Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

49-jarige verwesenlik haar studiedrome by Akademia

Gepubliseer op: 2 Februarie 2023

Surica Victor, 49-jarige van Bloemfontein, het in 2022 haar BCom (Bestuursrekeningkunde)-kwalifikasie met onderskeiding by Akademia geslaag. Sy ontvang vanjaar haar graad by die jaarlikse kwalifikasieplegtigheid by Akademia. Victor werk al verskeie jare in die finansiële sektor en het ondervinding opgedoen by ʼn staatsinstelling sowel as in die privaat sektor in debiteure-, krediteure-, salaris- en ander boekhoudingfunksies. Sy is tans ʼn boekhouer by ʼn Suid-Afrikaanse tak van ʼn internasionale groep.

Sy het nie ná skool studeer nie, maar het altyd die droom gekoester om ʼn kwalifikasie te kan behaal. Sy het in 2019 besluit om ondersoek in te stel oor nauurse studies aangesien sy voltyds werk. Sy het toe op Akademia besluit waar sy vanaf 2020 tot 2022 deur middel van die instelling se nauurse afstandsmodel studeer het en kon uiteindelik haar droom verwesenlik toe sy haar kwalifikasie cum laude geslaag het.

Sy het die hoogste lof vir die BCom (Bestuursrekeningkunde)-kwalifikasie wat sy studeer het. “Die modules was baie omvattend en het my blootstelling, insig en kennis oor ʼn wyer area aansienlik verbreed. Ek beveel dit sonder twyfel aan vir enigeen met ʼn soortgelyke belangstellingsveld.” Sy vertel verder dat sy nou die kardinale rol van bestuursrekenmeesters verstaan en hoe hul inpas en bydra tot die makro-ekonomie.

Victor noem dat die unieke en gevorderde tegnologiese onderrigleermodel waarmee sy in Afrikaans kon studeer haar altyd sal bybly. “Die wedersydse betrokkenheid en ondersteuning van dosente, medestudente en sentrumpersoneel was besonders. Dit was ʼn formidabele ondersteuningsnetwerk.”

Om voltyds te werk en studeer is beslis moontlik, al is daar uitdagings, volgens Victor. “Dit was moeilik om te midde van die vreemde en onbekende Covid-pandemie voltyds te werk en te studeer. My raad aan studente is om deeglik en vooruit te beplan, definitiewe doelwitte te stel en deur te druk.”

Sy vertel dat die gevoel wat mens kry wanneer die punte vrygestel word ongelooflik is. “Mens besef dat die harde werk en opofferings ten spyte van eksterne omstandighede wel vrugte afgewerp het.” Victor kan nie wag om te sien hoe haar kwalifikasie bydra tot ʼn bestuursposisie waar sy haar kennis en nuwe lewensuitkyk kan gebruik om ʼn daadwerklike verskil in haar gemeenskap te maak nie.

Indien jy ook ʼn passie het om te studeer en jou loopbaan te bevorder, besoek Akademia se webblad hier. Akademia – jou Afrikaanse studietuiste!

Surica Victor het haar BCom (Bestuursrekeningkunde)-kwalifikasie met onderskeiding geslaag en ontvang vanjaar haar graad by die jaarlikse kwalifikasieplegtigheid.