Kampusopedag op 10 en 11 Mei is in

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia skop 2023 af met ʼn suksesvolle STEAM-kongres

Gepubliseer op: 17 Januarie 2023

Die Fakulteit Natuurwetenskappe by Akademia (AkNat) het reeds vroeg in 2023 met die STEAM-kongres vanaf 5 en 7 Januarie afgeskop waar daar in diepte gesels is oor die bevordering van inter- en transdissiplinêre pedagogie vir Wiskunde- en Wetenskaponderrig. Die kongres, wat by Leriba in Centurion aangebied is, is gesamentlik aangebied deur AkNat, die Govan Mbeki Mathematics Centre (GMMDC) en die Skoleondersteuningsentrum (SOS). Die doel van die unieke, veeltalige en multimodale kongres vir inter- en transdissiplinêre leer in Suid-Afrika was om reeds vroeg in die nuwe jaar akademici, studente, onderwysers en dosente met nuwe innoverende onderrig-idees te inspireer.

Spesifieke temas wat tydens die kongres bespreek en gedemonstreer is, handel oor oopbrontegnologie, saamgestelde pedagogie, die STEM: “Science, Technology, Engineering and Mathematics”, en STEAM: “Science, Technology, Engineering, Arts and Mathematics”–konsepte en etnowiskunde. Van die mees invloedryke akademici in Suid-Afrika van verskeie universiteite soos die Nelson Mandela Universiteit, die Universiteit van Pretoria, die Noordwes-Universiteit, die Universiteit Stellenbosch en die Universiteit van Wes-Kaapland het die kongres bygewoon. Van die kongresgangers was ook vanaf maatskappye soos Bradley Aviation Technologies and Manufacturing en selfs vanaf die buiteland (Finland en Brasilië). Die kongres het gepaard gegaan met twee aandfunksies waar daar op ʼn kenmerkende Suid-Afrikaanse manier lekker genetwerk is en braaivleis en potjiekos geniet is.

Weens die aard van die natuurwetenskappe ontvang AkNat verskeie versoeke vir samewerking. Hierdie versoeke strek vanaf andertalige natuurwetenskap-entiteite asook entiteite uit ander gemeenskappe wat saam met Akademia navorsing wil aanpak en sodoende wil bou aan ʼn beter Suid-Afrkaanse samelewing, waarvan die Afrikaanssprekende gemeenskap deel vorm. AkNat het dus vanaf 2022 by geleentheid bruginisiatiewe van stapel gestuur waartydens daar uitgereik word na ander taalgemeenskappe. Hierdie bruginisiatiewe sal voortaan onder die naam AkNat-Prisma plaasvind. Die STEAM-kongres was die eerste bruginisiatief van AkNat-Prisma wat deur die fakulteit aangebied is, en uit die staanspoor kon die fakulteit daarin slaag dat Akademia se naam op ʼn positiewe wyse inslag by die groter Suid-Afrikaanse en internasionale samelewing vind.

Die STEAM-kongres wat vanaf 5-7 Januarie plaasgevind het, was ʼn reusesukses met afgevaardigdes vanaf dwarsoor Suid-Afrika en selfs die buiteland.