Search
Close this search box.

Is die verklaring van ʼn nasionale ramptoestand vir Eskom net voor die nasionale begroting toevallig?

Gepubliseer op: 6 Februarie 2023

Geskryf deur dr. Sandra Adendorff, dosent in Ekonomie en Internasionale Handel by Akademia

Dis nie toevallig dat die moontlike implementering van die ramptoestand net voor die samestelling van die nasionale begroting plaasvind nie. In Suid-Afrika word die nasionale begroting in Februarie voorgelê as uitvloeisel van president Cyril Ramaphosa se staatsrede, met gevolge vir ieder en elk in die land. Wat hierdie jaar se begrotingsrede betekenisvol maak, is die poging om die (gebrek aan) kragvoorsiening vooraf as ʼn nasionale ramptoestand te verklaar.

Ingevolge artikel 27 (1) van die Wet op Rampbestuur kan ʼn situasie van rampbestuur verklaar word indien bestaande wetgewing en gebeurlikheidsmaatreëls nie genoegsame voorsiening maak vir die nasionale uitvoerende gesag om effektief die ramp te bestuur nie. Daarvolgens kan elektrisiteitsvoorsiening deur Eskom, die bron van groot frustrasie en pyn vir almal in die land, dan buite die normale kanale bestuur word en fondse op meer kreatiewe en ingrypende metodes bekom word om hierdie monopolistiese lomp staatsonderneming weer van vooraf te red.

ʼn Groot bekommernis is natuurlik die gebrekkige bestuur van finansies onder sodanige toestande. Die onlangse geskiedenis van finansiering van ramptoestande is ongelukkig deurspek van wanbestuur en vergrype. Ons kan almal getuig van die wanbestuur van die ramptoestand tydens die Covid-19-pandemie wat president Cyril Ramaphosa op 15 Maart 2020 verklaar het met verreikende gevolge vir elkeen in Suid-Afrika. ʼn Meer onlangse ramptoestand wat April 2022 in KwaZulu-Natal verklaar is, het weereens bewys dat daar weinig gedoen is aan die herstel van die infrastruktuur in Durban/eThekwini. Watter waarborge het ons dat hierdie ramptoestand nou skielik effektief bestuur sal word? Daarbenewens is daar alternatiewe beskikbaar wat die staat nie wil toelaat nie – soos om Eskom te privatiseer en die privaat sektor te betrek by oplossings wat baie meer kostedoeltreffend sal wees. Hoekom moet ons swaar verdiende belastinggeld weer in die Eskom-slaggat gegooi word sonder enige waarborg dat dit effektief aangewend sal word?

Weens die plundery en wanbestuur soos blootgestel deur die Zondo-kommissie word staatsentiteite nie effektief bestuur nie en daarom verkeer die staatskas onder druk. Daarby plaas politieke onsekerheid en verskeie strukturele probleme nog meer druk op almal. Benewens die staat se benarde finansiële posisie, het armoede toegeneem met gepaardgaande druk vir addisionele sosiale besteding. Werkloosheid is histories hoog (32,9%) in die tweede kwartaal van 2022, maar onrusbarend is die feit dat werkloosheid nou alreeds meer as 20% was die afgelope twee dekades. Die werkloosheidskoers is van die hoogste ter wêreld en indien die uitgebreide definisie in ag geneem word, is dit 43,1% wat mense insluit wat beskikbaar is om te werk maar nie aktief vir werk soek nie. Dit is natuurlik ook baie ver van die werkloosheidteiken wat die ANC as regerende party gestel het, naamlik 14% vir 2020.

Die gebrek aan ekonomiese groeivooruitsigte wil ons laat huil. Dit is hoofsaaklik te wyte aan die energiekrisis met Eskom en histories hoe beurtkrag die ekonomie benadeel het. Die president van die Reserwebank voorsien dat die ekonomie met slegs 0,3% sal groei in 2023. Onrusbarend is die navorsing wat toon dat tot twee persentasiepunte verlies direk toegeskryf word aan beurtkrag. Daarbenewens plaas die stygende voedsel en brandstofpryse, met die gepaardgaande siklus van hoër rentekoerse wat poog om inflasie (7,2%) in toom te hou die ekonomie onder druk. Ons leef dus in ʼn omgewing van stagflasie met lae ekonomiese groei en hoër pryse gepaardgaande met armoede wat toeneem. Die impak op ieder en elk weeg ook swaar teen die impak op potensiële beleggers en investeringsgeleenthede wat nie plaasvind weens onbetroubare kragvoorsiening nie.

Die minister van Finansies, mnr. Enoch Godongwana, het dus baie min beweegruimte vir idealistiese doelwitte wat in die mediumtermynbegroting in Februarie gestel is.

Dit is ongelukkig waar dat die staat alreeds diep in die skuld is soos die gepaardgaande grafiek duidelik uiteensit. Indien hulle ʼn ramptoestand afkondig, kan daar afsonderlik voorsiening vir elektrisiteit gemaak word. Dit sal egter met skuld gefinansier word, iets wat ons nouliks kan bekostig. Die totale bruto leningskuld as persentasie van die BBP het toegeneem tot 71,4% in September 2022 vergeleke met 68,1% van die vorige jaar.

Dit is ongetwyfeld waar dat daar daadwerklik aan die kragprobleme van die land gewerk word, maar dit is te betwyfel dat die bestuur van die voorgenoemde ramptoestand die beste oplossing sal wees. Daar is wonderlike inisiatiewe wat geïgnoreer word – soos die gesoute ingenieurs en topakademici wat by die Universiteit van Pretoria tegnologie ontwikkel wat gebruik kan word om kragstasies reg te ruk. AfriForum is ook besig om ʼn kragmaatskappy te ontwikkel om saam met die privaat sektor te help aan die kragkrisis. Die oplossing is om die private sektor by staatsondernemings soos Eskom betrokke te kry wat ʼn wonderlike inspuiting in die staatskas sal wees. Dit is ongelukkig nie iets wat die politici wil doen nie en gevolglik is wanbestuur aan die orde van die dag. Ons kan net aanhou hoop en bid dat die oplossing spoedig sal plaasvind en hoop soos Daniel 2:23: “U God van my vaders loof en prys ek, want U het my wysheid en krag verleen.”

Indien jy wil sin maak van die nasionale begroting, klik gerus hier vir meer oor die Ekonomiese en fiskale beleid-kortkursus van Akademia et al. Hierdie kortkursus bied aan individue en voornemende sakelui ʼn oorsig oor ekonomiese beleid in Suid-Afrika. Die kursus bied die kursusganger die geleentheid om die ekonomiese omgewing te verken wat ʼn impak op sakebedrywighede het en elkeen se begroting beïnvloed.

Dr. Sandra Adendorff is ʼn dosent in Ekonomie en Internasionale Handel by Akademia.
Kennisgewing web