Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia se eerste BCom (Bestuursrekeningkunde)-alumnus ontvang SAIPA-kwalifikasie

Gepubliseer op: 22 Oktober 2021

Anjé Bennemeer is een van die eerste twee studente wat die BCom (Bestuursrekeningkunde)-graad in 2018 by Akademia voltooi het. Sy het ook onlangs haar Suid-Afrikaanse Instituut vir Professionele Rekenmeesters (SAIPA)-kwalifikasie ontvang terwyl sy werksaam is by die Solidariteit Helpende Hand Studiefondssentrum.

Om ʼn professionele rekenmeesterkwalifikasie aan SAIPA te voltooi, word vereis dat studente suksesvol hul graadkwalifikasie moet voltooi by ʼn instelling wat by SAIPA geakkrediteer is, soos Akademia, en genoeg praktiese werkservaring moet opdoen om uiteindelik die professionele titel te bekom.

Volgens Bennemeer verbreed die SAIPA-kwalifikasie reeds haar werksopsies geweldig. “Dit beteken dat ek nie noodwendig by ʼn rekenmeestersfirma hoef te werk nie, maar by enige instansie wat ʼn finansiële afdeling het,” sê sy. Sy is dankbaar dat sy besluit het om hierdie kwalifikasie na te jaag nadat sy loopbaanadvies van een van haar voormalige dosente, Rika Nieuwoudt, tans departementshoof van Ekonomiese en Finansiële Wetenskappe by Akademia, ontvang het. Sy het ná sy die advies ontvang het besluit om by ʼn firma, wat ook ʼn SAIPS-opleidingsentrum is, ʼn betrekking te aanvaar nadat sy haar studies voltooi het.

Bennemeer se passie was al van vroeg af sigbaar. Sy het van hoërskool af belanggestel in rekeningkunde, wat een van haar gunstelingvakke was. Sy het ʼn liefde vir finansiële state ontwikkel, asook die finansiële kant van organisasies – of ʼn onderneming winsgewend is al dan nie – sowel as die faktore wat daardie wins kan beïnvloed. “Bestuursrekeningkunde was dus dié graad vir my. Ek het besluit om by Akademia die BCom (Bestuursrekeningkunde) te volg, want ek kon in Afrikaans studeer. Dit het my gemoedsrus gegee om te kon fokus op die werk wat voorgelê het,” vertel sy.

Sy noem dat dit vir haar ʼn groot voorreg is om een van die eerste twee studente te kon wees wat die kwalifikasie binne drie jaar by Akademia voltooi het. “Die tyd het baie vinnig gevlieg. Toe ek my oë uitvee was drie jaar verby. Ek het altyd uitgesien na my klasse. Dit was lekker om met medestudente en toesighouers te gesels en ek het ʼn goeie verhouding met my dosente gehad. As ek enige hulp of bystand nodig gehad het, kon ek altyd op hulle staatmaak.”

Sy vertel dat Akademia haar geleer het van etiek, integriteit, selfstandigheid en om verantwoordelikheid te aanvaar in alles wat jy doen. Die waardes is mooi in voeling met die instelling se institusionele waardes. Uiteindelik is Akademia se onderrigmodel geskoei op die opvoedingsideaal waar studente nie net opgevoed die werksplek betree nie, maar ook as afgeronde graduandi hulleself bekwaam. Sy noem dat sy die instelling vir enige voornemende student sal aanbeveel wat in Afrikaans hul studies wil aanpak.

Sy hoop om binne die volgende vyf jaar ʼn suksesvolle besigheidsvrou te wees en te floreer in ʼn beroep waar sy haar graadkwalifikasie ten volle kan benut. Akademia wens haar die beste toe met haar droom en hou haar toekoms met afwagting dop.

Anjé Bennemeer, wat onlangs haar SAIPA-kwalifikasie ontvang het, is een van die eerste twee studente wat hul BCom (Bestuursrekeningkunde)-graad by Akademia voltooi het.