Kampusopedag op 10 en 11 Mei is in

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Grondslagfase ná groot afwagting by Akademia se 2022-aanbod gevoeg

Gepubliseer op: 11 Nobember 2021

Daar heers groot opgewondenheid nadat Akademia die nuus aangekondig het dat ʼn BEd (Grondslagfase-onderwys)-program voltyds by die Gerhardstraatkampus in Centurion aangebied gaan word. Met die implementering van hierdie onderwyskwalifikasie, bied Akademia nou ʼn volledige onderwys aanbod (grondslagfase, intermediêre fase en NGOS).

Hierdie kwalifikasie is die derde program wat tot die Fakulteit Opvoedkunde se studierigtings gevoeg is. Nadat ʼn deeglike proses gevolg is, geniet dié kwalifikasie akkreditasie by die Raad op Hoër Onderwys, en is by die Suid-Afrikaanse Kwalifikasieowerheid geregistreer. Die eerste studente voltooi vanjaar reeds die Nagraadse Onderwyssertifikaat (Senior Fase- en Verdere Onderwys en Opleiding-onderwys).

Die BEd (Grondslagfase-onderwys)-program is toegespits op die opvoeding en opleiding van onderwysers vir grade R tot 3. Graduandi van hierdie gehaltekwalifikasie sal Afrikaans, Engels, Wiskunde en Lewensvaardighede in dié fase kan aanbied en met teoretiese en praktiese onderwyskennis toegerus wees. Studente wat hierdie kwalifikasie voltooi sal ook by die Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders (SARO) as professionele onderwysers kan registreer.

 

Volgens prof. Gawie du Toit, dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde, is Akademia verbly deur die nuwe verwikkelinge om nog ʼn kwalifikasie in die fakulteit aan te bied. “Voornemende studente kan nou voltyds Grondslagfase-onderwys by ons studeer, terwyl hulle aan ʼn voortreflike akademiese kultuur en akademiese tuiste blootgestel sal word. Hier sal hulle ook terselfdertyd aan ʼn lewenskragtige studentelewe kan deelneem. Ons wens is uiteindelik dat dié studente pioniers sal wees wat in hulle moedertaal help skryf aan ʼn nuwe hoofstuk in Onderwysgeskiedenis in Suid-Afrika.”

Die NKR-vlak 7-program kan oor ʼn minimum van vier jaar voltooi word, en 50% word vir onderskeidelik Wiskunde, Engels en Afrikaans vir toelating tot studie vereis. Met ʼn goeie akademiese profiel sal studente met ʼn laer Wiskundepunt of ʼn Wiskundegeletterdheidspunt van 70% of hoër ook oorweeg word vir toelating tot die program. Du Toit reken dat die voornemende student in besonder lief moet wees vir die klein kind en om saam met hulle te leer en te speel. “Die grondslagfase-onderwyser neem dikwels vir ʼn paar uur per dag die rol van die ouer in en het die besondere voorreg om elke dag boustene in ʼn kind se lewe te lê, sodat elkeen sy volle potensiaal kan bereik.” Hy noem ook dat die persoon nuuskierig en liefdevol moet wees, sowel as ʼn dienende leier, binne en buite klasverband.

Volgens Du Toit word daar tans genoegsame grondslagfase-onderwysers in Suid-Afrika opgelei, maar met die snelveranderde universiteitslandskap word al hoe minder in hulle moedertaal Afrikaans opgelei. Du Toit noem verder dat die argument vir onderrig en leer in moedertaal lankal reeds gewen is. “ʼn Moedertaal, in besonder dan moedertaalonderwys, dra daartoe by om te help skryf daaraan om aan ons werklikheid ʼn unieke, skeppende en diepgaande wyse gestalte te gee.”

Hy verduidelik dat daar ʼn groot aanvraag vir grondslagfase-onderwysers gaan wees binne die volgende dekade. “Volgens die statistiek van die Suid-Afrikaanse Onderwysunie (SAOU) tree ʼn groot groep onderwysers binne die volgende tien jaar af en dit gaan ʼn leemte laat aangesien heelwat minder jong onderwysers toetree tot die beroep. Veral dan ook in die grondslagfase,” sê hy.

Volgende in die pyplyn vir die Fakulteit Opvoedkunde by Akademia is die ontwikkeling van nagraadse programme, programme wat voortgesette onderwys in diens sal ondersteun en kort kursusse om uitdagings in die onderwys aan te pak. “Ons studente word voorberei om lewenslange leerders te wees ten einde tred te hou en leiding te neem met die snelveranderde onderwysomgewing,” sluit Du Toit af.

Studieaansoeke vir BEd (Grondslagfase-onderwys)-program is reeds oop. Vir meer inligting oor die kwalifikasie, klik hier. Akademia, jou Afrikaanse studietuiste!

Prof. Gawie du Toit, dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde, en dr. Maretha Steyn, programkoördineerder van die BEd (Grondslagfase-onderwys)-program klink ʼn glasie ter viering van die nuwe kwalifikasie op Akademia se aanbod.