Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Onderwys – ʼn langtermynbelegging in die mensdom

Gepubliseer op: 19 Januarie 2023

Geskryf deur dr. Maretha Steyn, Santie Louw, Elana Kriel en Susan O’Reilly van die Fakulteit Opvoedkunde by Akademia 

Die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie, bekend as Unesco, het sewentien kerndoelwitte geformuleer wat hul verbintenis tot die bou van ʼn internasionale vredeskultuur, die uitwissing van armoede, volhoubare ontwikkeling en internasionale samewerking verwoord. Onderwys is die weg waarlangs hierdie kerndoelwitte bereik kan word. Daarom beskou Unesco onderwys as ʼn langtermynbelegging in die mensdom.

Die vyfde Internasionale Onderwysdag met die tema om in mense te belê en om onderwys en opvoeding te prioritiseer, word vandag op 24 Januarie 2023 gevier. Hierdie tema beklemtoon die doelwit van volhoubare ontwikkeling, wat die wêreldwye behoefte aan gekwalifiseerde onderwysers onderstreep. Daarbenewens dien dit as aansporing om inklusiewe en gelyke onderwysgeleenthede en -toegang te skep sodat lewenslange leer en volhoubare onderwys en opleiding wêreldwyd die nodige aandag kan kry.

Tans is ongeveer 244 miljoen kinders wêreldwyd buite ʼn skoolsisteem en is daar reeds ʼn tekort van 69 miljoen onderwysers om aan hierdie groeiende onderwys behoefte te voorsien. Daar word beraam dat daar teen 2030 in Suid-Afrika alleen ʼn totaal van 280 000 onderwysers beskikbaar moet wees om aan ons plaaslike onderwysbehoeftes te voldoen.

In ʼn poging om die genoemde doelwit te bereik is daar reeds die afgelope dekade in Suid-Afrika strategiese beleide in plek gestel. Dit sluit onder andere die prioritisering van voorskoolse kinders en vroeëkinderontwikkeling in, wat op nasionale vlak na die Departement Basiese Onderwys oorgedra is. Vanaf 2022 is skoolbywoning vir leerders in graad R reeds ʼn vereiste, terwyl skoolbywoning vir graad RR in 2030 verpligtend sal wees. Terselfdertyd word die implementering van die Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklaring, asook die Beleid oor Sifting, Identifisering, Assessering en Ondersteuning nagevolg. Laasgenoemde het ten doel om hindernisse tot volhoubare leer te identifiseer om sodoende ondersteunende onderrig-leergeleenthede te bied. Die effektiewe implementering van hierdie beleide bly egter ʼn uitdaging.

Tog word Suid-Afrika steeds deur ongelykhede in die toeganklikheid en gehalte van onderwys gekenmerk. Daarom moet daar ook op gehalte onderwysersopleiding en strategiese samewerking met wêreldleiers in onderwys gefokus word om hierdie ideale en beleide suksesvol te kan implementeer.

Dit is juis waarom Akademia instellings in Finland as strategiese vennoot in onderwysersopleiding geïdentifiseer het en reeds in die proses is om gemeenskaplike projekte in onderwysersopleiding daar te stel. Akademia, ʼn klassieke en onafhanklike hoëronderwysinstelling vanuit en vir Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe kan kers opsteek by Finland om onderwys te prioritiseer in die herstel van die samelewing. Vandag word Finland as voorlopers in onderwys en opleiding geag as gevolg van verskeie redes. Finland staan onder andere veral samewerking in plaas van kompetisie voor, prioritiseer die basiese beginsels van opvoedkunde en beveel ʼn meer ontspanne klaskamer aan.

Aspekte soos lewenslange leer, transformatiewe refleksie, kreatiwiteit, samewerkende leer, leer deur te doen, asook die ontwikkeling van kritiese denkvaardighede word in Finland en Akademia se onderwysersopleidingsprogramme geprioritiseer. Akademia streef ʼn unieke opvoedingsideaal na, naamlik die strewe na insig in die geheel. Opvoeding en gehalte opleiding rus onderwysers toe om in enige skoolkonteks voorlopers te wees en onderrig en leer so te verpak dat dit verbondenheid met die gemeenskap bewerkstellig. Akademia is van mening dat hierdie begronding tot die volhoubaarheid van die onderwysprofessie bydra.

Onderwysprogramme wat opvoeding en doeltreffende opleiding insluit is ʼn langtermynbelegging in die mensdom. Dit sal die volhoubare ontwikkeling van onderwysers asook leerders plaaslik en internasionaal verseker. Indien jy belangstel in ʼn gehalte onderwyskwalifikasie, besoek gerus Akademia se webblad. Studieaansoeke vir 2023 is oop tot en met 31 Januarie 2023. Akademia – jou loopbaanreis begin hier!

Dr. Maretha Steyn is die programkoördineerder vir die BEd (Grondslagfase-onderwys)-kwalifikasie by Akademia.
Elana Kriel is die programkoördineerder van die BEd (Intermediere Fase-onderwys)-kwalifikasie by Akademia.
Susan O’Reilly is die programkoördineerder van die Nagraadse Onderwyssertifikaat vir Senior Fase- en VOO-onderwys by Akademia.
Santie Louw is ʼn dosent in Wiskunde, Natuurwetenskap en Tegnologie-onderwys by Akademia.