Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia se eerste dosent deel wenke vir jou eerste jaar op universiteit

Gepubliseer op: 17 Januarie 2023

Geskryf deur Johann Smith, dosent in Statistiek en Sakeberekeninge by Akademia

Ek kan my eerste jaar op universiteit soos gister onthou. Ek was opgewonde om iets te studeer wat ek gekies het. Ek was benoud oor die nuwe omgewing. Ek was verward oor hoe dinge gaan werk, of universiteit werklik soveel moeiliker gaan wees as skool (dit was nie moeiliker nie, net anders), en of ek dit sou maak (ek het, en jy kan ook).

Universiteit is anders as skool. “Anders” beteken nie noodwendig “moeiliker” nie. As jy toelating tot ʼn kwalifikasie gekry het, kan jy die kwalifikasie voltooi. Maar universiteitslewe bied ʼn aantal uitdagings waarmee jy moontlik nie vantevore te doen gekry het nie. Hierdie uitdagings sluit in:

  • Die “niemand gee om nie”-effek. Dit is natuurlik nie waar nie. As eerstejaarstudent is daar baie individue en departemente by jou universiteit wat tyd en energie in jou sukses belê. Akademia se studentesake (vangnet@akademia.ac.za), Onderrig-en-Leer-afdeling en, natuurlik jou dosente is aan jou kant en glo in jou. Maar hulle sien jou ook as ʼn volwassene wat self verantwoordelikheid vir jou studies moet neem. Niemand raas met jou as jou huiswerk nie gedoen is nie. Niemand skakel jou ouers as jy ʼn klas gemis het nie. Niemand neem verantwoordelikheid as jy ʼn toets of selfs ʼn module gedruip het nie. Jy, en net jy, moet hierdie verantwoordelikheid dra.
  • ʼn Skielike oormaat van vryheid. ’n Universiteit bied ʼn groot hoeveelheid vryheid vir studente, veral ten opsigte van jou sosiale lewe. Die versoekings om op weeksaande te kuier is skielik baie groter, want vir menige studente is daar nie meer ʼn aandklokreël nie. Jy moet begin nee sê vir kuiergeleenthede om tyd aan jou studies te spandeer.
  • Meer werk om baas te raak. Verby is die dae wat jy die aand voor ʼn toets ʼn maand se werk kan baas raak. Werk op universiteit is meer as op skool. Die handboeke is dikker en die klasse is minder.

Hoe hanteer ʼn mens hierdie uitdagings? Ek stel die volgende drie wenke voor:

  • Lees deur die handboek buite klastyd. Die beste ding wat jy kan doen in jou eerste jaar op universiteit, is om self deur die handboek te lees. Klasse neem sowat 10% van jou akademiese tyd op. Die res van die tyd moet jy onafhanklik op jou eie studeer. Stel vir jou ʼn studieprogram op wat jou toelaat om elke dag ʼn deel van die voorgeskrewe materiaal baas te raak.
  • Beplan jou kuiers. Besluit hoeveel keer jy in ʼn week saam met vriende kan gaan kuier. Sê nee as jou werk nie op datum is nie.
  • Leer hoe om skuld te aanvaar as jy nie jou beste gedoen het nie. Vra jouself af: Het ek regtig alles gedoen wat ek kon om hulp te kry of om die probleem op te los? Het ek regtig behoorlik deur my e-posse gelees? Het ek regtig genoeg tyd aan hierdie leereenheid spandeer of het ek ʼn enkele e-pos gestuur en my verantwoordelikheid aan iemand anders probeer oordra? Verskonings op universiteit dra nie naastenby soveel gewig as wat dit op skool gedra het nie. Hou gouer jy dus van verskonings kan ontslae raak en op oplossings fokus, hoe groter is jou kans op sukses.

 

ʼn Universiteit is ʼn nuwe begin. Jy kan wees wie jy nog altyd wou wees en jou drome waar maak. Maak slim keuses en kyk hoe jou studiereis vir jou meer beteken as wat jy voor kon wens. Ek en Akademia sien uit om hierdie reis saam met jou aan te pak.

Johann Smith is Akademia se heel eerste dosent en sy ervaring bied aan ons Fonties verskeie lesse om vanuit te leer.