Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Brits-boerseun met baritonstem pak sy studies by Akademia aan

Gepubliseer op: 18 Januarie 2023

Braam du Toit is ʼn agtienjarige boerseun van Brits. Hy het onlangs hoofopskrifte gehaal nadat hy die gemeenskap se gemoedere verlig het deur ʼn liedjie van Gé Korsten in ʼn inkopiesentrum in KwaZulu-Natal te sing. Die video is meer as tweeduisend keer gedeel op Facebook. Du Toit het verlede jaar gematrikuleer en begin ook eersdaags as eerstejaar-BCom (Ondernemingsbestuur)-student studeer op die voltydse kampusmodel by Akademia.

Sy liefde vir musiek kom al van kindsbeen af en hy het reeds op sesjarige ouderdom begin met klavierlesse. “Terwyl ek klavier gespeel het, het ek saamgesing en só het ons vinnig agter gekom dat ek eerder sang bo klavier moet doen. Musiek is van daar af my hele lewe.” Hy luister ook maklik tussen agt tot tien ure musiek op ʼn dag. “Ek glo dat musiek werklik lewens kan verander en daarom luister ek graag musiek ná ʼn moeilike lang dag.”

Volgens Du Toit is dit soms oorweldigend om oral herken te word as die Gé Korsten-sanger, maar hy staan nederig voor God. “ʼn Video wat slegs bedoel was om mense se gemoedere te lig het die wind uit my eie seile geslaan. Ek het nooit gedink dat iets so klein so groot in my lewe gaan word nie. Dankie aan elkeen se ondersteuning.”

Baie mense wonder dalk – waarom het Du Toit juis Gé Korsten se liedjie in die inkopiesentrum begin sing? “Ek geniet enige musiek, maar my liefde vir Gé Korsten het vroeg begin. Ek was van jongs af ook baie lief vir rugby en wanneer ek die bal oor die rugby pale geskop het, het my ouma altyd vir my Liefling van Gé Korsten gesing.”

Tydens sy sangopleiding het hy ook baie van Korsten se musiek gesing, aangesien dit Du Toit se baritonstem soos ʼn handskoen pas. “Dit is vir my ʼn voorreg om Gé se musiek te kan sing. Hy het ʼn astronomiese bydrae gemaak tot die musiekbedryf en ek sal nooit sy plek kan instaan nie. Dit is ook nie my bedoeling nie. Ek wil my eie stempel afdruk.”

Hy was deel van die Hoërskool Brits-koor en noem dat dit vir hom ʼn voorreg sal wees om by die Akademia-koor, of sêrgroep vanjaar betrokke te kan raak. Du Toit sien uit na die jaar wat vir hom voorlê. “Die jaar gaan beslis vir my anders wees. Dit gaan my eerste keer in die koshuis en uit die huis uit wees. Ek sien uit na die eerstejaarskamp, die koor en die sêr. Elke dag bring nuwe uitdagings wat aangegryp moet word.”

Akademia voel vir hom soos die ideale studietuiste aangesien die instelling gehalte Afrikaanse onderrig bied en trots Christelike waardes uitleef. Hy het besluit om sy kwalifikasie in Ondernemingsbestuur aan te pak omdat hy hoop om eendag sy eie onderneming, hopelik in die musiekbedryf, te besit en wil graag die fynere detail van besigheid verstaan.

Oor vyf jaar wil hy graag sy kwalifikasie voltooi het en aan die voorpunt van ʼn sangloopbaan staan. Hy droom daarvan om eendag die Afrikaans is Groot-verhoog met sy rolmodelle, Appel en Riaan Benadé, te kan deel. Akademia sien uit daarna om te sien hoe hy groei en gedy tydens sy reis by Akademia.

Braam du Toit het onlangs opspraak gemaak ná hy die publiek vermaak het met ʼn Gé Korsten-liedjie in ʼn winkelsentrum.