Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia spog met akkreditasies vanaf verskeie professionele finansiële liggame

Gepubliseer op: 21 Oktober 2021

Akademia het die nuus aangekondig dat die instelling akkreditasies by verskeie professionele finansiële liggame in Suid-Afrika ontvang het. Die instelling geniet tans erkenning by die Geoktrooieerde Instituut vir Bestuursrekenmeesters (CIMA), Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA), Finansiëlebeplanningsinstituut van Suider-Afrika (FPI), Suid-Afrikaanse Instituut vir Sakerekenmeesters (SAIBA) en Suid-Afrikaanse Instituut vir Professionele Rekenmeesters (SAIPA). Hierdie akkreditasies maak Akademia-studente in onderskeie finansiële rigtings se loopbaanpad wawyd oop.

Volgens Rika Niewoudt, departementshoof: Ekonomiese en Finansiële Wetenskappe, is akkreditasies by professionele liggame baie belangrik vir twee redes. “Eerstens vestig en verseker dit die roete tot die suksesvolle voltooiing van ’n professionele kwalifikasie, en tweedens bied dit gemoedsrus dat die kwalifikasie wat aangebied word van hoë gehalte is en deur nog ʼn liggaam erken word.”

Sy verduidelik verder dat wanneer studente ʼn professionele kwalifikasie studeer, dit uiters belangrik is om ʼn kwalifikasie te voltooi wat hulle in die werksplek weer verder sal toerus. “Professionele liggame vervul ʼn belangrike taak om goeie standaarde van praktyk daar te stel en te reguleer. Daarom werk Akademia graag saam met onderskeie liggame om te verseker dat ons, die studente en die professie, in ooreenstemming is met en selfs beter is as wat in die werksplek verwag word.”

CIMA

Akademia het reeds akkreditasie by CIMA vir drie kwalifikasies ontvang. Studente wat BCom (Bestuursrekeningkunde), BCom (Finansiële en Bestuursrekeningkunde) of die Nagraadse Diploma in Bestuursrekeningkunde aan die instelling voltooi, kan registreer om hulle CIMA-kwalifikasies verder te voltooi.

FSCA

Akademia se Hoër Sertifikaat in Rekeningkunde, asook die BCom (Finansiële Beplanning) geniet akkreditasie by FSCA, voorheen bekend as die Raad op Finansiële Dienste (Financial Services Board – FSB). Die insluiting van die kwalifikasies op die lys van erkende kwalifikasies beteken dat studente wat die kwalifikasie voltooi het, voldoen aan die FAIS-wetlike vereiste (Wet op Finansiële Advies- en -Tussengangerdienste 37 van 2002) van verskeie kategorieë.

FPI

Akademia se BCom (Finansiële Beplanning)-program is deur die FPI goedgekeur as ʼn gemagtigde verskaffer van opleiding vir die titel Finansiëlediensteadviseur (FSA™). Die voordeel van die verkryging van ’n kwalifikasie met die FSA™-titel by ʼn gemagtigde verskaffer van opleiding, soos Akademia, is dat afgestudeerdes vrygestel word van die professionele vaardigheidseksamen by die FPI. Studente wat BCom (Finansiële Beplanning) by die instelling studeer, kan hul twee jaar toepaslike werkservaring opdoen terwyl hulle studeer en versnel dus hul pad na ʼn professionele loopbaan in finansiële beplanning.

SAIBA

Akademia is ʼn geakkrediteerde hoëronderwysinstelling by SAIBA wat beteken dat studente wat in die volgende rigtings by die instelling studeer, asook reeds toepaslike werkservaring opdoen, aansoek kan doen vir professionele benamings by SAIBA.

 

SAIPA

Akademia se BCom (Bestuursrekeningkunde) en BCom (Finansiële en Bestuursrekeningkunde)-kwalifikasies geniet amptelike akkreditasie by SAIPA. Dit beteken dat die instelling se studente ná suksesvolle voltooiing van die kwalifikasies aan die akademiese vereiste van SAIPA voldoen om verder as professionele rekenmeesters of rekenkundige tegnici te kwalifiseer (met slegs die praktiese werkservaringvereiste wat dan voltooi moet word vir registrasie).

Nieuwoudt noem dat dit ʼn voorreg is dat die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe met talle akkreditasies spog. “Ons akademici en programontwikkelaars doen alles in ons vermoë om gehaltekwalifikasies aan te bied om die bes moontlike opleiding en opvoeding aan studente te verskaf, en hierdie akkreditasies is weereens ʼn bevestiging hiervan. Ons is werklik dankbaar dat ons studente met geakkrediteerde en erkende kwalifikasies kan toerus en met selfvertroue die werksplek kan instuur.”

Besoek die Akademia-webblad by www.akademia.ac.za vir meer inligting oor die instelling se nauurse en voltydse programaanbod.