Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Skakel die Edison-ingesteldheid aan met matriekuitslae

Gepubliseer op: 18 Januarie 2023

Geskryf deur Elana Kriel, dosent in die Fakulteit Opvoedkunde

Stories oor skoolprestasies en -uitdagings van Albert Einstein en Thomas Edison is alombekend. Maar wat beïndruk, is die getuienis van veral Thomas Edison en hoe sy ma, ʼn opgeleide onderwyseres, hom letterlik onder hande geneem en sy skoolopleiding oorgeneem het. Sy was die een wat onverskrokke in Edison se potensiaal en vindingrykheid geglo het, nadat die skool aan die destydse skoolinspekteur genoem het dat Thomas Edison effens deurmekaar in die klas is en soms nie helder gefokusde denke in die klasse openbaar nie. Edison se onderwyseres-ma het blykbaar aan hom vertel dat hy baie meer weet as wat hy dink, hy meer weet as wat die skoolinspekteur vermoed en dat hy beter in ander omstandighede sal vorder. Sy het hom moed ingepraat, positief ondersteun, haar oor hom ontferm, hom aangemoedig om geleenthede te skep en aan te hou met leer, sodat hy later een van die wêreld se grootste en bekendste wetenskaplikes geword het. Edison se ma het die verantwoordelikheid geneem om Thomas se ‘uitnemende denke’ en sy ‘optimistiese hart’ te help vorm sodat hy sy toekoms betekenisvol en vry kon aandurf.

Wat is die waarde van hierdie vertelling? Die waarde van hierdie vertelling is juis dat resultate of terugvoer wat jy in die skoolomgewing ontvang nié die alfa en die omega behoort te wees nie, maar eerder gebruik moet word as rigtingwysers en -gewers vir jou toekoms. Teleurstelling is een ding, maar om jou kop op te lig, die werklikheid in die oë te staar en met positiwiteit na die geleenthede te kyk is ʼn resep vir sukses.

Hierdie ingesteldheid rym ook met die bekende sielkunde-uitsprake oor die hantering van die lewe – dat dit nie net gaan oor wat jy doen nie, maar hóé jy daarop reageer. My ma het vir my as kind gesê: “My kind, dit gaan nie oor wat jy sê nie, dit gaan oor HOE jy dit sê.” Weereens ware lewensligwoorde, want wat ons dink, verwoord ons, en leef ons.

Die verwagtinge van en hoop op suksesvolle en goeie matriekuitslae van matriekleerders, ouers, onderwysers en skoolbesture word dikwels bepaal deur die matriekuitslae en dan word die harde werk, die toegewydheid, en die menslikheid soms misgekyk. Is dit hoe dit moet wees?

Deesdae wag die matrieks ook nie meer vir die eerste koerant op straat om hul matriekuitslae te bevestig nie, die meeste is op ʼn sosialemediaplatform geregistreer waar resultate onmiddellik beskikbaar is op die dag van bekendmaking. Vir sommige is dit ʼn verligting en die begin van die res van hul lewens, maar vir ander leerders is die uitslae ʼn teleurstellende ervaring, ʼn jarelange droom wat in ʼn oogwink in ʼn nagmerrie ontaard. Slegte uitslae beteken nie net dat jy nie geslaag het nie, dit mag wees dat jy nie die aantal onderskeidings behaal het wat jy wou nie, of dat naskoolse opleiding en geleenthede in gedrang is as gevolg van keuring en prestasies.

Dit mag ook net die teleurstelling van eie hoë verwagtinge wees of selfs teleurstelling van onderwysers of ouers wat gehoop het op onderskeidings of slaagsimbole.

Hoe dan nou gemaak?

Wel eerstens, aanvaar die resultate as die begin van ʼn nuwe uitdaging. Wees bewus hoe jou denke en hart saam verantwoordelik is vir die bepaling van jou toekoms. Ondersoek die impak van die minder goeie resultate en reageer realisties daarop. Dit mag dalk die volgende moontlikhede inhou: die hermerk van ʼn vraestel, die herhaling van ʼn spesifieke vak en in sommige gevalle ʼn effens langer roete om te volg sodat vrystelling en keuring by hoëronderwysinstellings later voor aansoek gedoen moet word.

Sou dit beteken dat die naskoolse opleiding effens anders moet loop, beplan die beste roete en wees deurentyd positief en realisties oor die verwagtinge. Ondersoek alle moontlikhede, gesels met verskeie instellings oor alternatiewe opleidingsroetes. Stel alternatiewe planne in plek, bly gemotiveerd, beplan en werk hard om die nuwe doelwit te bereik.

Matriekuitslae is wel die begin van jou naskoolse opleiding, maar vir seker nie die einde nie.

Hier by Akademia besef ons weereens die waarde van goed opgeleide onderwysers, in enige opleidingskonteks. Die waarde van motiverende en ondersteunende gesprekke met leerders en dan die ingesteldheid om lewenslange leerders te kweek wat beteken dat ons gemotiveerd moet bly om aan te hou leer, al is daar soms minder goeie terugvoer of resultate. Die strewe om denke en hart te ontwikkel met die oog op ʼn sinvolle en betekenisvolle toekoms. Dis hiér waar ons ʼn ingesteldheid moet koester van moedhou, aanhou en deursettingsvermoë as integrale dele en vorming van menswees.

Edison het gesê: “Many of life’s failures are people who did not realize how close they were to success when they gave up”.

Leef so dat jy in jou voorbeeld, jou omgaan met mense, positief maar realisties sal wees in die hantering van minder goeie uitslae, dit jou sal inspireer om vasberade voort te leef, realistiese doelwitte na te streef en dat jy sal aanhou, moedhou en weer probeer, ander sal inspireer sodat jy die soete smaak van lewensukses kan ervaar. Leef so dat jou spreekwoordelike lewenslig nie net bepaal word deur matriekuitslae nie, maar dat matriekuitslae slegs rigtinggewend sal wees, nie die alleenbepaler van sukses in jou lewe nie. Skep doelbewus geleenthede en vertrou betekenisvolle mense om jou denke en hart voortdurend te vorm.

Indien jy belangstel in studies, maar onseker is oor hoe om dit aan te pak – maak hier ʼn afspraak met een van ons vriendelike studentewerwers om oor jou studieopsies te gesels. Akademia – jou loopbaanreis begin hier!

Elana Kriel is ʼn dosent in die Fakulteit Opvoedkunde by Akademia, asook die programkoördineerder van die BEd (Intermediêre Fase)-kwalifikasie.