Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Skoliere se padkaart na die #RSABegroting2023

Gepubliseer op: 2 Februarie 2023

Geskryf deur Mariaan Oschman en dr. Chris-Mari Le Hanie van Akademia se Fakulteit Opvoedkunde

Die nasionale begroting van Suid-Afrika word jaarliks in Februarie deur die Minister van Finansies bekend gemaak. In die begrotingsrede word die regering se planne en prioriteite vir die volgende drie jaar vir die besteding van publieke fondse uiteengesit. Dit is belangrik dat skoliere kennis neem van die nasionale begroting aangesien dit ʼn direkte impak op hulle het.  Voorbeelde hiervan sluit die volgende in:

  • Die beskikbaarheid van hulpbronne, byvoorbeeld handboeke en tegnologie wat effektiewe leer- en onderrigpraktyke beïnvloed.
  • Die ontwikkeling van skoolinfrastruktuur, naamlik die bou en instandhouding van skole wat die leeromgewing beïnvloed.
  • Die salarisse van onderwysers, wat werkstevredenheid en motivering van onderwysers kan beïnvloed en diensooreenkomstig die gehalte van onderwys vir leerders.

In Ekonomiese Bestuurswetenskappe (EBW) vir die senior fase, graad 7 tot 9, word die grondslag gelê vir skoliere om die nasionale begroting te verstaan. Hierdie skoolvak is daarop gemik om skoliere se ekonomiese en finansiële geletterdheid te ontwikkel. Verder rus dit hulle toe om krities na te dink oor die komplekse ekonomiese landskap in Suid-Afrika. Die volgende padkaart wat saamgestel is vanuit die EBW-kurrikulum kan skoliere dieper insig gee oor hoe om die nasionale begroting te verstaan.

Bron: Departement van Basiese Onderwys, 2011. Ekonomiese en bestuurswetenskappe: Kurrikulum- en Asseseringsbeleidverklaring Graad 7-9. Pretoria.

Skoliere kan die begrotingsrede met die onderwerpe soos uiteengesit in die padkaart soos volg met mekaar verbind:

  • Stap 1: Vergewis jouself van die basiese konsepbeginsels van ʼn begroting soos geleer word in EBW.
  • Stap 2: Doen navorsing oor die begrotingsproses. Die proses sal jou help om te verstaan waarom sekere fondse geallokeer word aan bepaalde hulpbronne.
  • Stap 3: Luister na die begrotingsrede om ʼn oorsig te verkry van die regering se planne en prioriteite.
  • Stap 4: Bestudeer die begrotingsdokument met spesifieke verwysing na die verskillende kategorieë van besteding, byvoorbeeld vir onderwys, gesondheidsorg, ens.
  • Stap 5: Gebruik die kennis, vaardighede, houdings en waardes wat jy geleer het in EBW as ʼn verwysingsraamwerk om in gesprek te tree met maats, onderwysers, jou ouers en ander oor die begroting en die impak daarvan op die samelewing in geheel.
  • Stap 6: Reflekteer oor hoe die nasionale begroting jou daaglikse ekonomiese keuses beïnvloed.

Die padkaart en stappe sal jou help om die begrotingsrede aan die einde van Februarie en jou rol en verantwoordelikheid in die samelewing beter te verstaan. Indien ekonomie en finansies deel van jou belangstellingsveld is, lees gerus hier meer oor Akademia se BCom-kwalifikasies. Akademia – jou Afrikaanse studietuiste!

Mariaan Oschman is ʼn dosent in Besigheidstudies- en Ekonomiese en Bestuurswetenskappe-onderwys by Akademia
Dr. Chris-Mari Le Hanie is ʼn senior dosent in Opvoedkunde by Akademia.