Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

2023-eerstejaarskamp maak ongelooflike energie los onder studente

Gepubliseer op: 6 Februarie 2023

Akademia se jaarlikse eerstejaarskamp het vanjaar op 31 Januarie afgeskop by die Wag ʼn bietjie-kampterrein net buite Pretoria. 220 opgewonde en blinkoog eerstejaars het hierdie besonderse geleentheid bygewoon. Eerstejaarstudente van die nauurse afstandsmodel sowel as die voltydse kampusmodel het die kamp bygewoon saam met 24 Akademia-seniors en -ambassadeurs.

“Dit was goed om ons studenteraad, huiskomitees en ander studentelewe-ambassadeurs by die kamp te kon hê sodat die eerstejaars met hulle kon bande bou,” vertel Douard d’Assonville, studentesakekoördineerder by Akademia. “Dit was ook vir die studente goed om voor die akademiese jaar amptelik afskop die studentesake-afdeling en studenteondersteuningspan te kon ontmoet.”

Die kamp het grootliks ten doel om eerstejaar-Fonties die geleentheid te bied om bande te bou met mekaar, die studenteraad en van Akademia se personeel. “By die kamp word die eerstejaars ook bekendgestel aan Akademia se waardes, begronding en kultuur. Dit is belangrik dat hul vroeg reeds die fondasie en bloudruk van Akademia verstaan,” noem d’Assonville.

Die program was propvol intellektuele sowel as buitelugsessies. Paul Smit, wat leierskapontwikkeling, lewensafrigting en mentorskap aan Akademia-studente bied, en Gretha Wiid, bekende motiveringspreker, het sessies gelei waar studente meer kon leer en saampraat oor verhoudings, identiteit en hoe om jou vryheid as student te bestuur.

Daar was ook pret-aktiwiteite soos boogskiet, toutrek, hindernisbane, ʼn tromslaansessie, vlugbal, ʼn potjiekoskompetisie en vele meer. Dit was ook die eerste groep eerstejaarstudente wat die geleentheid gehad het om op die kamp die nuwe Akademia-universiteitslied te leer. “Dit was ʼn baanbrekeroomblik dat ons eerstejaars al op die kamp die universiteitslied kon leer. Dit is nog nooit vantevore gedoen nie, ” vertel d’Assonville.

Daar was ook ʼn FAK-saamsing rondom die kampvuur begelei deur Akademia se sêr-afrigter, MJ Nel. “Die kampvuursaamsing het beslis vir my uitgestaan. Dit was ʼn hoogtepunt om saam met die sêr-afrigter Afrikaanse treffers te kon sing,” het Marisa du Plessis, splinternuwe Fontie gesê.

Op die laaste aand van die kamp was daar ʼn afsluitingsdinee waar die eerstejaars lekker kon sokkie en saam die week kon afsluit. Een van die personeellede het ook vir die eerstejaars ʼn vinnige dansles gegee wat die studente besonder geniet het.

Volgens d’Assonville is daar ʼn ongelooflike energie losgemaak tydens die kamp onder die studente. “Ons wil hierdie energie en positiewe ingesteldheid oordra na ons oriëntering en algehele studentelewe. Ek is oortuig dat 2023 ʼn groot jaar vir Akademia se studentelewe gaan wees.”

d’Assonville vertel dat dit ʼn voorsprong en voorreg vir eerstejaarstudente is om die kamp te kan bywoon. “Die kamp het hand aan hand gegaan met ʼn plesierige tyd maar dit het ook waarde tot ons nuwe studente toegevoeg. Ons het die geleentheid gehad om te sien hoe ons nuwe Fonties se denke en hart begin vorm. Dit is wat Akademia onderskei van enige ander hoëronderwysinstelling,” sluit d’Assonville af.

Die jaarlikse eerstejaarskamp is een van vele opwindende items op die studentekalender. Hou hierdie spasie dop, want daar is nog studentenuus en -aktiwiteite in die vooruitsig.

Indien jy nog in 2023 ʼn eerstejaar by Akademia wil wees, kan jy nog tot 10 Februarie om 12:00 aansoek doen. Slegs aansoeke wat die korrekte dokumentasie bevat sal verwerk word. Vir meer inligting oor Akademia, besoek www.akademia.ac.za of stuur ʼn WhatsApp aan 0861 222 888. Akademia, jou Afrikaanse studietuiste!

Dit was die eerste jaar waar die groep eerstejaarstudente die Akademia-universiteitslied by die kamp kon leer.
Die eerstejaars het aan verskeie buitelugaktiwiteite soos vlugbal, toutrek, hindernisbaan en vele meer deelgeneem.
Die studente het in die aande ook opwindende aktiwiteite aangepak soos ʼn tromslaansessie, potjiekoskompetisie en FAK-saamsing om die kampvuur.
Gretha Wiid en Paul Smit was twee van die sprekers wat die intellektuele sessies oor verhoudings, vryheid en identiteit gelei het.
Die eerstejaar-Fonties het by die kamp die geleentheid gehad om vriendskappe te kweek wat ʼn leeftyd gaan hou.