Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Akademia – nou nog méér toeganklik

Gepubliseer op: 19 Junie 2018

Akademia se suksesmodel vir die ondersteuning van afstandsonderrigstudente is geleë in die kontak met dosente en medestudente. Om studente te akkommodeer wat buite bereik van die dertien Akademia-studiesentrums is, het dié hoëronderwysinstelling ʼn blokmodel toegevoeg tot die huidige na-uurse onderrigleermodel.

Hierdie onderrigmodel is spesiaal ontwikkel om studente te akkommodeer wat meer as 80 km van ʼn Akademia-studiesentrum woonagtig is, of weens mediese of werksomstandighede nie die na-uurse klasse in ʼn akademiese jaar kan bywoon nie. Hierdie model sal nog méér studente toegang gee tot gehalte hoër onderwys in Afrikaans.

Anders as die huidige onderrigleermodel, waar studente elf na-uurse klasse per module bywoon, hoef studente in die blokmodel slegs vier keer per jaar tydens werksure vir twee opeenvolgende dae lesings by Akademia-studiesentrums bywoon. Hierdie model rus studente toe om letterlik énige plek, landswyd en in Namibië, by Akademia te kan studeer met die nodige ondersteuning om hul kwalifikasie suksesvol te voltooi.

Die gekombineerde metode van hoëronderwys by Akademia – afstandsleer aangevul met ʼn klaservaring – is oor die jare as ʼn wenresep bewys. Die voordele hiervan sluit ondermeer die volgende in:

  • Afstandsonderrig maak dit moontlik vir studente om tegelyk te werk en te studeer, en sodoende terselfdertyd inkomste en werkservaring op te doen terwyl hulle studeer.
  • Op Akademia se digitale leerruimte, die Spens, kan studente video-opnames van die klasse aflaai, argiefmateriaal bestudeer, of selfs net die klankbaan op hulle selfone laai om later weer as ʼn podsending te luister.
  • Die kombinasie van ʼn klaservaring met afstandsonderrig maak studies toeganklik en bekostigbaar.
  • Studente kry die geleentheid om professionele netwerke te bou en studiegroepe te vorm, wat bevorderlik is in die vorming van ʼn afgeronde student.

 

Studente kan reeds vanjaar aansoek doen om op die blokmodel te studeer vir die 2019-akademiese jaar.