Kampusopedag op 10 en 11 Mei is in

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Probeer hierdie wenke vir ʼn positiewe ervaring van die matriekeindeksamen

Gepubliseer op: 27 Oktober 2021

Geskryf deur Andreas Baron, deeltydse dosent in die Fakulteit Opvoedkunde

Die eindeksamen kan ʼn baie spanningsvolle en emosionele tydperk vir skoolleerders wees. Om egter met ʼn voorbereide en oop gemoed die eksamen in te gaan sal jou ervaring kan omswaai van negatief na positief. Moenie jou eksamenvoorbereiding kompliseer nie. Indien jy oorweldig voel, onthou drie basiese wenke.

  1. Tydsbestuur
  • Skep vir jou ʼn sigbare, fisiese kalender waarop jy al jou vraestelle opdeel.
  • Maak seker dat jy afgehandelde vraestelle fisies kan doodkrap op die kalender – en trek hul dood met selfvoldoening!
  • Dink na oor waar jy op ʼn dag tyd verloor het, en probeer dit minimaliseer.
  • Wanneer is jy meer produktief op ʼn dag? Wanneer voel jou brein die helderste? Benut daardie tyd om jou beste te kan gee!
  • Jy kan/moet nie heeldag lank studeer nie – jou brein benodig suurstof en afwisseling. Balans is noodsaaklik.
  1. Spanning
  • Hoe langer jy werk uitstel of probeer ignoreer, hoe meer word die molshoop ʼn berg.
  • Dit is makliker om jou dag of week sterk te begin en produktiwiteit vol te hou as wat dit is om ʼn dag of week rustig te begin en dan oor te skakel na produktiefwees toe.
  • Spanning kan na vore kom wanneer jy voel dat dinge buite jou beheer begin spiraal. Begin betyds, en werk elke dag om ʼn gevoel van bemeestering oor jou tyd en omgewing te kan skep.
  • Kry genoeg slaap! Min slaap tas jou vermoë aan om helder te dink, goed te konsentreer, en raak produktiwiteit negatief. Verder verminder dit jou vermoë om druk te kan hanteer en lei dit tot hoër spanningsvlakke.
  1. Prioritiseer
  • Gaan jou werk na deur gebruik te maak van die Verkeersligmetode: merk die werk wat jy bemeester het met ʼn groen kol, werk waaraan jy aandag moet gee met ʼn oranje kol, en werk waarmee jy die minste bekend is, met ʼn rooi kol. Dit laat jou toe om begrip te ontwikkel vir wat jy wel ken of nie ken nie, en waaraan jy meer tyd moet spandeer.

 

Daar is baie wenke daarbuite, maar slegs jy weet wat jou sal help voorberei vir die eindeksamen. Volg jou kop en maak seker dat jy nie jouself uitbrand nie. Laastens: Onthou dat graad 12-punte belangrik is, maar dat dit jou nie as persoon definieer nie. Daar is talle maniere waarop mense slim kan wees, wat nie in eksamens gemeet kan word nie. Sterkte met die eksamens, matrieks! Akademia staan bankvas agter julle.