Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Hoe om dinosourusgrootte projekte in jou lewe te benader

Gepubliseer op: 3 Nobember 2021

Geskryf deur Jaun Kriel, programkoördineerder: Gevorderde Diploma in Projekbestuur

Het jy geweet dat die meeste mense daagliks van projekbestuur gebruik maak? Ter viering van Internasionale Projekbestuur wat op 4 November plaasvind, deel ek graag my wenke oor hoe jy dinosourusgrootte projekte in jou alledaagse lewe kan benader.

My seuntjie se verjaarsdag is om die draai en hy smag na ʼn dinosouruspartytjie. Hoe gemaak? Daar is uitnodigings, koeke, partytjiepakkies, vermaak vir die kleinspan en nie eens te noem van die magdom ouers en familie wat ook ietsie te ete moet kry nie. Kinderpartytjies deesdae voel meer soos ʼn troue wat maande voor die tyd beplan moet word.

Dit voel soos Rubik se kubus waar alles net nie mooi wil pas nie. Sit terug, haal asem en bepeins. Dit is nie die eerste of laaste partytjie wat beplan moet word nie, hoe maak mens dit makliker? Wat is dit nou eintlik? Soos met enige iets wat ʼn begin en ʼn einde het, is dit ʼn projek en moet ook so hanteer word. Daar is ʼn omvang – die dinosouruspartytjie; daar is tydsgebondenheid – die datum van die partytjie; daar is ʼn begroting ongeag hoe minimaal dit mag wees; en dan natuurlik die gehalte wat ʼn amper-5-jarige met die grootste verbeelding se goedkeuring moet wegdra.

Dit is die steunpilare van projekbestuur. Dit sal jou verras om te weet dat jy heelwaarskynlik reeds projekbestuur binne jou persoonlike lewe toepas: Of dit nou is om ʼn koek te bak, jou inkopielysie op te stel, of jou oggendroetine is. Dit is klein projekte wat in jou lewe voorkom, sonder dat jy eens besef dat jy deur die hele projeklewensiklus gegaan het, ongeag hoe lank dit neem.

Eerlikwaar, wil mens nou regtig akademiese terme en prosesse binne jou huishouding inbring? Dit voel dan so koud en onpersoonlik? Dit mag wel die geval wees, maar met maklike en kreatiewe maniere kan jy van die jongste na jou eweknie opgewonde maak oor die klein projekte wat julle aanpak.

Die term “agile” is die afgelope paar jaar op die voorgrond in projekbestuurkringe. Dit kan vertaal word as “aanpasbare projekte”. Aangesien die uitkoms nie noodwendig duidelik is nie, moet daar spasie gelaat word vir aanpasbaarheid. Almal wat kinders het en ʼn papier op die yskas het wat met sterretjies beplak word of waar kruisies getrek word indien die kleuter iets reg of verkeerd doen, is reeds besig met ʼn voorbeeld van iets wat bekend staan as “Kanban”. Hierdie raamwerk stipuleer dat die vloei van take visueel uitgedruk word in notas wat in afdelings van byvoorbeeld belangrikheid geplaas word en dan verskuif word soos die take afgehandel word. Hierdeur pas jy lenige projekbestuur binne die aanpasbare metodologie toe om dit vaartbelyn (streamlined in Engels) te maak. Dit is slegs een voorbeeld en ʼn nuwe wêreld sal vir jou oopgaan indien jy meer gaan lees oor wat projekbestuur behels en hoe jy dit reeds binne jou daaglikse lewe toepas.

Die groot dinosouruspartytjie is oor ʼn week en ons Kanban-bord het feitelik geen notas op wat nie as afgehandel beskou kan word nie. Dinosourusse mag dalk al uitgesterf het en uitgewis wees van ons planeet, maar hulle lewe steeds binne die verbeelding van ʼn vyfjarige kleuter wie se partytjie met die hulp van projekbestuur suksesvol sal geskied.

Jaun Kriel is die programkoördineerder van die Gevorderde Diploma in Projekbestuur by Akademia.