die ontwikkeling van ons eie uraanverrykingsproses is opgevolg deur die bou van twee uraanverrykingsaanlegte te Pelindaba, wes van Pretoria.

Gedurende sy loopbaan beklee Grant die posisie van besturende direkteur by die Atoomenergiekorporasie (AEK), die Uraanverrykingskorporasie (UKOR), en dien hy ook as adjunk-direkteurgeneraal van die Raad op Atoomkrag (RAK). Na sy aftrede begin hy in 2001 met navorsing op gas- en isotoopskeiding by die privaatmaatskappy Scientific Development and Integration (SDI), wat later herdoop is na Klydon. Hier behaal hy en sy span soveel sukses dat daar in 2006 ’n silikonverrykingsaanleg buite Pretoria gebou word. In die laaste jaar van sy lewe maak hy nog ’n dramatiese bydrae deur ’n teorie te ontwikkel wat die werking van ’n draaikolkbuis beskryf. Hy was tot aan die einde van sy lewe vol idees en voorstelle vir verdere verbeterings.

Die status en ontwikkeling van Afrikaans as akademiese taal was nog altyd vir Grant van kardinale belang. Die Fakulteit Natuurwetenskappe by Akademia beskou dit as ʼn uitsonderlike eer om op hierdie ideaal voort te kan bou. Studente word nie net bewus gemaak van geskiedkundige prestasies uit die Afrikaanse taal en kultuurgemeenskap nie, maar moedertaalonderrig word tot in die wese van studente aangemoedig en bevorder.

Prof. André Buys sal by die gedenklesing as gasspreker optree. Gedurende sy loopbaan het Buys ʼn sleutelrol gespeel in Suid-Afrikaanse kernnavorsing, en het later ook ʼn onmisbare bydrae gelewer tot die strategiese aanwending van kernhulpbronne in Suid-Afrika. Ná sy aftrede is hy deeltyds aangestel as dosent en navorser by die Departement van Ingenieurswese en Tegnologiebestuur, Universiteit van Pretoria, ʼn posisie wat hy tot op hede beklee. In sy lesing sal Buys onder meer hulde betoon aan Grant, en ook ʼn geskiedkundige oorsig gee oor uitsonderlike wetenskaplike prestasies uit Suid-Afrika.

Die WL Grant-gedenklesing het ten doel om erkenning te verleen aan een van die grootste wetenskaplikes wat nog ooit uit die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskap op Suid-Afrikaanse bodem gekom het. Die nederige en mensliewende Grant se lewe en werk dien as inspirasie en motivering vir hedendaagse wetenskaplikes. Grant het gedemonstreer dat Suid-Afrikaanse wetenskaplikes, dikwels onder moeilike omstandighede, kan uitstyg om mee te ding met die bestes ter wêreld.

Die spesiale gedenklesing word aanlyn uitgesaai sodat almal wat graag wil, die aand kan bywoon. Klik gerus hier om die lesing om 18:00 saam te geniet.

Dr. Walter Lawrence Grant het ʼn leidende rol gespeel in die totstandkoming van die Suid-Afrikaanse Kernkragbedryf.