Kampusopedag op 10 en 11 Mei is in

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia se eerste honneurskwalifikasie in 2023 aangebied

Gepubliseer op: 4 Januarie 2023

Akademia het op Woensdag 4 Januarie 2023 die nuus bekendgemaak dat die instelling se heel eerste honneurskwalifikasie vanjaar van stapel gestuur gaan word. Die BComHons (Ondernemingsbestuur)-kwalifikasie sal vanaf 1 Maart 2023 in Afrikaans op die nauurse afstandsmodel by die instelling aangebied word, wat beteken dat studente steeds bedags sal kan werk of ander belangstellings najaag.

Die instelling bied reeds vanaf 2014 die BCom (Ondernemingsbestuur)-kwalifikasie suksesvol op die nauurse afstandsmodel aan, asook vanaf 2022 op die voltydse kampusmodel. Volgens Elize-Mari Coetzer, departementshoof van Bestuurswetenskappe by Akademia, was die volgende natuurlike stap om ʼn honneurskwalifikasie van uitstekende gehalte uit te rol om studente verder toe te rus vir hul loopbane.

Volgens Coetzer het die BComHons-kwalifikasie ten doel om studente se voorgraadse ondernemingsbestuurkennis en -vaardighede te verdiep deur hul toe te rus met die nuutste kennis en vaardighede in dieselfde veld. “Ons wil ons studente ook voorberei om navorsing binne die Ondernemingsbestuurveld te doen en ʼn navorsingsverslag te kan skryf en voor te lê.”

Die BComHons-kwalifikasie val op NKR-vlak 8 en stel die student bloot aan kernbestuurstake sowel as ondersteunende bestuursfunksies. Dit sluit beplanning, organisering, leiding en beheer van strategieë, verandering, geïntegreerde voorsieningskettings en finansies in.

Die tipiese beroepe wat gevolg kan word ná die voltooiing van die kwalifikasie sluit in: algemene bestuurder, besigheidsanalis, besigheidsadviseur, operasionele bestuurder, aankoper, voorsieningskettingbestuurder, spanleier of besigheidskonsultant. Hierdie kwalifikasie sal ook aan studente toegang kan bied tot verdere nagraadse programme soos ʼn meestersgraad.

Volgens Coetzer sal die kwalifikasie studente in die werksplek laat uitstaan omrede studente navorsingsvermoëns, kritiese denke en probleemoplossingvaardighede sal hê wat aan die bedryf se behoeftes voldoen. “By Akademia word ons studente se denke en hart gevorm sodat hul ʼn waarlike verskil in hul gemeenskappe sal kan maak.”

Om in aanmerking te kom vir toelating tot Akademia se BComHons (Ondernemingsbestuur)-program, word ʼn toepaslike baccalaureusgraad of toepaslike gevorderde diploma (NKR-vlak 7) vereis. Die aansoeker moet ook ʼn minimum van 65% in ʼn NKR-vlak 5-, 6- en 7-Ondernemingsbestuur-module behaal het, asook ʼn gemiddeld van 60% vir alle derdejaarsmodules.

Volgens Coetzer is die dosente wat die modules aanbied en as studieleiers dien se harte en besonderse begronde denke deel van die DNS wat elke module vorm. “Hulle is werklik passievol en daarop uit om die student te ontwikkel as individu, en om te sien dat hul die dele in die geheel raaksien en onafhanklik kan dink.”

Coetzer se raad aan voornemende studente wat die kwalifikasie oorweeg is om die ingesteldheid van lewenslange leer aan te neem, om honger te word om hul kennis en vaardighede te verdiep om sodoende hulself van ander te onderskei. “Die BCom (Ondernemingsbestuur)-kwalifikasie was die eerste graad wat Akademia aangebied het en nou is die eerste honneurskwalifikasie by die instelling ook in dieselfde veld. Ons maak geskiedenis en ons wil jou uitnooi om hiervan deel te wees.”

Indien jy belangstel om jouself verder te bekwaam in die Ondernemingsbestuurveld met ʼn honneurskwalifikasie, besoek gerus Akademia se webblad vir meer inligting. Studieaansoeke vir die BComHons (Ondernemingsbestuur)-kwalifikasie is reeds oop en sluit op Woensdag 22 Februarie 2023. Let daarop dat daar slegs ʼn beperkte aantal studente tot die program toegelaat sal word. Akademia – jou Afrikaanse studietuiste!

Die BComHons (Ondernemingsbestuur)-kwalifikasie sal vanaf 2023 aangebied word op Akademia se nauurse afstandsmodel.