Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Internasionale Rekeningkundedag: Die lewe van ʼn rekenmeester

Gepubliseer op: 9 Nobember 2021

Geskryf deur Nikki Kennedy, dosent in Bestuursrekeningkunde by Akademia.

Ter viering van Internasionale Rekeningkundedag wat wêreldwyd op 10 November gevier word, deel ek graag met julle my idee van wat die lewe van ʼn rekenmeester behels te midde van die Covid-19-pandemie sowel as hoe die toekoms vir ons rekenmeesters lyk.

As ʼn gekwalifiseerde rekenmeester met meer as 23 jaar se ondervinding, waarvan negentien in my eie praktyk is, kan ek nogal heel liries raak oor die professie. Ons kry daagliks te doen met lojale kliënte en kollegas wat soos familie voel ná die jarelange besigheid- en vertrouensverhoudings wat opgebou is. Dit is ʼn besonderse voorreg om hierdie individue se drome saam te kan help uitbou en ondersteun, en soms ook te kan hulp verleen in die formulering daarvan.

Dit is ook ons voorreg om soms die skouer te wees om op te huil indien die besigheid se deure nie oop mag wees tydens inperkings nie. Wanneer die beste planne niks beteken as die deure toe moet bly nie. In sulke moeilike tye is dit verblydend om die besigheidspersoon se uithouvermoë waar te neem en die werknemers se lojaliteit te sien. Tye wanneer nuwe denke en idees inskop en vlam vat om die pot aan die kook te hou en om te verseker dat al die werknemers so ver as moontlik steeds salaris kan kry. Nuwe besighede en positiewe veranderinge aan bestaande besighede vind juis plaas gedurende daardie smeltkroes-oomblikke om hopelik aan die anderkant uit te kom as ʼn gesuiwerde beeld wat maar weer, deur die absolute genade van ons Here, afstof en opstaan en voortbou in ons wonderlike land.

Om balans te vind tussen kantoor en huis het meer uitdagend geword in die periode sedert Covid-19 ons nuwe realiteit geword het. Met soveel meer mense wat tuis werk, is die skeiding nie meer so duidelik soos in die verlede waar daar vaste werksure was nie. Ek vermoed dit is van toepassing op baie mense wat werk en ons rekenmeesters is geensins uniek hier nie. Dit is egter ook so dat die rekenmeesters se voertuie maar tipies die voertuie was wat by die kantoor bly staan het nadat ander personeel reeds huiswaarts gekeer het. Veral gedurende sekere tye van die maand, waar daar sperdatums gestel word deur die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) en onsself, is ʼn gebalanseerde werklewe ietwat uitdagend. Tog is daar vele mense wat hierdie balans mooi kan bemeester en bly dit iets waarna die res van ons streef.

Een ding is ek redelik seker van en dit is dat die rekenmeestersprofessie nog ʼn geruime tyd met ons sal wees. Rekenaars maak reeds ons lewe makliker en daar is soveel vooruitgang wat plaasvind om die daaglikse transaksies en eentonige boekhouwerk outomaties of met baie min betrokkenheid te verrig deur gebruikmaking van masjienleer en kunsmatige intelligensie. Dit laat ons met die dinge waar ons werklik waarde kan toevoeg tot die groei van ons en ons kliënte se besighede – daardie advies, beplanning, beheer en bewusmaking van al die wetlike vereistes waaraan voldoen moet word.

Dit kan ons slegs doen indien ons seker maak dat ons goed gekwalifiseerd is en goed gekwalifiseerd bly deur deurlopend ons akademiese kennis op te skerp. Hierin alles is die belangrikste ons menslikheid. As mense het ons die vermoë om empaties en met deernis ons werk hier op aarde te vervul. Deur eties op te tree en ons dagtaak so aan te pak, bereik ons nuwe hoogtes en stel ons ander nuwelinge wat tot die professie toetree in staat om ook die leisels eendag oor te neem van ʼn kosbare professie met ʼn mooi geskiedenis en mooier toekoms.

Nikki Kennedy is ʼn dinamiese dosent in Bestuursrekeningkunde by Akademia.